Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Burre het skenkings aan boere ‘verkoop’

Burre Burger, die groentesmous van die Weskus wat landwyd bekend geword het vir sy droogtehulp aan boere, word daarvan beskuldig dat hy uitgemergelde boere uitbuit deur geskenkte voer aan hulle te verkoop.

BBP: Burre Burger saam met hooggeplaastes tydens die tennissterre Roger Federer en Rafael Nadal se wedstryd in die Kaapstad-stadion. Foto: Edrea du Toit

In ’n wekelange ondersoek het Rapport met talle boereverenigings en individuele boere gepraat wat vertel het van bloutjies wat hulle met Burger geloop het wat blykbaar gou op die f-woord terugval as daar ’n rusie is.

Baie van die boereverenigings sê hulle weier om ooit weer met hom te werk of hulp van hom te aanvaar.

Burger ontken die aantygings.

In die mees skreiende geval is mielieboere van die Oos-Vrystaat genoop om Burger te konfronteer nadat hulle uitgevind het dat hy na bewering die bale voer en mielies wat hulle vir hul sukkelende medeboere in die Klein-Karoo geskenk het, aan hulle verkoop het.

“Ons is verskriklik ongelukkig, want ons kry ook self swaar,” het Palm Maree, voorsitter van die boerevereniging op Danielsrus net noord van Bethlehem aan Rapport gesê oor die bloutjie wat hulle twee jaar gelede met Burger geloop het. Hy sê hulle weier nou om met hom saam te werk.

“Verlede jaar vat ons toe maar met ons eie lorries en bakkies self die mielies en hampers van die VLV Oudtshoorn toe.”

‘Daar is geen finansiële state om te wys nie.’

Boere in die Klein-Karoo bevestig die gebeure.

Die volstruis-en-skaapboer Wilna Grundling sê Burger het in Oudtshoorn opgedaag “asof in ’n groot TV-show. “Koos, my man, het 70 sakke gevat teen R50, maar geen kwitansie ontvang nie. Ek vra toe: ‘Verduidelik net vir my, hoe werk dié organisasie?’ Hy het my net sleggesê.

“Dit sit my af dat droogtehulp nou ook ’n show geraak het.”

Sy sê Burger se droogtehulp “laat ’n slegte smaak in die mond”.

Grundling se bewerings is deur minstens nog twee boere in die distrik bevestig.

Talle landbouverenigings is verder ongelukkig oor die feit dat Burger weier om met hulle saam te werk en van hul databasis gebruik te maak van boere in hul distrik wat swaarkry.

Laubscher Coetzee, Agri-Wes-Kaap se streekverteenwoordiger in die Klein-Karoo, sê hy het aan Burger voorgestel dat hy hul netwerk en databasis gebruik.

Burre Burger sê hy het in 2019 meer as 140 keer gevlieg om motiveringspraatjies in boeregemeenskappe te doen. Foto: Facebook

“Gaan deur die legitimate kanale, het ek gesê. Hy het toe die f-woord gebruik en laai toe net een vrag by ons af en vat die res na sy plaaslike kontak.”

Coetzee beweer Burger wou hulle ook dwing om vir die transport te betaal.

“Dis alles lelike aantygings,” het Burger gesê toe Rapport hom met dié bewerings gekonfronteer het.

“Ek het nog nooit en ons organisasie het nog nooit aangedring op enige betaling nie. Boereverenigings sal self besluit of hulle donasies vra vir boere en die boere wat nie donasies kan gee nie word ook gehelp,” sê hy.

Burger sê hy het in September 2018 tien vragte mielies in Oudtshoorn afgelaai. Sy uitgawes was net oor die R247 000 en hy het in Oudtshoorn donasies van R91 860 ingesamel.

“Let wel, dit was donasies en niemand het enige fakture verwissel nie. Baie gebiede sal donasies maak, sodat ander boere weer gehelp kan word. Niemand word geforseer om ’n donasie te maak vir mielies of bale of wat ook al nie. En dit sal alle aflaaipunte vir jou sê.”

Burger erken hy en Laubscher Coetzee het woorde gehad oor die verdeling van mielies.

“Ek het gesê ‘alle boere’, bedoelende lede van boereverenigings, asook nielede, moet voer ontvang as ons dit reël. Hy was toe moeilik met my en ek was moeilik terug. My grootste punt was regverdigheid moet geskied. Toe vra ek mense wat nie aan enige unie behoort nie om die verdeling te doen.

“Ja, ek vloek, ek is maar net ’n mens soos enige iemand anders, ek raak kwaad en ek lag . . .”

Onder talle skenkers is daar egter ernstige vrae oor hoe Burger se organisasie se finansies daar uitsien, wat sy administrasiekoste is en op watter wyse Burger vir sy dienste vergoed word.

Volgens dokumente wat Burger aan Rapport verskaf het, is Droogtehulp met Burre Burger in Januarie 2018 kragtens die Maatskappywet as ’n maatskappy sonder winsbejag geregistreer met drie direkteure, waarvan Burger een is.

In Oktober 2018 het die maatskappy vrystelling van inkomstebelasting by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gekry. Dit beteken ook dat enige skenking aan Droogtehulp met Burre Burger met ingang van 12 Oktober 2018 belastingaftrekbaar was, mits Burger aan die skenker ’n kwitansie met al die nodige detail uitreik.

Burger kon nie aan Rapport enige finansiële state van die maatskappy sedert sy stigting meer as twee jaar gelede verskaf nie. Nadat hy sowat drie weke gelede aan Rapport beloof het dat hy sy boekhouer sal vra om dit te stuur, het hy later deur monde van sy vriend Yan Smit, ’n prokureur van Lambertsbaai aan die Weskus, uiteindelik erken dat daar geen finansiële state is om te wys nie.

