SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Algemeen
Brugtragedie: Hartseer en troos
marnus nagel, rugbymaats
Marnus Nagel se rugbymaats het rugbyhemde teen die skool se heining gehang, mekaar daarna omhels, gekniel en snikkend gebid. Foto: Felix Dlangamandla

Shamonè Steynvaart, een van die slagoffers van die betonblok-tragedie in Vanderbijlpark, is van onder haar arms verlam.

Shamonè Steynvaart
Shamonè Steynvaart: Verlam van onder die arms.Foto: Facebook

’n Lang pad van rehabilitasie lê vir dié gr. 9-leerling aan die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark voor. Dokters in die Life Wilgers-hospitaal in Pretoria het Saterdag nog gespook om deur middel van ’n operasie lewe in Shamonè se onderlyf te herstel nadat rugwerwels en haar rugmurg beseer is. Sy het ook ’n kopwond.

’n Kennis van die familie het vroeg Sondagmiddag op ’n gebedsblad op Facebook vir die oorlede en beseerde kinders geskryf dis nou bevestig dat Shamonè van onder haar arms verlam is.

“Die rug is versterk en so ook die arm met penne. Sy sal sodra dit beter gaan, oorgeplaas word vir rehab sodat die bo-arms versterk kan word sodat sy kan leer om haarself in en uit ’n rolstoel te help.”

Shamonè het blykbaar nog baie pyn, maar kan praat en is nie meer in ’n kritieke toestand nie. Terwyl sy ’n ondenkbaar duur prys betaal, is vier kinders teen Sondagmiddag reeds dood nadat ’n loopbrug Vrydag by die skool ineengestort het.

Die rug is versterk en so ook die arm met penne. Sy sal sodra dit beter gaan, oorgeplaas word vir rehab sodat die bo-arms versterk kan word sodat sy kan leer om haarself in en uit ’n rolstoel te help.

Marnus Nagel (16) het vroeg Sondagoggend die jongste slagoffer van die ramp geword toe hy aan ernstige, veelvuldige beserings, onder meer inwendige bloeding, dood is.

Roydon Olckers (17), Jandré Steyn en Marli Currie (albei 13) is reeds Vrydag op die toneel dood nadat ’n betonblok van die loopbrug losgekom het. Dit het op kinders daaronder geval, terwyl kinders wat bo-op die brug geloop het, ook geval het en beseer is.

Jennifer Bothma
Jennifer Bothma (regs) is nog in die Mediclinic Vereeniging se waaksaal met ’n heup- en pelvisbreuk. Haar identiese tweelingsuster, Jessica, by haar op die foto, het nie seergekry nie. Foto: Facebook
Chantelle van den Berg
Chantelle van den Berg is nog in die Mediclinic Vereeniging se waaksaal met ’n gebreekte bekken en enkel. Foto: Facebook
Nicole Nel
Nicole Nel is in die Mediclinic Vereeniging se waaksaal met ’n gebreekte kakebeen, skouer, bekken en femur. Foto: Facebook

Hartseer tonele

hoërskool driehoek
Marnus Nagel se rugbymaats het dié boodskap aan hom op 'n rugbytrui geskryf. Foto: Felix Dlangamandla

Intussen het hartseer en emosionele tonele hul Sondag by die skool afgespeel waar honderde mense die skool besoek het terwyl ’n see van blomme en kaartjies teen die skoolheining gelê het. Kerse is ook aangesteek vir leerlinge wat dood en beseer is. Kinders het in groepies, geklee in sportklere van die skool, gestaan en bid. Selfs mense wat nie kinders in of bande met die skool het nie, het daarheen gegaan om te bemoedig en medelye te toon.

Die tragedie het mense landwyd geruk. Pres. Cyril Ramaphosa het reeds Vrydag, kort nadat die nuus skokgolwe veroorsaak het, in ’n mediaverklaring sy innige meegevoel betuig. “Dis ’n tragedie wat alle Suid-Afrikaners raak. Ons het jong mense verloor wat besig was met die belangrikste taak – hul opvoeding. Dit is my hoop dat die mense van ons land en van die Vaaldriehoek-gebied in hierdie tyd van rou as een sal saamstaan om die Hoërskool Driehoek-gemeenskap te ondersteun.”

