Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Buchan bid dat president tot inkeer kom

As pres. Cyril Ramaphosa sy rug op God keer, sal hy die verkiesing in 2019 verloor.

Dít was Saterdag die evangelis en prediker, Angus Buchan, se boodskap aan die president voor ’n groot skare Suid-Afrikaners.

Angus Buchan by die It’s Time-gebedsbyeenkoms op die Rhino Park-vliegveld.

Buchan het 2 Kronieke 15:2 aan Ramaphosa voorgehou en hom gewaarsku om terug te keer na God. “Jy kan nie twee meesters dien nie,” het Buchan gesê.

Organiseerders raam dat ’n rapsie meer as 1 miljoen mense Saterdag opgeruk het na die Rhino Park-vliegpark, net buite Pretoria, waar Buchan gebid het.

Hulle het gehoop 5 miljoen mense sou opdaag.

Ramaphosa sou na verwagting self ook kom, maar het op die laaste minuut gekanselleer.

Volgens die organiseerders sou die president nie betyds by die vliegveld uitkom nie en hy wou nie die mense langer in die warm son laat wag nie. Die kwik het Saterdag ver oor 36 °C daar gestyg.

Duisende mense het reeds in die donker oggendure opgedaag om te bid vir die sukses van die byeenkoms.

Een van hulle was die 52-jarige man wat net bekend staan as The Silent Preacher van Kaapstad. Hy het ’n enorme houtkruis saamgebring. Hy sê hy woon al byna vyf jaar Christelike byeenkomste, soos onder meer It’s Time, by.

Voordat Buchan die skare in ’n massa-gebed vir Suid-Afrika gelei het, het hy eers die mense gevra om hul sonde te bely in persoonlike gebed.

“Ons is vandag hier om Suid-Afrika op te bou, nie af te breek nie . . . leef so dat God sal luister na jou gebed. Hoe kan God na jou gebed luister as jy nog sonde in jou hart het? As jy in jou hart nie vergifnis het vir iemand van ’n ander ras nie, kan God jou nie vergewe nie,” sê Buchan.

Hy het verwys na die 38ste vers van Markus 14, waar dit staan dat mense moet waak en bid.

“Kyk hoe het dinge verander nadat daar saam gebid is in Bloemfontein,” sê Buchan.

Hy het voorbeelde genoem soos onder meer oudpres. Jacob Zuma wat uit sy amp onthef is en die ontbloting van staatskaping en Kaapstad waar die droogte gebreek is.

Die land behoort aan God om reg te bestuur.
Angus Buchan

“Dink net wat gaan hierna gebeur,” sê Buchan.

Buchan se woorde is telkens deur luide applous van die gehoor verwelkom, terwyl die geskal van ramshorings opgeklink het.

Angie Botha van Pretoria het verduidelik die ramshorings word gebruik as ’n teken van geestelike oorlogvoering om mense te roep en te verklaar dat die land aan God behoort. Haar ramshoring is ’n njala-horing.

Buiten dat Buchan gebid het dat Ramaphosa tot inkeer sal kom, het hy ook gebid vir gelykheid vir almal asook gelykheid in die werkplek, Suid-Afrika se grondkwessie, moord, korrupsie, immoraliteit, aborsie en die land se kerkleiers.

Hy het hom veral sterk uitgespreek oor die regering se plan om die Grondwet te verander sodat grond onteien kan word sonder vergoeding.

“Die land behoort aan God om reg te bestuur,” sê Buchan. Hy het gebid dat God sal intree by die regering en die saak beredder.

Ons wil nie hê die boere moet die land verlaat nie. Waar gaan die kos vandaan kom? Mense moet ook nie in gehuggies bly sonder ’n toekoms nie.
Angus Buchan

Ná die byeenkoms het Buchan aan die media gesê hy vrees vir grootskaalse hongersnood in die land sou die regering die wysigings aan die Grondwet goedkeur.

“Wat ek ook nie wil sien nie, is mense wat in gehuggies bly – veral nie kinders nie. Daar is genoeg ruimte vir ons almal,’’ sê Buchhan.

“Vir my is dit ’n skreiende skande as grond aan ’n stadsjapie gegee word – maak nie saak watter kleur hy is nie – en hy weet nie hoe om ’n plaas te bewerk nie,” sê Buchan.

Hy glo ’n meer konstruktiewe benadering is nodig waar bestaande boere nuwe boere onder hul vlerk neem en leer boer.

“Ons wil nie hê die boere moet die land verlaat nie. Waar gaan die kos vandaan kom? Mense moet ook nie in gehuggies bly sonder ’n toekoms nie. Hulle moet geïnkorporeer word en dit is wat die regering moet doen en hulle moet dit doen volgens die Woord van God,” sê Buchan.

* Amptelike bywoningsyfers was teen Saterdagmiddag nog nie bekend nie. Die organiseerders was tevrede dat die hele byeenkoms sonder enige ernstige voorvalle was.

Daar was glo ’n ongeluk, maar niemand is ernstig beseer nie.

Daar was ook ’n onbevestigde hoeveelheid mense wat hartaanvalle gehad het of gesukkel het met komplikasies weens hitte-uitputting.

“Sover ons weet, het almal die nodige behandeling gekry en is ongedeerd,” het Hardus Zevenster, een van die organiseerders en media-skakelbeampte, gesê.

Dié gebedsbyeenkoms word deur die organiseerders beskryf as een van die grootste georganiseerde byeenkomste in Suid-Afrika se geskiedenis.

Annie Botha (33) blaas op haar nyala-horing by die It’s Time-gebedsbyeenkoms. Foto: Deaan Vivier
Angus Buchan en sy vrou, Jill, voor sy preek agter die verhoog.
Angus Buchan by die It’s Time-byeenkoms buite Pretoria.
Annie Botha (33) van Pretoria wat “bedieningsdanse” met vlae doen. Foto: Deaan Vivier
Kenneth Meshoe, leier van die ACDP, en sy vrou, Lydia, en Mosiuoa Lekota, leier van Cope, was ook by die byeenkoms. Foto: Deaan Vivier
Joe Niemand by die byeenkoms. Foto: Deaan Vivier
The Silent Preacher sak op sy knieë neer om te bid. Foto: Deaan Vivier
Dié 52-jarige man, wat bekend staan The Silent Preacher, stap na die terrein waar die byeenkoms gehou word. Foto: Deaan Vivier
Mense het hande omhoog saamgesing en gebid. Foto: Deaan Vivier
’n Deel van die skare. Foto: Deaan Vivier
Mense praat met mekaar by die byeenkoms. Foto: Deaan Viviers
Lofsange word by die byeenkoms gesing. Foto: Deaan Vivier
’n Vrou op haar knieë bid saam met ander by die byeenkoms. Foto: Deaan Vivier
Die enigste boom op die stowwerige Rhino Park-vliegveld waar ’n paar mense ’n bietjie skuiling teen die son kon kry. Foto: Deaan Vivier
Luke Pfister (20) en Charise Luciani (18) van Krugersdorp was ook by die byeenkoms. Foto: Deaan Vivier

Meer oor:  Angus Buchan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.