Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Brugtragedie: Ma herstel goed ná ongeluk

Die verbetering in die toestand van Debbie Coetzee (46), die ma van Vanderbijlpark wat ernstig beseer is in ’n motorongeluk, is niks minder nie as ’n wonderwerk.

So sê Debbie se man, Kruger Crause (46), nadat hy Dinsdag by haar in die waakeenheid van die Mediclinic Emfuleni was. “Sy is ’n ware vegter en sy gaan hierdeur kom.”

Debbie was Vrydag in ’n ernstige ongeluk toe sy na die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark gejaag het nadat haar dogter Rizaan (15) haar gebel het met die nuus oor die loopbrug by die skool wat ineengestort het.

Kruger Crause en sy vrou, Debbie Coetzee. Foto: Facebook

Sy is in haar Ford Eco Sport by ’n verkeerslig deur ’n ander motor getref en uit haar motor geslinger.

Crause sê Debbie kan moontlik nog Dinsdag van ’n asemhalingsmasjien afgehaal word nadat sy Maandag uit ’n medies geïnduseerde koma bygebring is.

Breinskanderings wys daar is “dooie kolle” wat moontlik haar spraak, balans en geheue kan beïnvloed.

“Ons is net so dankbaar dat sy ons Maandag herken het toe ons haar besoek het,” sê Crause.

Crause sê sy vrou se oë was oop, sy het hom en die kinders herken. “Sy het probeer praat, maar weens die pype in haar mond kon sy nie. Sy het ons hande met albei haar hande gedruk.”

Chalene Coetzee by haar ma, Debbie, wat in ’n motorongeluk in Vanderbijlpark beseer is. Foto: Facebook

Hy sê sy vrou het hom Vrydag gebel en gesê sy is op pad skool toe nadat Rizaan gebel en gesê het “dis chaos by die skool nadat ’n brug ingeval het”.

“Ek het vir haar gesê sy moet veilig bestuur. Toe ek haar later bel, kon ek haar nie in die hande gekry nie,” sê Crause.

Hy het kort daarna ’n oproep gekry van ’n vrou wat op die toneel by Debbie was.

Debbie se ander dogter, Chalene Coetzee, het Maandagaand op Facebook geskryf: “Ek het vir mamma gesien sy het die eerste keer vandag haar oë oopgemaak, sy het baie baie seer gekry! Sy is nog in ICU en gaan nog baie lank daar wees.”

Chalene sê haar ma het haar hand styf vasgedruk en sy het haar kop geskud “om ja of nee te wys”, toe hulle haar vrae gevra het.

“Ons wag al van Vrydag af vir dié dag. Ons is almal baie verlig.”

Meer oor:  Mediclinic Emfuleni  |  Debbie Coetzee  |  Vanderbijlpark  |  Brugtragedie  |  Ongeluk  |  Herstel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.