Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bulle gee glo R1 m. vir kind op skool

’n Skoolkind wat glo R1 miljoen by die Blou Bulle gekry het nog voordat hy ’n bal op Loftus geskop het en ’n massiewe drankrekening vir sy eie troue is van die bewerings wat teen ’n voormalige grootkop van dié unie ondersoek word.

Diego Appollis is al op hoërskool as ’n uitblinker geidentifiseer.

Rapport het verlede week berig Xander Janse van Rensburg, voormalige hoëprestasiebestuurder, word ondersoek. Hy is in Februarie vort – amptelik weens gesondheidsredes – maar die Blou Bulle Maatskappy (BBM) het intussen ’n ondersoek gelas.

Sedert dié onthulling is nóg bewerings geopper, waaronder:

  • Drank vir Janse van Rensburg se troue en ander geleenthede is glo sonder magtiging op die BBM se rekening by ’n verskaffer gekoop.
  • Die BBM moet sowat 100 jong spelers se kontrakte beëindig uit geldnood, maar sommiges is glo astronomiese bedrae betaal.

Twee agente beweer nou die belowende senter Diego Appollis (18) is byvoorbeeld ’n kontrak van R40 000 per maand aangebied terwyl hy nog ’n gr. 11 leerling aan die Hoërskool Garsfontein in Pretoria was. Dit is nie ongewoon om belowende spelers vroeg te kontrakteer nie, maar die agente sê dié bedrag is verstommend vir ’n speler wat nog vir meer as ’n jaar op skool moes wees.

Xander Janse van Rensburg

Chandré Boshoff, Appollis se agent, sê sy speler verdien wel tans R40 000 per maand, maar was nie gekontrakteer terwyl hy minderjarig was nie. Boshoff is eers van 1 Januarie sy agent.

Appollis se vorige agent, Ellis Cole, het nie op Rapport se navrae gereageer nie.

  • Sekere toerusting wat vir die BBM gekoop is soos kameralense en ’n hommeltuig is nie tans in die maatskappy se besit nie.
  • Agente beweer Janse van Rensburg het net met sekere agente onderhandel. Hulle sê dit was algemeen dat hulle ’n speler aan die BBM voorgestel het, maar Janse van Rensburg het dit afgekeur. Dieselfde spelers is dan glo later deur ’n ander agent geteken.
  • ’n “Vrag klere” van ’n Japannese handelsmerk is glo deur Janse van Rensburg gekoop en saam met die Bulle se bagasie op ’n voorseisoentoer vanaf Japan terug Suid Afrika toe gebring. Doeane-dokumente is glo nie ingevul nie en die klere is nie vir die Bulle se doeleindes gebruik nie.

Janse van Rensburg het by navraag gesê hy het geen kommentaar om te lewer oor die nuutste beweringe nie. Hy het verlede week gesê hy gee sy volle samewerking met die ondersoek.

Die BBM het volstaan by hul vorige kommentaar dat ’n ondersoek aan die gang is.

Die beweringe teen Janse van Rensburg, wat as die “messias” van rugby-werwing voorgehou is toe hy in 2012 aangestel is, kan nog verreikende gevolge hê.

Drie voormalige werknemers van die BBM het die afgelope week aan Rapport gesê hulle win regsadvies in om die maatskappy vir vergoeding te dagvaar.

Van die bewerings is dat Janse van Rensburg hulle “uitgewerk het” omdat hulle sy planne teengestaan het en hulle met ver­trouelinge vervang het.

Rapport het verlede week berig tien huidige en voormalige werknemers se beëdigde verklarings is deel van die ondersoek.

Een werknemer beweer hy moes Janse van Rensburg R60 000 betaal om sy pos te verseker.

Janse van Rensburg het twee weke gelede na rugby teruggekeer toe hy opgedaag het by die Wêreld-skolerugbyfees in die Paarl om met verskeie afrigters en spelers daar te praat.

Meer oor:  Xander Janse Van Rensburg  |  Rugby  |  Blou Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.