Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Buitelanders wil Kaapse kerk verlaat ná aanranding

Die asielsoekers en vlugtelinge wat skuiling in die Metodistekerk in Kaapstad gevind het, het Maandag aangedui dat hulle die gebou gaan verlaat en in ’n “massa-uittog” gaan vertrek na ander lande wat veiliger is.

Intussen is lede van ’n afvaardiging van nieregeringsorganisasies en kerklui, onder wie Thabo Makgoba, aartsbiskop van die Anglikaanse kerk in Kaapstad, Vrydag na bewering aangerand toe hulle die vlugtelinge wou toespreek.

Asielsoekers en vlugtelinge Maandag met ’n banier op Groentemarkplein buite die Metodistekerk in Kaapstad wat ’n “massa uittog” uit Suid-Afrika aankondig. Foto: Jaco Marais

Die groot groep buitelanders wat sedert einde Oktober in die kerk gebly het, is voorheen al gevra om die gebou te ontruim omdat dit onveilig is om soveel mense te huisves.

Chris Nissen, kommissaris van die Menseregtekommissie (MRK), het bevestig dat die leierskap van die groep aangedui het dat hulle die kerk gaan verlaat en “selfs stap na die naaste land toe” om veiliger heenkome te soek.

“Dit is eenvoudig nie die werklikheid nie, om hier te sit en wag vir wat? Die hele idee dat iemand vir hulle gaan kom haal, dis net nie die realiteit nie en ons het dit Vrydag aan hulle verduidelik.”

Chris Nissen, kommissaris van die Menseregtekommissie.Foto: Malherbe Nienaber

Nissen het benadruk dat die Verenigde Nasies (VN) se vlugtelingagentskap (UNHCR) die mense ingelig het dat “die hele gemeenskap nie saam na ander lande kan trek nie” en dat elke saak afsonderlik beoordeel en hanteer word.

Sy been is ook in Vrydagoggend se voorval beseer en Nissen sê dit was “baie erg om te sien dat iemand soos die aartsbiskop aangeval word”.

“Dit is baie hartseer om te sien dat so iets in Suid-Afrika gebeur en ons het vandag vir hulle gesê dat hulle persoonlik vir die aartsbiskop moet gaan om verskoning vra. Daar is geen rede om hom of enigiemand anders aan te val nie. Hulle het vir ons om verskoning gevra, maar dit belemmer hul saak as mense sien dat so iets gebeur.”

Teen Maandagmiddag was daar nog rondom 100 van die buitelanders in die kerk, waarvan ’n groep ook buite vergader het. Voorheen is daar berig dat honderde mense in die kerk skuiling soek.

Een van die leiers van die groep het aan News24 aangedui dat hulle twee weke se skuiling in die kerk aangebied is en nie langer daar kan bly nie. Hy het ook die kerk bedank dat hulle mense verwelkom het.

Die buitelanders woon sedert 30 Oktober in die kerk nadat die polisie hulle uit die kantore van die UNHCR gesit het.

Eerw. Alan Storey van die Central Methodist Mission in Kaapstad het met Sondag se preek ook die voorval Vrydag as skandalig beskryf en dat dit die houdings teenoor vlugtelinge kan verhard.

Hy het Vrydag in ’n verklaring sy versoek herhaal dat die vlugtelinge die gebou verlaat “met waardigheid en in vrede” en dat die betrokke owerhede en organisasies steun aanbied.

Die versoek spruit uit die brandgevaar en vrese dat die mense nie vinnig genoeg die gebou sal kan ontruim om sterftes te verhoed nie.

Luidens Storey se verklaring het ’n groep van die MRK, Africa Diaspora Forum, More Than Peace, die aartsbiskop en ’n paar pastore die oggend met die vlugtelinge vergader.

Dit was met die doel om almal in te lig van die gesprekke wat die MRK fasiliteer het en vir Storey om te versoek dat mense die gebou begin ontruim.

“Die lid van die MRK en ek is deur almal toegelaat om te praat, maar toe een van die pastore (glo bekend aan die vlugtelinge) probeer praat het, het sommiges geweier en is die pastoor en ander lede van die groep aangerand.”

Van die leiers van die vlugteling-gemeenskap het glo ingegryp om die vrede te bewaar en die besoekers is toegelaat om die perseel veilig te verlaat.

“Die hele situasie is baie hartseer en verontrustend, nie net as gevolg van waar dit gebeur het of wie beseer is nie, maar omdat enige geweld teen enigiemand selfverydelend is. Geweld los niks op nie, dit veroorsaak net meer pyn en probleme.”

Makgoba het Vrydag ook in ’n verklaring ’n beroep gedoen op gebede vir vlugtelinge en asielsoekers nadat hy aangeval is en dat daar op hul toestande gefokus word.

Hy is glo op die voorkop raak geslaan, maar het aan die media aangedui dat hy nie regtig nie beseer is nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.