Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Briefie in baadjie gee Knysna-slagoffer nuwe hoop
Quentin Haman met die nuwe baadjie en die brief wat Inge Coetsee in die sakke gelaat het.

’n Handgeskrewe brief in ’n baadjiesak wat Quentin Haman, ’n slagoffer van die Knysna-brande, ontvang het, het sy hele lewe verander.

Die baadjie is deur Inge Coetsee, ’n weldoener van Pretoria, aan die slagoffers geskenk en het uiteindelik by Haman beland. Die baadjie het aan Inge se man, Berto, behoort. Hy het dit in 2004 op sy troudag in Engeland gedra.

Haman vertel hy het op 7 Junie, die dag toe die brande in Knysna uitgebreek het, 45 jaar oud geword. Die meeste van sy en sy ma se besittings is op die plaas waar hulle gewoon het in die brand verwoes.

Die brief wat Inge Coetsee geskryf het.

Hy het laat verlede jaar en vroeg vanjaar hartaanvalle gehad. Hy ontwerp webtuistes en werk van die huis af.

“Omdat dit my verjaarsdag dié dag was, het ek besluit om te ontspan en dit rustig te vat. Die oggend het ons gesien dit brand in die verte. Die wind was erg, maar die brand het verby ons beweeg. Later het die wind gedraai en oor ’n pad gespring. Teen 15:00 het ons die huis ontruim.”

Later het hy teruggekeer om die brand te help blus.

“Teen 20:30 moes ons onttrek en die plaas verlaat. Ek het omstreeks 01:30 teruggekeer en alles was verwoes, insluitende rekenaartoerusting wat ek oor jare bymekaar gemaak het.”

Berto se baadjie

Berto sê hy het die baadjie destyds in Suid-Afrika gekoop en saamgeneem Engeland toe. Die plan was nie om dit op sy troudag te dra nie.

“Dit was bloot om iets warms te hê.”

Uiteindelik het hy dit wel op hul troudag in Cambridge gedra.

Ná die onlangse brande wou Coetsee iets vir die slagoffers skenk.

“Sy het deur ons kaste gegaan. Sy het my gebel en wou hoor of sy die baadjie kan skenk.”

Volgens Berto hou hulle daarvan om te help.

“Ons glo wat jy saai, sal jy maai. Ons gaan gereeld vakansies Keurboomsrivier toe en sal graag vir Quentin wil ontmoet. Die baadjie is nou syne en hy kan dit hou.”

Twee weke later het hy die Knysna Montessori School in Welbedacht besoek om te gaan hulp kry. Hy was siek en het koue koors gehad. ’n Vrou het ’n baadjie wat deur weldoeners geskenk is vir hom gegee om hom warm te maak.

By die skool het hy kos gekry. Eers toe hy weer buite was, het hy gesien dit is ’n baie mooi baadjie. Hy het sy hande in die sakke gesteek en afgekom op die briefie wat Coetsee geskryf het. Sy het onder meer geskryf dat sy hoop die nuwe eienaar sal warmte beleef wanneer hy die baadjie dra.

Quentin sê hy het trane in sy oë gekry toe hy dit lees.

“Op daardie oomblik het ek besef ons het alles verloor, maar ons sal gemaklik wees.”

Hy het later per e-pos kontak gemaak met Coetsee en haar en Berto vir die baadjie bedank.

“Wanneer alles weer op koers is in Knysna, wil ek na Pretoria gaan om Inge en haar man persoonlik te gaan bedank. Ek wou nog altyd so ’n baadjie gehad het. Dit is ’n wonderlike verjaardaggeskenk op die dag toe ek alles verloor het.”


Meer oor:  Knysna-Brande  |  Brief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.