
Verlam: Shamoné Steynvaart. Foto: Facebook
Facebook
Shamonè Steynvaart is van onder haar arms af verlam.
Sy is een van die leerlinge in die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark wat Vrydag ernstig beseer is toe ’n loopbrug by die skool ineengestort het. Vier leerlinge het sedert die tragedie gesterf.
Dokters in die Life Wilgers-hospitaal in Pretoria het nog Saterdag gespook om lewe in Shamoné, ’n gr. 9-leerling, se onderlyf te herstel. ’n Kennis van die familie het vroeg Sondagmiddag op ’n gebedsblad op Facebook vir die oorlede en beseerde kinders geskryf dis nou bevestig dat Shamonè in haar onderlyf verlam is.
“Met toestemming van Shamonè se ma wil ek net ’n update gee oor hul sonskynkind. Dokters het bevestig dat sy wel van onder die arms af verlam is. Die rug is versterk en so ook die arm met penne.
“Sy sal sodra dit beter gaan, oorgeplaas word vir rehab sodat die boarms versterk kan word, sodat sy kan leer om haarself in en uit ’n rolstoel (te) help. Die familie bedank almal vir hul boodskappe en gebede. Hou aan bid vir Sussa en so ook al die ander beseerde kinders.”
’n Woordvoerder by die hospitaal sê die hospitaal mag geen kommentaar lewer nie.