Die opstel van die afgelope twee jaar se state, het Smit verduidelik, is vertraag deur verskeie faktore – waaronder die inperking en die feit dat Burger se rekenaar met al sy bankstate “opgepak” het.

Hy het nuwe state by sy bank gekry, maar kon dit eers in Maart aan sy rekenmeester verskaf wat, weens die inperking, dit nog nie kon verwerk nie.

Volgens Smit het die direksie reeds in Februarie vanjaar besluit om ’n voltydse administratiewe beampte aan te stel omdat die administratiewe las besig is om Burger te oorweldig, maar dié aanstelling is nog nie gedoen nie.

Smit sê Droogtehulp met Burre Burger se grootste inkomste kom van die fondsinsamelingsgeleenthede wat Burger oor die land heen hou.

Volgens hom lewer Burger tussen vier en sewe praatjies per week. Die praatjies win sowat R75 000 per week (of R300 000 per maand) in. Dit sluit Burger se reis- en verblyfkoste uit, want dit word gewoonlik geskenk.

Volgens Smit word dié inkomste direk by die maatskappy se rekening inbetaal en Burger se lewenskoste word “op sy aanvraag” deur die maatskappy betaal. Dit is nie duidelik wat Burger se maandelikse verdienste of honorarium is nie.

Smit het Saterdag gesê Burger verdien geen kommissie op skenkings nie. Op verdere vrae oor sy salarisooreenkoms met die maatskappy het hy in ’n teksboodskap geskryf: “Het die breë publiek die reg tot al hierdie private inligting, bloot omdat dit ’n maatskappy sonder winsbejag is?”

Burger het sy droogtehulp-aksie in 2017 begin ná ’n mislukte poging om sy eie lewe te neem. Binne ’n maand nadat hy in September 2017 sy voorneme om boere te help op sosiale media begin adverteer het, het die geld begin instroom – in so ’n mate dat hy in ’n stadium meer as R7,7 miljoen in sy persoonlike bankrekening gehad het. Dit het hom genoop om Droogtehulp met Burre Burger in Januarie 2018 te registreer.

Teen die einde van daardie jaar het hy sy ondernemings, ’n viswinkel in Vredendal en vrugte- en groentewinkels wat in Vredendal, Klawer en Springbok sake gedoen het, verkoop en hom heeltyds op welsynwerk toegespits. Hy en sy gesin het hul huis in Vredendal verkoop en Kaap toe getrek.

Burger se welsynsorganisasie het sedertdien van krag tot krag gegaan en luidens sy webblad het hulle al meer as R210 miljoen se voer en ander hulp onder boere in Suid-Afrika en Namibië versprei.

Die naam Burre Burger is deesdae sinoniem met droogtehulp, maar dit wil voorkom hy het deur die jare ook brûe verbrand.

Naudé Pienaar, adjunkhoofbestuurder van Agri Noord-Wes, sê hulle kry “aanhoudend” klagtes oor Burger en veral oor die feit dat hy geld vra van die boere aan wie hy hulp verleen.

“Ons weet Burre doen goeie werk, maar om geld te vra is onaanvaarbaar,” sê Pienaar.

Die feit dat Burger telkens weier om met plaaslike landbou-organisasies saam te werk, lei ook tot konflik. “Dit is myns insiens onmoontlik vir enige buitepersoon om te besluit wie in ’n spesifieke dorp voer moet kry en wie nie,” sê Pienaar. “Hierdie optrede skep baie spanning in sekere gemeenskappe.”

In Aberdeen in die Oos-Kaap sê ’n boervrou, wat verkies dat haar naam nie gepubliseer word nie, Burger het hulle vir ’n voerskenking laat betaal. “Hy het die boeregemeenskap hier in twee verdeel – oor hy besluit het om net vir boere in Die Kol bale te gee.”

Sybil Visagie van die organisasie Save the Sheep in Sutherland wat ook voerskenkings onder boere uitdeel, sê daar is baie ongelukkigheid onder boere oor Burger se werkwyse. Vanweë hul haglike omstandighede is baie te bang om hom openlik te kritiseer.

“Boere wil nie praat nie, want hulle is bang hulle word van die skenkingslys afgehaal,” sê Visagie.

Daar is ook talle boere wat Burger steun.

Gous Wilson, voorsitter van die Onder-Visrivier-landbouvereniging in die Calvinia-distrik, sê hy staan bankvas agter hom. Volgens hom is die kritiek “die oorlog van die suurgatte”.

Hy sê baie boere is bereid om uit dankbaarheid vir ’n skenking iets by te dra “so, dit lyk dan of die skenking verkoop word”.

“R50 vir ’n sak mielies is ’n bargain. As ek ’n sak daarvoor kan kry, koop ek hom nou!”

Gert Taljaard, voorsitter van die Jansenville-landbouvereniging in die Oos-Kaap, het ook al die gerugte gehoor dat mense ’n “vrywillige bydrae” moet gee vir Burger se voer. “Boere is maar te dankbaar, daarom gee hulle en só hou dit Burre se wiele aan die rol.

“Dit sal egter goed wees as Burre verklaar presies hoe hy sy geld verdien sodat hy dié bespiegelinge kan besweer.”

Danie Jacobs, ’n skaap-en-bokboer van Springbok en voorsitter van Agri Namakwaland, sê “enigeen wat gee, sê ek goed, enigeen wat nie gee nie, sê ek sleg”. Hy het ook gehoor dat Burger net aan sekere boere voer gee, maar sê dis soms nodig om sekere mense uit te sluit, omdat “sommige boere professionele bedelaars raak”.

Meer oor:  Burre Burger  |  Bedrog  |  Droogtehulp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.