Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Brugtragedie: So sterk beseerdes aan

Terwyl die Vanderbijlpark-gemeenskap rou oor vier kinders wat sedert Vrydag in die Hoërskool Driehoek-tragedie dood is, sterk die meeste van die beseerde kinders goed aan.

Omtrent al die kinders wat aanvanklik in die Mediclinic Emfuleni in Vanderbijlpark se waakeenheid was, is na gewone sale oorgeplaas: Monya Pelser, Jennifer Delport, Jacques Fourie, Milita Weber, Jessica Rabovski, Nico Barnard en Angelique Smit. Volgens ’n hospitaalwoordvoerder is Clari Botes laat Sondagoggend nog in die waakeenheid versorg, terwyl Annastacia Opperman intussen na die Life Wilgers-hospitaal in Pretoria oorgeplaas is. Emfuleni mag nie meer inligting oor die aard van die kinders se beserings verskaf nie.

Jennifer Delport is ook al na ’n gewone saal oorgeplaas.Foto: Facebook
Milita Weber wat aanvanklik in die Mediclinic Emfuleni se waakeenheid was, is al na ’n gewone saal oorgeplaas.Foto: Facebook

Selka-Ann Badenhorst, woordvoerder van Mediclinic Vereeniging, het Sondagoggend gesê van die ses kinders wat aanvanklik daar opgeneem is, is drie nog in die waakeenheid: Jennifer Bothma (15), Nicole Nel (13) en Chantelle van den Berg (17).

Jennifer Bothma (regs) by vermoedelik haar tweelingsuster wie se naam nog nie bekend is nie. Jennifer (15) is nog in die waakeenheid van die Mediclinic Vereeniging. Foto: Facebook
Chantelle van den Berg (17) is ook nog in die waakeenheid van die Mediclinic VereenigingFoto: Facebook

“Hulle het grootliks beenbreuke in onder meer hul bekken en onderlyf opgedoen, maar hul beserings word nog geëvalueer.”

Juan Lee Muller (14) wie se heupbeen gekraak het, is reeds na ’n gewone hospitaal oorgeplaas en dit gaan goed met hom. Sifiso Tshabalala (19) is in ’n bestendige toestand terwyl sy beserings nog geëvalueer word.

Sifiso Tshabalala (19) is in ’n bestendige toestand, maar sy beserings word nog geëvalueer. Foto: Facebook

“Hy is aanvanklik ontslaan, maar weer opgeneem met moontlike rug- en nierbeserings,” sê Badenhorst.

Shamoné Steynvaart (gr. 9) het ernstige rug- en kopbeserings in die tragedie opgedoen en is moontlik verlam.Foto: Facebook

Meer inligting oor Shamoné Steynvaart (gr. 9) wat vroeër ook na die Wilgers-hospitaal oorgeplaas is, was nie onmiddellik bekend nie. Sy is reeds geopereer nadat sy ernstige rug- en kopbeserings in die tragedie opgedoen het en is moontlik verlam.

Ds. Hannes Nagel, ’n NG-predikant in Vanderbijlpark, het Sondag gesê die hele dorp is nog in ’n skoktoestand oor die tragedie by die skool toe ’n loopbrug ineengestort het. “Mense was vanoggend in die kerk baie emosioneel en het gehuil toe ons voorbidding vir die betrokke ouers en kinders gedoen het. Elkeen hier word geraak, want al is jou kind nie self in die skool nie, het jy familie, vriende of kennisse met kinders in die skool.”

Nagel sê 16 sielkundiges en verskeie maatskaplike werkers het teen laat Sondagoggend aangebied om onderwysers, kinders en ouers gratis berading op kort en lang termyn te gee.

“Dis belangrik dat almal wat die gebeure gesien het, vinnig berading kry om te ontlaai en dit te begin verwerk. Ons het reeds daarmee begin. Een meisie het byvoorbeeld ’n maat onder die brug uitgetrek, terwyl haar sussie net-net nie getref is toe die brug ineengestort het nie.

“Ek vergader môre ook met die skool om alles te help koördineer. Dis belangrik dat die onderwysers gou berading kry sodat hulle ook die kinders kan bystaan. Hulle is ons hande, voete en monde op grondvlak.”

Nagel sê hy is baie opgewonde oor mense in Vanderbijlpark se gesindheid om in te spring en te help.

Daar is geen verdere inligting oor Cheverné Duvenhage (regs) wat in die Netcare Union-hospitaal in Alberton behandel word nie.Foto: Facebook
Vanessa Slabbert is in die Netcare Union-hospitaal in Alberton opgeneem. Foto: Facebook

’n Woordvoerder by die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg het Sondagoggend gesê hulle mag geen inligting verskaf oor hoe dit nou met Hillmar Engelbrecht gaan wat daar opgeneem is nie. Ook die Netcare Union-hospitaal in Alberton waar Cheverné Duvenhage, Vanessa Slabbert en Clarice Peens behandel word, wou geen inligting verskaf nie.

Meer oor:  Brugtragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.