Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Burgemeester wys nie gesig voor betogers in PE

’n Man en sy vriende was verantwoordelik vir die grootste optog teen gendergeweld wat tot dusver in Port Elizabeth gehou is. Maar daar was geen teken van die burgemeester nie.

Een van die vroue wat Saterdag tydens ’n optog teen geslagsgegronde geweld op die trappe voor die stadsaal in Port Elizabeth gepraat het. Foto: Lulama Zenzile

Die optog het Saterdag daartoe gelei dat ’n golf van mense vanaf die strandfront deur die stad tot by die burgemeester se kantoor voor die stadsaal beweeg het.

Geklee in swart en pers het deelnemers geskree, “genoeg is genoeg” en “my lyf is nie ’n misdaadtoneel nie” totdat hulle voor die stadsaal in Port Elizabeth bymekaargekom het om ’n memorandum aan Mongameli Bobani, burgemeester, te oorhandig.

Giovanni Joseph van Bobani se kantoor was daar om die memorandum te ontvang, maar hy het nie die skare toegespreek nie.

Voor die oorhandiging het gassprekers en verkragtingslagoffers, oftewel verkragting-oorwinnaars soos hulle na hulself verwys, roerend hul stories gedeel en ander aangemoedig om nooit te aanvaar dat enige vorm van geslagsgegronde geweld oukei is nie.

Nóg ’n plakkaat wat tydens Saterdag se optog in Port Elizabeth gesien is. Foto: Lulama Zenzile

“Dit is sewe jaar later en ek kan nou eers daaroor praat. Dit kan nie wees dat ons as vroue nêrens veilig is nie. Hulle sê gaan universiteit toe, maar daar word mense op ’n gereelde basis geteister. Gaan poskantoor toe, ’n regeringsgebou en jy kom nie weer lewendig uit nie. So, moet ons by die huis bly? Een mens wat dit gedoen het, was Reeva Steenkamp en sy deur die liefde van haar lewe (Oscar Pistorius) doodgemaak met ’n wapen wat haar moes beskerm. Waar gaan dit stop? Dit moet nou stop,” het een van die vroue gesê.

Gershwin Williams, die dryfkrag agter Saterdag se optog, sê met sy 11-jarige dogter wat in Kaapstad woon, kon hy eenvoudig nie langer stilsit ná die moord van Uyinene Mrwetyana, ’n student van die Kaapstadse universiteit, nie

Mrwetyana, wat as Nene bekend is, was verkrag en wreed vermoor nadat sy glo ’n poskantoor besoek het. ’n Poskantoorwerknemer is sedertdien in hegtenis geneem.

Deelnemers aan die optog het ’n swart golf deur die strate van Port Elizabeth gemaak terwyl hulle van Koningstrand na die stadsaal gestap het. Foto: Lulama Zenzile

“Ek het net besef ek wil nie wag nie, ek wil nie begin bid en optree wanneer dit iemand naby aan my is nie. Dit kan my dogter wees, my suster, my ma of my ouma wat die volgende slagoffer is.

“Dit is nou tyd om op te staan, ons hoef nie te wag tot iemand na aan ons ’n slagoffer is nie,” het Williams gesê.

Hy sê die afgelope twee weke was emosioneel uitdagend en daarom het hy en sy vriende besluit om standpunt in te neem. “Ons het gesê ons gaan die optog hou, al stap ons ook alleen, maar iets moet ons doen. En die opkoms van vandag was fenomenaal; dit het al my verwagtinge oortref.”

Oor Bobani se afwesigheid het Williams die versekering gegee dit sal nie die laaste poging wees om sy aandag te kry nie.

“Ons het die burgemeester gevra om hier te wees, maar duidelik is daar iets veel belangriker vir hom as die vroue van die stad op ’n Saterdagmiddag.

“As dit blyk dat die optog nie verandering na vore bring nie, sal ons ’n drukgroep moet begin wat die aandag van die stad kry,” het Williams bygevoeg wat bedags ’n rekeningbestuurder by ’n selfoonnetwerkgroep is.

Zaahidah Meyer, ook ’n inwoner van die stad wat bystand met die organisering gelewer het, sê die opkoms van betogers het haar beïndruk, veral dat die meeste jong mense was.

“Dit wys daar is hoop vir die jonger generasie wat saam staan en sal opstaan.”

Van die betogers met hul plakkate wat daarop dui dat hulle moeg is vir geslagsgegronde misdaad. Foto: Lulama Zenzile

Sy het ook haar teleurstelling oor Bobani se afwesigheid uitgespreek. “Dit is ’n baie belangrike kwessie. Ons het nodig dat die burgemeester vir sy stad en die hele munisipaliteit opstaan en nie eenvoudig net wegbly nie.”

Bobani het volgens Meyer 14 werksdae om op hul vereistes te reageer, voordat hulle weer by stadsaal sal aanklop.

Met die memorandum het hulle onder meer die stad vereis om verhoogde sigbaarheid van polisie in die stad, asook by skole en universiteite te verseker.

Hulle het ook die beroep van verskeie aktiviste landwyd geëggo dat die parlement die nasionale register van seksuele oortreders openbaar maak, asook om ’n wet in te stel wat veroordeelde verkragters verbied om vir borgtog of parool aansoek te doen.

Bobani het by navrae slegs gesê dat hy sal reageer.

Meer oor:  Mongameli Bobani  |  Port Elizabeth  |  Verkragting  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.