Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Brig.-genl. Chris Gildenhuys groet weermag na 41 jr.
Brig.-genl. Chris Gildenhuys, direkteur operasies van die gesamentlike operasieafdeling van die SANW, en sy vrou, Ruanda. Foto: Marietjie Gericke

Brig.-genl. Chris Gildenhuys, een van Suid-Afrika se formidabelste soldate, is Sondag met ’n weermagparade by 1 Spesiale Diensbataljon (1 SDB) in Bloemfontein gegroet. Hy tree op 31 Oktober ná meer as vier dekades in die weermag af.

Gildenhuys is die direkteur: operasies van die gesamentlike operasie-afdeling van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), ’n pos wat hy sedert 2014 beklee.

Gildenhuys is op die afskeidsparade as ’n wyse leier en ware “gentleman” geloof.

Hy het sy toespraak begin met gelukwense aan die Cheetahs, die Curiebeker-kampioen van die jaar. “Toe ek 41 jaar gelede in Bloemfontein met my diensplig begin het, was daar ook ’n eindstryd wat die Noord-Transvaal in die laaste minute gewen het. Ek is bly die bordjies is Saterdag verhang.”

Gildenhuys het vertel sy ouers het hom as 19-jarige na Pretoria se treinstasie gebring om vir sy diensplig by 1 SDB in Bloemfontein aan te meld en nou, ná bykans 42 jaar, is dit presies dieselfde plek waar die weermag hom groet.

Hy het in sy afskeidsboodskap verwys na die rotsvaste Vrysters met hul gasvryheid. “Ek sê nie vaarwel nie; ek sal altyd hier kom oornag. Die Vrystaat en sy wonderlike mense sal altyd deel van ons gesin se lewe bly.”

Hy het dieselfde vir sy kollegas en die weermag gesê wat hy ook vir hul lojaliteit en vriendskap oor meer as vier dekades bedank het.

Brig.genl. André Retief, bevelvoerende generaal van die leër se pantserformasie, ook nou ’n Pretorianer soos Gildenhuys en ’n jare lange vriend, het ’n simboliese uitdienstree-sertifikaat aan Gildenhuys oorhandig.

Gildenhuys het gesê hy is destyds op ’n ruwe manier in ’n Bedford van die stasie na Tempe vervoer en daarom het hy daarop aangedring om die parade Sondag op die bak van ’n Bedford te verlaat.

Gildenhuys se loopbaan, wat op die parade voorgelees is, het met opleiding by Tempe begin. Daarna het hy as soldaat aan verskeie operasies in Angola en Namibië deelgeneem, onder meer as ’n pantserkar- en gevegstroepe-bevelvoerder.

In 1989 het hy die senior bevelskursus in die weermag voltooi en in 2000 die uitvoerende nasionale sekuriteits-program. Hy het ook die weermag se uitvoerende ontwikkelingsprogram aan die Universiteit Stellenbosch se sakeskool voltooi.

Gildenhuys was van 1990 tot 1993 die bevelvoerder van 1 SDB en van 1994 tot 1996 die bevelvoerder van die pantserskool, albei in Bloemfontein.

Van 1997 tot 1999 was hy Suid-Afrika se militêre attaché in Amerika.

Hy het op 1 Januarie 2000 die bevelvoerende generaal van die leër se pantserformasie van die SANW in Pretoria geword, waarna hy in sy huidige pos aangestel is.

Meer oor:  Marietjie Gericke  |  Bloemfontein  |  Weermag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.