Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Burger King se vlamme mislei glo

Die kitskosgroep Burger King is oor die kole gehaal oor ’n advertensie wat suggereer dat hul burgerfrikkadelle self die kole haal.

Burger King is in die sop oor ’n soortgelyke advertensie.

Die betrokke advertensie wys hoe vars uie en tamaties in ’n meganiese snyer opgekap word. Dan wys dit hoe die vleis oor ’n oop vlam gebraai word. Die burger word dan gemaak met uie, tamaties, kaas en agurkies. Die advertensie eindig met die woorde “good food, fast” en ’n Burger King-logo met vlamme daarom.

Dié advertensie het egter vir Steers, een van Burger King se teenstanders in die hamburgermark, so warm onder die kraag dat hulle by die Advertensiebeheerraad (ARB), die waghond oor advertensiestandaarde, gaan kla het. Steers meen hulle is een van die min kitskosrestaurante wat régtig hul frikkadelle oor vlamme gaarmaak. Hulle kap ook elke dag vars tamaties en uie in die winkel en hul skyfies word van vars aartappels wat in die winkel gewas en opgekap word, gemaak.

Hulle meen Burger King se groente word klaar gekap en voorberei afgelewer en hulle braai vooraf bevrore tjips.

Hul grootste probleem is egter met Burger King se reklameweergawe van hul gaarmaakproses.

Burger King, sê Steers, gebruik ’n roosteroond (broiler) en dis glad nie dieselfde as om die frikkadelle op oop vlamme te braai soos wat die advertensie voorgee nie.

Burger King sê alhoewel hulle nie lid is van die ARB nie en nie onder die organisasie se jurisdiksie val nie, hulle steeds op die klagte reageer.

Hulle sê hul tamaties en uie word elke dag vars in die winkel voorberei. Hul roosteroond gebruik ’n voerband wat die frikkadelle oor gasvlamme vervoer.

“Die frikkadelle word blootgestel aan ’n oop gasvlam en het daarom die tekstuur, geur en lyk dieselfde as vlamgebraaide frikkadelle.” Daarom, sê Burger King, is hul advertensie nie misleidend nie.

Die ARB het egter bevind dat die redelike verbruiker na die advertensie sou kyk en sou aanvaar dat die frikkadelle oor ’n oop vlam gebraai word.

“Die verbruiker sou aanneem die prente wat gewys word is ’n ware verteenwoordiging van wat in die geadverteerde se kombuis gebeur.”

Daarom het hulle bevind die advertensie is wat dit aanbetref misleidend en het lede – wat die meeste uitsaaiers insluit – aanbeveel om nie die advertensie uit te saai nie.

Meer oor:  Advertensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.