SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Algemeen
Brits nuwe besturende direkteur van ATKV

Afrikaans is die ontstaansrede en hartklop van die ATKV, maar dié organisasie bou ook brûe oor taal-, kultuur- en rassegrense heen, sê Sonél Brits.

Sy is pas as die nuwe besturende direkteur van die ATKV aangestel. Brits het in die posisie waargeneem sedert Deidre Le Hanie se bedanking in Mei vanjaar. Brits werk al agt jaar voltyds vir die ATKV as die maatskappysekretaris.

“Ek was ook verantwoordelik vir die lede-afdeling,” het sy Donderdag gesê.

Brits het ’n LLB- en BCom-regsgraad.

Hoewel sy aanvanklik getwyfel het of sy vir die vakante posisie aansoek moet doen, het sy dit so geniet om waar te neem dat sy dié dapper stap tog gedoen het. “Die ATKV en dit wat ons doen, lê my baie na aan die hart. Ons is ’n wonderlike span.”

Sonél Brits Foto: Verskaf

Volgens Brits het die ATKV die afgelope jaar hard aan ’n nuwe strategie, onder meer ’n sterk kliënte-gedrewenheid, gewerk. “Ons wil ’n netwerk en platform skep vir alle mense vir wie Afrikaans belangrik is om die taal in sy verskeidenheid en op verskillende vlakke te vier.”

Brits sê baie jonger mense vir wie Afrikaans ’n tweede of derde taal is, neem aan die ATKV se projekte deel. Dit sluit uitreikprojekte in townships (soos Soweto), asook debat- en toneelkompetisies in.

“Ons het byvoorbeeld ’n Zoeloe-meisie gehad wat een van ons spelkompetisies gewen het. Baie van die veral jonger tweede- en derdetaalsprekers neem met ’n oop gemoed aan Afrikaans deel. Dis grootliks te danke aan die werk wat ons takstrukture in gemeenskappe op grond van hul spesifieke behoeftes, met taal as die samebindende faktor, doen. Die takke lewer ’n groot bydrae om ons missie en visie uit te leef.”

Brits is ook opgewonde oor die werk wat die ATKV doen om mense op die verskillende variante van Afrikaans trots te maak. “Ons doen dit onder meer deur met toneel ’n platform te skep vir mense om hul verhale op hul eie manier te vertel, en ’n trots te ontwikkel in die variëteit van die Afrikaans wat hulle praat.”

Die ideaal wat Brits in haar nuwe rol wil uitleef, is om die ATKV se waardes, waarby sy “groot aanklank” vind, te beliggaam. “Ons begin by Afrikaans, maar bou ook brûe deur samehorigheid en begrip tussen verskillende groepe mense te skep.”

Bridgitte Mathews, voorsitter van die ATKV se direksie, het Donderdag op die organisasie se webwerf gesê die ATKV het “volle vertroue in Sonél se vermoë om die organisasie te posisioneer as die voorkeurtaal-en-kultuurorganisasie vir almal vir wie Afrikaans na aan die hart lê, nasionaal en internasionaal”.

Brits is getroud met Roelof van der Breggen, wat in die bankwese werk. Hulle het ’n dogter, Moné (12). Die gesin woon in Randburg, Gauteng.

Meer oor:  Sonél Brits  |  Atkv
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.