Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Brinks ry weer see toe 1 j. ná ongeluk

Vandag ry dr. Danie Brink, sy vrou, Lise, en hul kinders weer Kaap St. Francis toe vir die vakansie. Op pad soontoe sal hulle waarskynlik weer oorslaap in Theunissen in die Vrystaat.

Nes verlede jaar op 16 Desember . . . maar dié keer is hulle net vyf in die kar. Danie, Lise, hul dogter Mieke (16), Johann (10) en Daniël (3).

André (13) en Rachel (8) is verlede jaar op dieselfde pad dood, 20 km buite Theunissen.

Danie Brink en sy vrou, Lise, by hul drie kinders. Dis ’n jaar ná die ongeluk waarin hulle twee van hul kinders verloor het. Langs Danie sit Mieke (16), dan Johann (10) en agter staan klein Daniël (3) wat hulle almal lekker laat bontstaan.Foto’s: DEON RAATH

’n Band van hul Toyota Land Cruiser het losgekom en Danie, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het beheer oor die motor verloor. Rachel en André is op slag dood. Lise het ernstige kopbeserings opgedoen en haar linkerbeen moes bo die knie geamputeer word.

Mieke en Daniël het ligte beserings opgedoen, Johann het harsingskudding gehad en ’n wond aan sy kop. En Danie ’n stukkende hart.

Lise bars in trane uit.

“Ek kan myself nie help nie. As ek nie die Here geken het nie, het ek lank­al gecrack. Dis al wat my aan die gang hou. ’n Mens wens die hele tyd die tyd wil vinniger verby gaan en dat Jesus moet kom. Dis ’n ou se grootse . . .”

“Begeerte,” maak Danie haar sin klaar. Dan sal hulle almal weer saam wees.

Danie vryf haar hand.

“Lise is nog baie rou,” sê hy.

“Ek kan nie meer musiek luister nie. In goeie tye sou ek ’n traantjie pink as ek mooi musiek hoor, nou is dit te erg,” sê hy.

Ná die verskriklike jaar is die band tussen Danie en Lise nog sterker. Hulle is nou 20 jaar getroud.

“Ons graviteer na mekaar toe. Een van die vroue in die Unitas-hospitaal het vir my gesê die dag toe Lise ontslaan is – hiér kom jul uitdaging. Sy het vir my gesê sy weet van soveel mense wat skei ná hul kinders se dood,” sê Danie.

“Is jy ernstig?” vra Lise.

“Ja, maar joe, ons het maar net ons troos by mekaar gevind, en vind dit steeds by mekaar.”

Lise was 70 dae in die hoësorgeenheid en 21 dae in ’n gewone saal voordat sy met maande van rehabilitasie en terapie begin het.

Nou loop sy al mooi met haar “ou stokbeen”, soos sy na die prostese verwys. ’n Vriendin, Patrys Mostert, het boek gehou van wat alles gebeur het in die weke ná die ongeluk. Elke aand om 20:15 wanneer Danie by die hospitaal uitgeloop het, het hy haar gebel en gerapporteer.

“Ek weet steeds nie wat alles gebeur het nie en staan net verstom. Ek sukkel ook ná my breinbesering. Ek kan nie lekker multitask nie en ek kan nie doen wat ek in die verlede gedoen het nie.

“So, ek vat ’n dag op ’n slag en my behoud is daai vers waar die Here sê elke dag is sy genade genoeg. Ek sê elke aand amen,” sê Lise.

Elke nou en dan sal Danie vir haar ’n bietjie vertel van die tyd ná die ongeluk.

“En dan raak ek so moeg net van luister. Jy weet, ek dink wanneer ’n mens trou, het jy ’n idee met wie jy trou, maar ek het besef hy is soveel meer. Hy is deur soveel swaar, het soveel gewig verloor, die kleintjies wat seergekry het, hy moes die begrafnis reël en kophou en werk.

“En Danie is nie ’n ou wat hou van bloed nie. Hy het al as kind in gr. 1 gereeld in die klas flou geval,” vertel Lise.

“Gereeld,” voeg Danie by, en hulle lag so ’n bietjie.

Met Mieke, Johann en Daniël gaan dit verbasend goed.

“Daniël hou ons almal so besig. As dit nie vir hom was nie, sou ek nie in die oggende kon opkom nie,” sê Lise.

“Ek kan nie net ’n vrou met te veel emosie wees wat die hele dag bly lê nie. Ek moet aangaan vir hulle.”

Hulle praat gereeld oor André en ­Rachel. André was die ekstrovert wat altyd gelag het. Daar is iets van hom in klein Daniël.

Liela (Rachel) wat met ’n waterhofie gebore is, was weer die een wat almal verbaas het met alles wat sy in haar kort lewetjie vermag het.

Danie erken hy is banger om te bestuur sedert die ongeluk.

“Aan die begin het ek net kort afstande gery en as ons ver moes ry, het ek hoogstens 100 km/h gery. Ek verkies dit maar om self te bestuur. Dis erg om ’n passasier te wees. Ons gaan dit rustig vat Sondag (vandag) en as ons moet oorslaap, slaap ons oor,” sê hy.

Lise is self bang vir al die emosies wat wag.

Hulle gaan weer verby die onge­lukstoneel ry.

“Dis nie die eerste keer nie. Ons stop gewoonlik daar en sal weer so maak,” sê Danie en druk Lise se hand.

“Kyk, een ding wat ons darem kan sê, is dat ons stadig vorentoe gaan, en nie al verder afgly in ’n spiraal nie.”

Rachel en André is op slag dood.

suzanne.venter@rapport.co.za

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.