Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Breytenbach was ’n legende’

Die gevierde fotograaf Cloete Breytenbach is Vrydagnag in die Mediclinic Panorama in Kaapstad dood. Hy was 85.

Breytenbach by een van sy Angola-foto’s wat verlede jaar in Portugal uitgestal is. In die middel stap Jonas Savimbi, destyds leier van Unita. Foto: Jaco Marais

Breytenbach – veral bekend om sy foto’s van die ou Distrik Ses, Angola in die laaste dae van Portugese bewind en die Bosoorlog – is een van drie broers wat elkeen in eie reg bekendheid verwerf het. Sy ouer broer is die gedugte soldaat kol. Jan Breytenbach, stigter van 32 Bataljon, en sy jonger broer is die wêreldbekende skrywer en kunstenaar Breyten Breytenbach.

Cloete se vrou, Brenda (59), het Saterdag gesê haar man het twee weke gelede gekla van angina (’n borspyn wat veroorsaak word deur verminderde bloedvloei na die hart).

Vroeër die week is daar ná ’n angiogram besluit op ’n hartvatomleiding. Die operasie, wat Vrydagmiddag gedoen is, het goed afgeloop, maar hy is ná verdere komplikasies Vrydag kort voor middernag dood.

Hy was ’n dapper en hoogs intelligente man.

Brenda sê sy en Cloete is op 22 Desember 1990 getroud.

“Hy was my rots, my monument, my steunpilaar. Hy was ’n legende. Ek kon met hom praat oor die nuus, die politiek . . .”

Sy vertel hy was ongelooflik gesond. “Hy het my moeg gemaak! Hy het elke dag opgestaan met ’n missie. Hy het tuingemaak en my gehelp met kosmaak. Die narkotiseur het gisteraand nog vir my gesê ‘jou man se brein is vlymskerp’.”

Foto’s uit die boek Angola War deur Cloete Breytenbach. Hier is Angolese burgers, naby Pereira D’eca, wat lede van die Suid-Afrikaanse leër bedank vir hul bystand met die ontruimingsprojek.

Sy sê hy was baie lief vir reis.

“Verlede jaar het ons ’n wonderlike twee weke in Portugal gehad.” Dit was toe foto’s wat hy tussen 1967 en 1987 van die oorlog in Angola geneem het, in die stad Porto uitgestal is.

Foto’s wat hy van hoofman Albert Luthuli geneem het, hang in die Guggenheim-museum in New York. Oor die jare is sy werk onder meer deur die tydskrifte Life, Time, Bunte en Paris Match gebruik. Hy het ook twee fotoboeke, Savimbi’s Angola en The Spirit of District Six, gepubliseer.

Unita-guerrillavegters op parade. Foto: Cloete Breytenbach

Breytenbach het verlede jaar in ’n onderhoud met Die Burger sy fotografie-filosofie soos volg verduidelik: “As iemand nie afgeneem wil word nie, dan neem jy hom nie af nie. Ek respekteer ander mense; dis húl private lewe. Ék is die indringer. En die kamera is die indringer. Dis hoekom ek klein kameratjies gebruik, die Leica.”

Anna Breytenbach (50), Cloete se dogter, vertel hy het nog tot op die laaste grappies gemaak.

“Hy was ’n dapper en hoogs intelligente man. Ek sal hom onthou as omstrede, maar ook heeltemal outentiek. Hy het altyd presies gesê wat hy bedoel. Niemand het getwyfel oor waar hulle met hom staan nie.”

Die oudredakteur Ebbe Dommisse, wat saam met Cloete by Die Burger gewerk het, sê Cloete was ’n besonder begaafde man uit ’n besonder begaafde familie.

“As persfotograaf was hy een van die grotes in Suid-Afrika, ’n waarnemer wat elke foto sy eie storie laat vertel het.”

Dommisse sê hy was ook ’n lojale vriend en baie familievas, met ’n gehegtheid aan sy broers, Jan en Breyten, wat alle verskille oorspan het.

Cloete word oorleef deur Brenda en sy vier kinders, Leon Breytenbach (61), Yvette Wyngaard (56), Anna Breytenbach (50) en Anton Breytenbach (47); asook sy broers Jan (86) en Breyten (79).

Meer oor:  Sterfgeval  |  Fotograaf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.