Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Brugtragedie: 2 slagoffers wéér geopereer

Twee van die meisies wat baie ernstig beseer is in die brugramp by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark moes Maandag operasies ondergaan.

Cheverné Duvenhage (13) is steeds in die waakeenheid in die Netcare Unie-hospitaal in Alberton.

Cheverné Duvenhage (13), ’n gr. 8-leerling, en Vanessa Slabbert (18), ’n matriekleerling, is steeds in die waakeenheid van die Netcare Unie-hospitaal in Alberton.

Cheverné het veelvuldige beserings opgedoen toe ’n loopbrug op 1 Februarie by die skool ineengestort het.

Sy het baie ernstige beserings aan haar maag opgedoen.

Elardus Duvenhage, haar pa, sê sy is Maandagaand omstreeks 19:00 teater toe en het ná 21:00 eers uitgekom.

“Die probleem met haar maag is dat haar maagwand nie sterk genoeg is om te heg nie. Haar hele maaggedeelte is baie swak. Niks weefsel hou nie en niks wil gesond word nie.”

Dokters het nou ná die derde probeerslag besluit om die maagwand met plastiese chirurgie te rekonstrueer.

Haar maagwond is nou oop.

“Dit beteken daar is baie groot risiko’s. Ons het nog ’n baie lang pad wat voorlê,” sê Duvenhage.

Die sangeres Charné Hugo het Maandag by Shamoné Steynvaart (13) gaan kuier. Foto: Facebook

Cheverné is steeds aan ’n ventilator gekoppel en sal vir ten minste die volgende week eers moet aansterk voordat dokters weer aan haar maag sal kan opereer.

“Ai, die arme kind, bid asseblief vir haar,” het haar pa gevra.

Vanessa Slabbert (18) is steeds in die waakeenheid van die Netcare Unie-hospitaal in Alberton.

Vanessa is Maandagmiddag 17:00 teater toe en haar ma, Lizelle Slabbert, sê dokters is tevrede met haar vordering.

Sy het ook ’n ernstige besering aan haar maag opgedoen. ’n Dreineringspyp is tydens Maandag se operasie in haar een sy ingesit. Sy haal ook steeds met behulp van ’n ventilator asem.

Slabbert sê volgens die dokters sal Vanessa nog minstens drie weke in die hospitaal wees.

Sy is steeds in die waakeenheid en sal daarna na die hoësorgeenheid geskuif word, voordat sy na ’n gewone saal geskuif sal word. Daarna sal sy rehabilitasie moet kry.

“Ons sien darem al ’n liggie aan die einde van die tonnel,” sê Slabbert.

Clari Botes (18) is in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg. Foto: Facebook

Intussen sterk Shamoné Steynvaart (13) goed aan in die Mediclinic Muelmed in Pretoria waar sy rehabilitasie ondergaan. Sy is van haar naeltjie af verlam.

Die sangeres Charné Hugo wat saam met Rudi Claase as die Lieflinge optree, het Maandag by Shamoné gaan kuier.

Charné is self in ’n rolstoel.

“Shamoné is ’n vegter en ’n inspirasie vir so baie mense. Dit was lekker om met haar te gesels en een van die dae ry ons resies in die gang.”

Clari Botes (18), ’n gr. 12-leerling, word nog in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg behandel. Haar ma, Ankia Botes, sê sy sterk goed aan en kan al vir langer rukke self in ’n stoel sit. Sy ontvang intensiewe fisioterapie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.