Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Brugtragedie: Só gaan dit met beseerdes

Meer as tien leerlinge van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark is steeds in verskillende hospitale in Gauteng nadat hulle ernstig beseer is toe ’n loopbrug by die skool op 1 Februarie ineengestort het.

’n Betonblok van etlike ton het kort ná die saalopening bo-op van die gr. 8- en gr. 9-leerlinge geval terwyl die gr. 12-leerlinge bo-oor die brug geloop het.

Cheverné Duvenhage (13) en haar ma, Nicola Senekal. Foto: FACEBOOK

Vanessa Slabbert (18), ’n gr. 12-leerling wat ’n kopbesering en verskeie beenbreuke sowel as ’n rugbesering opgedoen het, het Sondag die eerste keer haar oë oopgemaak, het haar ma, Lizelle, gesê.

Vanessa word in die waakeenheid van die Netcare Unie-hospitaal in Alberton behandel. Dit is dieselfde hospitaal waarin Cheverné Duvenhage (13), ’n gr. 8-leerling, behandel word.

Cheverné is aan haar maag geopereer en moet ook ’n voetoperasie ondergaan. Haar toestand het Vrydag so verbeter dat sy van die asemhalingstoestel afgehaal is.

Sy het Sondagaand egter ’n terugslag gehad toe haar hart skielik vinniger begin klop het. Sy moes onder verdowing geplaas word en is weer aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel, het Yolandi Duvenhage, haar stiefma, gesê.

Die bosse pienk en pers ballonne wat by Marli Currie (14) se roudiens losgelaat is. Foto: FACEBOOK
Van die ballonne is die naweek in die Vrystaat gekry ná Vrydag se roudiens vir Marli Currie (14). Foto: FACEBOOK

Nicola Senekal, Cheverné se ma, het Maandagmiddag gesê dit gaan beter met haar dogter. Die dokters probeer vasstel hoekom sy moeilik asemhaal. Sy gaan vermoedelik Dinsdag geopereer word sodat ’n trageabuis vir haar ingesit kan word.

Shamoné Steynvaart (14), ’n gr. 9-leerling, is verlam ná die ongeluk. Sy is in die Life Wilgers-hospitaal in Pretoria en sal later na die Mediclinic Muelmed se spinale rehabilitasie-eenheid verskuif word.

Dit gaan al heelwat beter met Jennifer Bothma (15), ’n gr. 9-leerling. Sy is in die Mediclinic Vereeniging. Sy kan al vir rukke regop sit in ’n stoel en het Maandag ’n legkaart gebou.

Hilmar Engelbrecht (18), ’n gr. 12-leerling, is uit die waakeenheid van die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg ontslaan. Hy kry nou fisioterapie vir van sy beserings.

Jennifer Bothma (15) sterk nog aan in die Mediclinic Vereeniging. Foto: FACEBOOK

Milita Weber (17), ’n gr. 12-leerling, se ma, Vanessa, sê haar dogter is steeds in die hoësorgeenheid van die Life Wilgers-hospitaal. Sy kon al van die een kant van die bed na die ander kant loop.

Nicole Nel (13), ’n gr. 8-leerling wie se pelvis en ’n been gebreek is, en Chantelle van den Berg (17), ’n gr. 12-leerling, sterk albei goed aan in die MediClinic Vereeniging.

Agt leerlinge is sedert die tragedie uit hospitale ontslaan. Sifiso Tshabalala (18), ’n gr. 12-leerling, is Sondag uit die Mediclinic Emfuleni ontslaan nadat hy Donderdagaand weer opgeneem moes word weens erge rugpyn. Hy kan nog nie skool toe gaan nie en moet bedrus kry.

Intussen het mense wat op ’n plaas tussen Vredefort en Viljoenskroon in die Vrystaat woon, die naweek afgekom op pienk en pers ballonne wat Vrydag buite die NG kerk Suid in Vanderbijlpark losgelaat is. Daar is boodskappe op van die ballonne geskryf.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.