Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bruid gereed, toe sê die bruidegom: Kom ons los alles. . .

’n Bruidegom wat sy bruid die dag van hul troue soos ’n warm patat gelos het, wil haar nie vergoed vir haar hartseer en uitgawes vir die glansgeleentheid nie.

Martin Strydom het steeds foto’s van hom en Trudie Swanepoel, met wie hy sou trou, op sy Facebook-blad.

Martin Strydom (35) het die afgelope week nog foto’s van hom en Trudie Swanepoel (27) saam op sy Facebook-blad gehad.

Maar nou sê dié twee mekaar die stryd in die Bredasdorp-landdroshof aan, waar sy hom vir skadevergoeding van sowat R115 000 dagvaar.

Volgens haar prokureur, Stefan Fourie, het Strydom die spertyd gemis waarteen hy moes aandui of hy die eis gaan teenstaan.

Hulle het toe by die hof aansoek gedoen dat ’n verstekvonnis teen Stry­dom verleen word.

Die landdros sou dit in sy kantoor oorweeg. Strydom se kennisgewing dat hy die eis wil teenstaan, het toe wel daar aangekom.

Nou gaan die landdros albei kante van die saak aanhoor.

‘Ons het ’n sprokies­einde sien kom.’

Volgens Fourie eis Swanepoel sowat R40 000 vir die verspilde uitgawes vir die troue, soos haar en die strooimeisies se rokke en die blomme. Sy eis ook sowat R75 000 as algemene skadevergoeding vir haar hartseer.

Die twee sou op 5 Oktober 2019 op ’n gasteplaas buite Swellendam in die Overberg trou.

Huisgenoot het in Junie berig alles was gereed vir die groot dag. Die 60 gaste en die pastoor was reeds daar. Die bruid en haar gevolg se hare en grimering was gedoen.

Swanepoel het aan Huisgenoot gesê Strydom was laat. Sy het hom gebel. Hy het geantwoord: “Ek gaan nie kom nie. Kom ons los alles.”

Volgens Swanepoel het sy op ’n stoel gaan staan en aangekondig: “Daar gaan nie ’n troue wees nie. Julle kan môre daaroor skinder, maar vir nou, kom ons hou steeds makietie.”

Kort voor die oproep word Swanepoel se grimering aangewend.

Strydom se broer het die dansbaan met Swanepoel geopen.

Volgens haar het sy en haar familie nooit vooraf onraad vermoed nie.

Robin Behr, Strydom se prokureur van Bredasdorp, het aan Rapport gesê hulle kan geen kommentaar lewer nie omdat die saak nou voor die hof is. Boonop moet Strydom se verweerskrif nog opgestel en by die hof ingedien word.

’n Inwoner van Bredasdorp wat verkies dat haar naam nie gepubliseer word nie, sê die skielike kansellasie van die troue “het die dorp omgeboul”.

“Trudie en Martin het vir lank uitgegaan, ek dink sy was nog op hoërskool hier.

Die lang etenstafel was gereed.

“Ons het regtig hier ’n sprokies-einde sien kom. Maar toe nie. Dis die laaste mense van wie ons dit sou verwag het – dat die troue sou skipbreuk ly.”

Die vrou glo nie daar was ’n derde party nie.

“Dit was altyd net Martin en die hond, óf Martin en Trudie, wat jy gesien het. Hy is eintlik ’n introvert, nie die in your face-tipe nie.

“Mens sal nie eintlik weet hóékom hy koue voete gekry het nie. Dalk het sy broek vreeslik aan die bewe gegaan, dié groot dag. Mens sien sulke goed mos net in die movies en meestal hardloop die vrou weg. Maar die man !

“Ek kan egter nie verstaan dat Martin die eis dalk kan teenstaan nie, mens moet tog minstens 50-50 gaan? Is dit nie?

“Watter verskoning kan hý aanbied?”

* Riëtte Oosthuizen, ’n Gautengse familieregspraktisyn, sê sulke eise is gegrond op kontrakbreuk, want die belofte (al was dit net mondelings) tussen twee persone om te trou is deur een verbreek.

Volgens haar kan die party wat gelos word, skadevergoeding eis vir persoonlikheidskrenking, die werklike verliese wat gely is weens die afstel van die troue, asook toekomstige verliese.

“Meestal is die grootste ongelukkigheid weens die feit dat so ’n persoon verneder en hartseer is. Hulle wil die ander persoon ‘terugkry’ deurdat die persoon hulle moet vergoed op een of ander manier.”

Oosthuizen sê dié tipe regsgedinge is nie volop nie. “Die tipe skade wat geëis kan word, is beperk. Die bedrag wat geëis kan word, regverdig soms nie die regskoste van so ’n saak nie.”

Dit kan ook wees dat iemand nie kans sien vir ’n lang hofsaak nie, en eerder wil “aangaan en probeer vergeet”.

Die publiek weet dat hierdie soort eise nie so algemeen voorkom soos egskeidings nie. Daarom is hulle versigtig “om sommer goedsmoeds sulke tipe eise in te stel”.

Oosthuizen sê albei mense moet doodseker wees dat daar ’n wederkerige belofte is om met mekaar te trou. “Daarsonder sal jy in elk geval geen eis kan instel indien dinge skeefloop nie.”

Meer oor:  Huwelik  |  Skadevergoeding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.