Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Breytenbach glo in hospitaal behandel

Willem Breytenbach, 'n voormalige senior bestuurder van Media24 en oudonderwyser wat deur minstens 16 mans van seksuele mishandeling beskuldig word, het glo verlede week probeer om sy eie lewe te neem op ’n strand naby Mosselbaai.

Lede van die buurtwag het op 15 November die rustige Tergniet-strand gepatrolleer toe hulle net ná 21:00 afkom op ’n man wat op die strand lê. Hy het geen reaksie getoon nie, sê ’n bron met regstreekse kennis van die voorval. Die bron was nie bereid om geïdentifiseer te word nie.

Die buurtwaglede het ook ’n viertrek-bakkie gesien wat daar naby geparkeer was. Dit was nie gesluit nie. Hulle het dit by die polisiekantoor op Groot-Brak aangemeld en die polisie het ’n ambulans ontbied.

Willem Breytenbach
Willem Breytenbach

Volgens die bron was die man in ’n ernstige toestand toe die ambulans Vrydagnag daar aankom.

“Hy het glo verskillende soorte pille in ’n sak fyngemaak en dit saam met alkohol gedrink,” sê die bron.

’n Plastiekwaterbottel met ’n mengsel van alkohol daarin is naby hom gevind. Sy toestand was kritiek.

“Maar hy het asemgehaal.”

Twee bronne by die polisiekantoor het die voorval bevestig.

’n Offisier, wat nie geïdentifiseer wil word nie omdat hy nie met die media mag praat nie, het al die feite bevestig.

In daardie stadium het die meeste mense op die strand egter geen idee gehad dat dié persoon sentraal staan tot die aantygings wat gemaak word in die kopieskrywer Deon Wiggett van Johannesburg se vier podsendings getiteld My Only Story nie.

Sedert die podsendings aan die lig gekom het, lyk dit asof Breytenbach ’n sluier getrek het oor sy lewe soos dit was.

Hy het sy digitale bemarkingsonderneming Lightspeed Digital Media gesluit en sy 30 werknemers is sonder werk. Hy het sy huis in ’n gegoede buurt in Kaapstad verlaat, al sy sosialemediarekeninge en die webtuiste van sy onderneming gesluit en alle telefoonoproepe geïgnoreer.

Netwerk24 en daarna ook News24 het hom opgespoor in Reebok, ’n mooi stranddorpie naby Mosselbaai, waar hy by sy bejaarde ma bly. Dit is nie ver van die rustige strand waar hy homself glo om die lewe probeer bring het nie.

Hy is om kommentaar gevra, maar hy het die joernaliste gevra om te loop.

“Met respek, ek het niks om te sê nie.”

p
Willem Breytenbach

Op ’n vraag of hy in die hospitaal was, het Breytenbach gesê dit gaan goed met hom.

Toe die mense wat verlede Vrydagaand op hom afgekom het, sien hy haal nog asem, het hulle dadelik probeer vasstel watter pille in die plastieksak is. Dit word gedoen voordat medisyne toegedien word om ’n oordosis te probeer omkeer sodat die pasiënt nie iets inkry wat sy toestand vererger nie.

Een van die mense daar het hom geken en dit was deur dié mens dat die paramedici sy ma kon kontak. Hulle het gehoor hy gebruik sterk slaapmiddels. Toe het hulle op grond van die voorskrif probeer bepaal hoeveel daarvan hy kon gedrink het. Dit word gedoen deur te kyk na die datum waarop hy die medisyne gekry het, die dosis en die hoeveelheid pille wat weg is.

Die nodige medisyne om die proses om te keer is toegedien en tot almal se verligting het die pasiënt bygekom. Hy is toe in ’n baie verwarde toestand na die Life Bay View-hospitaal in Mosselbaai gebring waar hy glo opgeneem is vir behandeling in die waakeenheid.

In Wiggett se podsendings beskryf hy hoe hy Breytenbach, wat hy aanvanklik "Jimmy" genoem het, opgespoor het en hoe Breytenbach glo baie seuns en jong mans – ook Wiggett self – seksueel gemolesteer het sedert minstens 1990.

“Jimmy is gek na die strand,” sê Wiggett herhaaldelik en verwys na die baie foto’s van hom saam met jonger mans by die see.

Klagte van molestering is Maandag by die polisie ingedien en News24 is in besit van drie verklarings waarin Breytenbach betrek word by beweerde voorbereiding, seksuele aanranding en wat vandag as verkragting van minderjariges beskou sal word. Die polisie ondersoek die klagte.

Van die beweerde voorvalle het glo plaasgevind toe Breytenbach tussen 1989 en 1994 skoolgehou het. Ander was glo toe hy tussen 1995 en 2003 ’n verslaggewer by Die Burger was en vir Naspers se skoolkoerantprojek verantwoordelik was.

Media24 doen sy eie ondersoek en Breytenbach se personeellêer vir die tydperk 1994 tot 2014, toe hy daar aan diens was, is nagegaan. Daar was geen tekens van soortgelyke aantygings teen hom nie.

Vrydag het Ishmet Davidson, uitvoerende hoof van Media24, in 'n e-pos personeel met nuwe inligting gevra om na vore te kom en dit aan die maatskappy en polisie bekend te maak. Die maatskappy bied ook as deel van hul deurlopende welstandprogram beradingsdienste aan vir enige personeel wat geraak word terwyl die ondersoeke na Breytenbach voortduur.

Media24 het in 'n verklaring bygevoeg die e-pos is in die gees van wedersydse vertroue gestuur – om die maatskappy se beleid van geen verdraagsaamheid van enige vorm van teistering of misbruik in die werkplek te beklemtoon, personeel aan te moedig om enige voorvalle aan te meld met die versekering dat dit vertroulik hanteer sal word en om hulle te herinner dat toegang tot berading en ander ondersteuningsdienste te alle tye beskikbaar is.

* Ao. Rowan Andrews is die ondersoekbeampte in die saak. Hy het lede van die publiek met inligting gevra om hom by 082 729 8155 of 021 590 1001 te bel.

* Die noodlyn vir die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) vir mense wat hulp nodig het of met iemand wil praat, is 0800 567 567. Hulle doen ook tussen 08:00 en 16:00 telefoniese berading en vanaf 16:00 aanlyn berading op hul webtuiste.

* Netwerk24 is deel van Media24.

Meer oor:  Willem Breytenbach  |  Deon Wiggett
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.