Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Brugtragedie: ‘Die Here huil saam met julle’

’n 17-jarige matriekleerling van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark en twee 13-jarige leerlinge is Vrydag dood in ’n tragedie waarvan die oorsaak nou deel is van ’n polisieondersoek.

Marli Currie (13). Foto: Facebook
Roydon Olckers (17). Foto: Verskaf
Jandré Steyn (13). Foto: Facebook

Roydon Olckers (17), ’n matriekleerling, Jandré Steyn (13) wat in gr. 8 was en Marli Currie (13) ook in gr. 8 is dood toe ’n betonblok by die skool op hulle geval het.

Nog 23 leerlinge is beseer waarvan vier Vrydagaand nog in ’n kritieke toestand in die Netcare Unie-hospitaal in Alberton was, twee van hulle is aan ventilators gekoppel.

Die leerlinge het omstreeks 08:00, net ná die openingsbyeenkoms, uit die skoolsaal na hul klaskamers gestap. Hulle het onderdeur ’n loopbrug geloop wat die skoolgeboue verbind.

’n Betonblok omtrent so groot soos ’n Golf in lengte en breedte het uit die loopbrug losgeskeur en op die kinders geval.

“Skielik het ek net beton sien val en bloed, baie bloed,” sê Rolandi Venter (16) wat net ’n paar meter van die toneel af was toe die betonblok meegegee het.

Die loopbrug by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark waarvan ’n deel Vrydagoggend op leerlinge geval het. Foto: Twitter/@antonieroos

Sy het in trane vertel hoe sy van skok so gebewe het dat sy skaars haar pa, Jacques, kon bel.

Terwyl hy onmiddellik teruggedraai het skool toe, het onderwysers en leerlinge verbete probeer om die betonblok te lig.

“Dit is te swaar jy kan dit nie met jou hande optel nie. Hulle (ouers en onderwysers) het domkragte uit hul voertuie gaan haal om die beton te help lig,” sê Venter.

’n Voorlaaier is later gebruik om die betonblok te lig.

In videomateriaal van die toneel wat ’n ouer van die skool aan Netwerk24 verskaf het, probeer selfs jong kinders tevergeefs hul skoolmaats red terwyl gille opklink.

Loeiende sirenes het deur die strate om die skool opgeklink toe ambulans na ambulans na die skool gejaag het. Debbie Coetzee, ’n ouer wat ook inderhaas na die skool toe gery het, is ernstig beseer toe sy in ’n botsing betrokke was.

By die skool het nooddienswerkers gesorg dat leerlinge behandeling kry vir onder meer heup- en enkelbreuke voordat hulle per ambulans na hospitale geneem is. Van die mees ernstig beseerde leerlinge is per helikopter vervoer.

Groepe ouers, onderwysers en leerlinge het gebedskringe op die skoolterrein gevorm en mekaar vertroos.

Die blok beton het op leerlinge geval toe hulle ná die saalopening op pad na hul klaskamers was. Foto: Twitter/Slindelo_M's

Vrae oor instandhouding

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het die skool besoek en op ’n nuuskonferensie sy medelye teenoor Hein Knoetze, die skoolhoof, en die skoolgemeenskap betuig.

“Alle leerlinge moet gehelp word by hospitale, ook dié sonder mediese fondse. Die departement sal die koste dra.” Lesufi sê ook traumaberading vir die sowat 1 000 leerlinge aan die Hoërskool Driehoek geniet voorrang. “Dit is ’n massiewe taak om die kinders te troos.”

Lesufi sê hy kan hom nie uitlaat oor die toestand van die loopbrug voor die tragedie nie.

Buang Jones, bestuurder van die Menseregtekommissie (MRK) in Gauteng, het ook die skool besoek en sê die MRK gaan ondersoek instel. Hy sê die MRK is bewus daarvan dat sekere strukturele verbeterings nié in 2018 by die 45 jaar oue skool gedoen is nie.

Die provinsiale onderwysdepartement en polisie sal ook ondersoek instel oor die loopbrug wat meegegee het.

“Niemand weet wat gebeur het nie. Ons weet nie of dit nie instand gehou is nie,” sê Elija Mhlanga, woordvoerder van die nasionale onderwysdepartement.

Leerlinge troos mekaar voor die skool. Foto: Simon Sonnekus

Of daar ander skole in die land is wat dringende instandhouding verg, sê hy “elke skool kort instandhouding”.

“Ek is bekommerd oor jou konstante verwysing na instandhouding,” het Mhlanga aan Netwerk24 gesê.

Die onderwysvakbonde, SAOU en Sadou, het op die voorval gereageer. Só ook die DA, VF+ en die EFF wat almal hul medelye betuig het en gevra het dat die veiligheid van leerlinge voorop gestel word.

“’n Span ingenieurs moet aangestel word om skole se veiligheid na te gaan en Lesufi van raad te bedien,” sê die EFF in sy verklaring.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys het, haar medelye betuig met die families van die oorledenes. “Mens kan jou nie voorstel watter trauma hierdie ouers deurgaan nie, veral die wat nie hul kinders kan uitken weens die erns van hul beserings nie. Ek dink aan julle en bid vir julle in die moeilike tyd,” sê sy in ’n mediaverklaring.

Sommige leerlinge het tydens die kerkdiens verbande om hul arms gehad, terwyl talle nog net so in hul skoolklere daar was.

Teddiebere en kerse

Sowat ’n 100 leerlinge en ouers het by die NG Kerk-Vaalrivier berading ontvang.

“Ek het die grootste respek vir hoe Driehoek hierdie hanteer het. Die skoolhoof het gehuil en toe begin werk,” sê ds. Neels de Jager.

Knoetze, die skoolhoof, tree oor ’n paar maande af.

“Die Here huil saam met julle. Ek is ongelooflik trots op die gemeenskap en hierdie kerk. Dit het skaars gebeur en mense het ingegryp.”

Johan Engelbrecht, ’n sielkundige, het mense aangemoedig om hulle voor te berei vir die emosies wat hulle gaan ervaar. “Julle gaan sukkel om te slaap. Daar sal baie emosies wees oor die volgende paar dae, maar sterkte en gebruik die hulp en ondersteuning wat daar is.”

Engelbrecht sê ouers moet hul kinders ook help om voor te berei vir die dag wanneer die skool weer open.

“Dit gaan ’n moeilike dag wees. Dit gaan nie aangenaam wees nie. Berei jou kind voor. Dit gaan vir niemand maklik wees nie.”

Met die uitstap het elke leerling ’n teddiebeer of sagte speelding gekry om hulle te help vertroos.

Inwoners van Vanderbijlpark het Vrydag om 18:00 by die skool se hek bymekaargekom om kerse aan te steek. ’n Muur van blomme en foto’s van die oorledenes was deel van die toneel.

Die kinders by die skool is so vinnig ontruim, dat hulle hul skooltasse by die skool gelos het. Personeel het dit almal bymekaar gemaak en in die saal gaan stoor.

Hulp vir ouers en leerlinge

Die volgende diensverskaffers het aangedui dat hulle met traumaberading kan help.

  • Dr. Adéle Frisby-Lowe, sielkundige, 016 428 4846
  • Ds. Hannes Nagel, NG Oos Gemeente 082 441 5482
  • Johan Engelbrecht, sielkundige, 083 458 8813
  • Dr. Quinton Fourie & Dr. Van Staden: Verdistraat 1, Vanderbijlpark.
  • Verslagspan: Elise Tempelhoff, Ischke de Jager, Jana Marx, Thinus Dippenaar, Simon Sonnekus, Felix Dlangamandla en Marietie Louw-Carstens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.