Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Britz se SA familie geskok oor sy moord in Frankryk

Die familie van Barend Britz (63), oud-Transvaal-rugbyspeler, was baie geskok toe hulle Vrydagoggend die nuus kry dat hy in sy kroeg in die suide van Frankryk vermoor is.

“Dis baie erg, ’n mens dink mos óns bly in ’n verskriklike land en dat so iets nie daar sal gebeur nie,” het Elize Britz, Barend se skoonsuster, Vrydagmiddag telefonies uit haar tuisdorp Piet Retief in Mpumalanga gesê. “Ons weet self nog nie presies wat gebeur het nie.”

Barend Britz en sy seun, Barend jr. Foto: Facebook

Barend het in sy jonger dae in die laat 1980’s op slot vir die destydse Noord-Transvaal en Transvaal-rugbyspanne uitgedraf. Hy, sy vrou, Reinette, en hul drie kinders, Jeanne, Surenzia en Barend jr., is omstreeks 1990 na Frankryk. Barend het toe klubrugby in die stad Perpignan in die suide van Frankryk gaan speel.

André Bester, ’n vriend van hom, het Vrydag gesê hoewel die aanvanklike kontrak net oor ’n paar jaar gestrek het, het Barend hom so goed van sy taak gekwyt dat die Franse vir hom ’n kroeg gegee het. “Hy was ’n held.”

Die gesin het hulle daarna permanent in Perpignan gevestig en woon steeds daar. Volgens Elize woon al hul kinders, wat nou volwasse is, ook in Frankryk. Barend jr. speel ook rugby.

“Reinette is so erg getraumatiseer oor Barend se dood dat sy nie eens kan praat nie,” sê Elize. “Ons sukkel daarom nog om enige besonderhede oor die gebeure te kry en weet ook nog nie wat die begrafnisreëlings is nie.”

Netwerk24 het berig Barend is blykbaar ná die aanval op hom in sy kroeg, Bar and Britz, in die hospitaal dood. Die Franse media het berig sy aanvaller het glo stoele in die kroeg rondgegooi en vensters gebreek, waarna hy Barend verskeie kere oor die kop geslaan het. ’n Ooggetuie het volgens L’Indépendant, ’n streekkoerant in die gebied, gesê die aanvaller het die kroeg omstreeks 21:00 binnegaan en dat Barend hom vergeefs probeer kalmeer het.

SupaRugby berig twee mans is in hegtenis geneem.

Barend het tot sy uittrede in 1996 vir Perpignan gespeel.

Meer oor:  Barend Britz  |  Frankryk  |  Geskok  |  Moord  |  Familie  |  Kroeg  |  Rugbyspeler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.