LEES OOK: Marnus was ’n ‘omgeebeertjie’ , sê bedroefde ma

Die meeste van die sowat 23 beseerde kinders wat hoofsaaklik beenbreuke opgedoen het, herstel intussen goed. Enkeles se toestand is nog baie ernstig.

Cheverné Duvenhage lê met gebreekte rugwerwels en heupe in die Netcare Union-hospitaal in Alberton. Sy het ook inwendige beserings, onder meer ’n nierbesering, en word moontlik Maandag geopereer.

Cheverné Duvenhage
Cheverné Duvenhage: gebreekte rugwerwels en heupe en inwendige bloeding. Foto: Facebook

Ook Tasha Opperman word Maandag in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg geopereer om haar gebreekte bekkenbeen te heg. Drie meisies wat in die Mediclinic Vereeniging se waakeenheid is, is bestendig, maar hulle is baie “emosioneel en stil”, sê Selka-Ann Badenhorst, ’n hospitaalwoordvoerder.

Jennifer Bothma (15) se heup en pelvis is gebreek. Haar identiese tweelingsuster, Jessica, is nie beseer nie. Chantelle van den Berg (17) se regterenkel en bekken is gebreek terwyl Nicole Nel (13) se kakebeen, skouer, bekken en een femur gebreek is. Sy is reeds geopereer, maar moet nog operasies ondergaan.

Die meeste van die ander beseerde leerlinge in hospitale in die Vaaldriehoek is van waaksale na gewone sale oorgeplaas en van hulle is reeds ontslaan.

LEES OOK: Só sterk beseerdes aan 

Jessica Rogowski
Jessica Rogowski: Gekraakte linkerbladbeen.Foto: Facebook
Monya Pelser
Monya Pelser: Sy was vasgekeer onder die betonblok, maar is reeds ontslaan met geskeurde ligamente. Haar beste vriendin, Marli Currie, het onder die betonblok gesterf. Foto: Facebook
Jacques Fourie
Jacques Fourie: Gebreekte enkel en heup uit potjie.Foto: Facebook
Beseer: Vanessa Slabbert.Foto: Facebook
Sifiso Tshabalala: Moontlik rug- en nierbeserings. Dit is nie bekend wie die ander mense op die foto is nie. Foto: Facebook
Milita Weber: Beseer, maar reeds oorgeplaas na ’n gewone saal.Foto: Facebook
Jennifer Delport
Beseer: Jennifer Delport. Foto: Facebook
Tasha Opperman
Tasha Opperman word Maandag in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg geopereer om haar gebreekte bekkenbeen te herstel.Foto: Facebook

Skok, meelewing

Ds. Hannes Nagel van die NG kerk Vanderbijlpark-Oos sê die hele dorp is nog diep geskok.

“Mense was vanoggend in die kerk baie emosioneel en het gehuil toe ons voorbidding vir die betrokke ouers en kinders gedoen het. Elkeen hier word geraak, want al is jou kind nie self in die skool nie, het jy familie, vriende of kennisse met kinders in die skool.”

Nagel sê altesame 16 sielkundiges en verskeie maatskaplike werkers het teen laat Sondagoggend gratis berading aangebied vir onderwysers, kinders en ouers op kort en lang termyn.

Een meisie het byvoorbeeld ’n maat onder die puin uitgetrek, terwyl haar sussie net-net van die vallende betonblok kon wegkom.

“Dis belangrik dat almal wat die gebeure gesien het, vinnig berading kry om te ontlaai. Een meisie het byvoorbeeld ’n maat onder die puin uitgetrek, terwyl haar sussie net-net van die vallende betonblok kon wegkom. Ons het reeds met berading begin.

“Ek vergader môre ook met die skool om alles te help koördineer. Dis belangrik dat die onderwysers gou berading kry sodat hulle ook die kinders kan bystaan. Die onderwysers is ons hande, voete en monde op grondvlak.”

Nagel sê dis aangrypend hoe meelewend die plaaslike gemeenskap is.

Gift Moerane, wat onlangs as nuwe burgemeester van die Emfuleni-munisipaliteit in Vanderbijlpark ingehuldig is, het gesê sy eerste dag as burgemeester was ook “die hartseerste dag” van sy lewe. “Die prentjie van ons onskuldige kinders se dooie liggame wat uit die puin verwyder word, sal my nog lank bybly.” Moerane het inwoners gevra om saam te staan om die families in rou by te staan, in die gees van ubuntu.

