Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Broers langs mekaar begrawe; vriend veras ná ongeluk

’n Matrikulant van die Hoërskool Stoffberg in Brakpan, sy ouer broer en ’n vriend het Saterdag saam in ’n motorongeluk aan die Oos-Rand gesterf.

“Ek het nooit gedink dat ek twee kinders gelyktydig sal verloor nie,” het Alette Pieterse, ma van Ruan Pieterse (17) en Armand Brits (33), gesê.

Lajos van Zyl (32), ’n vriend van die twee broers, is ook in die ongeluk dood.

Die twee broers, Ruan Pieterse (17) en Armand Brits (33), het Saterdagaand saam in Springs aan die Oos-Rand verongeluk.Foto: Facebook

Armand en Ruan se begrafnis is Woensdag om 12:00 in die PPK Lighuis-gemeente in Brakpan. Die broers sal langs mekaar begrawe word.

Lajos se verassingsdiens is Vrydag om 14:00 in die kapel van die Sincere-begrafnisdiens in Brakpan.

Die oorsaak van die ongeluk omstreeks 23:00 in Zigzag-weg, Springs, is onbekend, het News24 vroeër berig.

Toe ER24-paramedici by die toneel opdaag, was die insittendes in die bakkie vasgekeer. Die drie vriende is op die toneel dood verklaar.

Anita (27), Armand se vrou, wat ook in die bakkie was, het beserings aan albei haar arms opgedoen. Reddingspersoneel het sowat ’n uur gesukkel om haar uit die bakkie te bevry.

Sy is Dinsdag vier uur lank geopereer en sterk in die Sunshine-hospitaal in Benoni aan. Sy sal Donderdag na verwagting met fisioterapie begin.

Hul vriend Lajos van Zyl (32) het ook in die ongeluk gesterf. Foto: Facebook

Alette sê haar seuns was gelukkige mense. “Hulle was onafskeidbaar. God het ’n plan gehad, want ek dink nie die een sou sonder die ander kon leef nie. Armand het alles vir Ruan gedoen,” sê sy.

Armand was baie trots op sy werk as nutsman. Die broers het nog Saterdag saam aan ’n ingeboude braai by hul ma se huis gewerk.

“Hulle sou dit dié week klaargemaak het, maar nou sal my skoonseun (Flippie van der Westhuizen) dit doen. Hy sal ook met Armand se onderneming voortgaan,” sê Aletta.

Ruan het gelewe vir die kerk en sy jeugaande. “Hy was my baby,” sê sy.

“My hart is bitter seer, maar ter wille van my dogter (Bernadette van der Westhuizen), skoondogter (Anita) en die kleintjies moet ek sterk wees. My hart is in stukke.”

Ruan Pieterse (17). Foto: Facebook

Armand word oorleef deur Anita en hul drie kinders.

Barend van Tonder het gesê sy jonger broer, Lajos, was die lojaalste mens wat hy geken het en ’n regte terggees.

“Hy sou enigiets vir sy familie en vriende doen. Hy het altyd belang gestel en ondersteuning gebied,” sê Barend.

“Hy was ’n goeie pa en ’n goeie man. Hy het Saterdag in ’n stemboodskap aan my gesê hoe trots hy op sy seun is wat so oulik rugby speel.”

Die broers het al saam in ’n sewesrugbytoernooi gespeel.

Lajos word oorleef deur sy vrou, Alyssa, en vier kinders.

Meer oor:  Hoërskool Stoffberg  |  Armand Brits  |  Lajos Van Zyl  |  Ruan Pieterse  |  Brakpan  |  Oos-Rand  |  Begrafnis  |  Motorongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.