Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Burre hou vol voer is nooit aan boere verkoop nie
Voer word in Vanrhynsdorp deur Burre Burger afgelewer in Junie 2017. Foto: Verskaf

Burre Burger hou vol dat hy en sy organisasie nog nooit voer aan enige boer in Suid-Afrika verkoop het nie.

Burger het Sondag verskeie boodskappe van steun en mense wat sê dat hulle droogtehulp gratis ontvang het op sosiale media gedeel, nadat daar berig is dat hy geskenkte voer aan sommige boere verkoop het.

Hy het die oggend aangedui dat hy ’n verklaring in reaksie tot die berig Sondag in Rapport sou uitreik, maar teen die aand nog nie op navrae gereageer nie.

In sy plasing op Facebook het hy wel benadruk dat nóg hy nóg sy werknemers ooit voer verkoop het.

Burre burger, fb-plasing

Die aand het hy foto’s geplaas van vragte geskenkte voer wat in die Boesmanland afgelewer is en gratis aan kleinboere en kommersiële verskaf word, terwyl die vervoer deur sy organisasie sonder winsbejag Droogtehulp met Burre Burger betaal word.

Hy het ook geskryf oor ’n “oom en tannie wat boer naby Garies” en hul kragstelsel op die plaas wat opgepak het, waarna ’n battery en kragomsetter met ’n sonpaneel vir hulle gereël is om die ligte weer te kan aanskakel en hul telefoon te kan gebruik.

Deur die dag het hy ook videos gedeel van boere wat reageer op die aantygings teen Burger en hom bedank vir die droogtehulp wat hulle ontvang het, met sommiges wat sê dat hulle geld geskenk het as hulle voer ontvang, maar nie betaal het daarvoor nie.

Burre Burger Foto: Edrea du Toit

“Ons het nog nooit vir boere geld gevra vir enige voer nie. Ons het glad nie beheer oor voer of kos ná ons dit afgelaai het nie. Dan is dit in die boere se hande en besluite,” skryf Burger,

Onder dié wat steun of dankbaarheid aan Burger uitgespreek het, sluit in boereverenigings en ondernemings. Dit sluit in die Agter-Pakhuis landbouvereniging, Klipplaat boerevereniging en Jansenville landbouvereniging.

Werner Boshoff van Bulk Fuel Services en Boshoff Afrikaners het ook in ’n inskrywing gesê beide sy ondernemings ondersteun Burger al sedert 2018 en het nooit rede gehad om vuilspel te vermoed nie.

Luidens Droogtehulp met Burre Burger se webwerf is meer as 1 800 vragte voer sedert 6 Maart 2017 afgelewer, met R210 miljoen se waarde wat tot die landbou in Suid-Afrika en Namibië toegevoeg is.

“Om 600 vragte voer per jaar te stuur reg oor Suid-Afrika wil gedoen wees. Dit is egter nie moontlik sonder die volgehoue ondersteuning van mense met oop hande en harte van goud nie.”

Ons het nog nooit vir boere geld gevra vir enige voer nie. Ons het glad nie beheer oor voer of kos ná ons dit afgelaai het nie. Dan is dit in die boere se hande en besluite

Burger het aan Rapport gesê voer word nie net uitgedeel aan diegene wat skenkings maak nie en niemand word gedwing om te skenk om iets te ontvang nie.

Daar is berig dat mielieboere van die Oos-Vrystaat Burger gekonfronteer het nadat hy na bewering bale voer en mielies wat geskenk is aan boere in die Klein-Karoo verkoop het.

Verder is daar glo vrae oor die stand van die organisasie se finansiële sake en kon finansiële state nie verskaf word nie.

Sommige landbouverenigings is ook ontevrede omdat Burger weier om met hulle saam te werk en hul databasis van boere te gebruik, lui die berig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.