Daleen Nagel
Daleen Nagel, Marnus Nagel se ma, word voor die skool se ingang vertroos. Foto: Felix Dlangamandla

Baie berading

Sielkundiges en beraders van onder meer die Noordwes-Universiteit (NWU) is betrokke by die verwerkingsproses. Harm Stavast, hoof van studenteontwikkeling op die Vaaldriehoekkampus, sê diegene wat geraak word, moet so gou moontlik berading ontvang om die ontwikkeling van posttraumatiese stresversteuring (PTSV) te verhoed. “Om te wil huil en kwaad te wees ná so ’n tragedie is normaal. Seuns is meer geneig as meisies om hul emosies te internaliseer. Leerlinge moet mettertyd oor hul emosies praat, verkieslik vroeër as later.”

Bernadine Rust, ’n berader wat in traumabehandeling spesialiseer en ook gaan help, sê die leerlinge se lewens gaan waarskynlik nooit weer dieselfde wees as voor 08:00 Vrydagoggend nie. “Jy kan gaan lê, of jy kan iets hiermee probeer doen. Hoewel dit baie hartseer bly, kan daar magic ontstaan. Ons sien klaar op sosiale media hoe die hele gemeenskap ingryp om die skool te ondersteun.”

hoërskool driehoek, blomme
Blomme ,kaartjies en sagte speelgoed Sondag buite die Hoërskool Driehoek se ingang.
Marnus Nagel
Wyle Marnus Nagel. Foto: Verskaf

Talle kritiseer BLF

Solidariteit, die Menseregtekommissie (MRK), die Ahmed Kathrada-stigting, DA, VF Plus en Cope het skerp kritiek uitgespreek teen Lindsay Maasdorp, BLF-woordvoerder, se uitlatings ná die tragedie. Hy het die wit kinders se dood verwelkom as ’n straf weens die koloniale verlede. Solidariteit het Sondag gesê hy gaan klagte van crimen injuria teen Maasdorp by die gelykheidshof indien. Solidariteit glo in die lig van die Vicki Momberg- en Penny-Sparrow-presedente kan Maasdorp swaar gestraf word en selfs tronk toe gaan.

Die DA en VF Plus het gesê hulle gaan Maasdorp by die MRK verkla. Cope wil Maandag ’n klag van haatspraak teen Maasdorp by die Vanderbijlpark-polisiestasie indien.

Andile Mngxitama, president van die BLF, het Sondag gesê die party sal Dinsdag op ’n mediakonferensie Maasdorp se uitlatings “verduidelik”.

“Die DA is net paniekerig omdat hulle vreesbevange is vir die BLF. Niks sal ons keer om aan die verkiesing deel te neem nie.”

Verslagspan: Susan Cilliers, Christiaan du Plessis, Elise Tempelhoff en Felix Dlangamandla

Talle kritiseer BLF

Solidariteit, die Menseregtekommissie (MRK), die Ahmed Kathrada-stigting, DA, VF Plus en Cope het skerp kritiek uitgespreek teen Lindsay Maasdorp, BLF-woordvoerder, se uitlatings ná die tragedie. Hy het die wit kinders se dood verwelkom as ’n straf weens die koloniale verlede. Solidariteit het Sondag gesê hy gaan klagte van crimen injuria teen Maasdorp by die gelykheidshof indien. Solidariteit glo in die lig van die Vicki Momberg- en Penny-Sparrow-presedente kan Maasdorp swaar gestraf word en selfs tronk toe gaan.

Die DA en VF Plus het gesê hulle gaan Maasdorp by die MRK verkla. Cope wil Maandag ’n klag van haatspraak teen Maasdorp by die Vanderbijlpark-polisiestasie indien.

Andile Mngxitama, president van die BLF, het Sondag gesê die party sal Dinsdag op ’n mediakonferensie Maasdorp se uitlatings “verduidelik”.

“Die DA is net paniekerig omdat hulle vreesbevange is vir die BLF. Niks sal ons keer om aan die verkiesing deel te neem nie.”

Meer oor:  Brugtragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.