Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Busdiens in Kaapstad eers opgeskort
’n Bus van Golden Arrow het Maandagoggend in Khayelitsha, Kaapstad, uitgebrand ten tyde van ’n staking van taxidienste in die Wes-Kaap. Foto: Jaco Marais

Die MyCiTi-busdiens in Khayelitsha, Kaapstad, is tot verdere kennisgewing opgeskort nadat groot skade Maandag ten tyde van ’n taxistaking aangerig is.

Die Kaapstadse metroraad het die middag bevestig drie MyCiTi-busse is met klippe bestook en twee busse van Golden Arrow in Khayelitsha is aan die brand gesteek.

Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stedelike ontwikkeling, sê twee MyCiti-busse is die oggend kort voor spitstyd op pad na die Kuyasa-stasie aangeval en ’n derde bus is op die N2 met klippe bestook voordat die busdienste opgeskort is.

“Geen beserings is aangemeld nie, maar minstens vyf vensters van busse is gebreek. Die twee busse van Golden Arrow wat aan die brand gesteek is, blyk ook direk verwant te wees aan besluit van die minibustaxibedryf om hul dienste te weerhou.”

Golden Arrow het die middag bevestig dat sy dienste in Delft, Mfuleni, Nyanga en Khayelitsha opgeskort is en uit die buitewyke van dié gebiede bedryf word.

Dit kan egter na vertragings in omliggende gebiede lei.


Die taxivereniging Cata het aangedui dat hy Maandag sal staak omdat die staat nie reageer op die eise wat aan hom gestel is nie.

Volgens Herron hou dié besluit verband met kwessies oor die interne leierskap van die taxibedryf en is dit onduidelik wanneer dit opgelos sal word.

Hy het ook verneem van voorvalle waar gebruikers van die busdienste in Kuyasa geïntimideer en van busse af gedwing is.

“Ons het geen keuse gehad as om dienste op die D01- en D02-roetes in Khayelitsha om 06:30 op te skort nie.

’n Ligte afleweringsvoertuig van ’n tuindienste-onderneming is Maandagoggend vroeg in Delft, Kaapstad, uitgebrand ten tyde van ’n staking deur taxidienste in die Wes-Kaap. Foto: Jaco Marais

Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat die MyCiTi en Golden Arrow dienste geteiken word, terwyl ons ons bes probeer om pendelaars by te staan wat weens die taxibedryf se besluit gestrand is.”

Herron sê dit plaas boonop ’n groter las op pendelaars wat na die suidooste van die metro probeer reis, met dié dat die treindienste in Kaapstad ook onder hewige druk verkeer.

Mense wat minibustaxi’s gebruik, is aanbeveel om alternatiewe vervoerreëlings te tref, terwyl pendelaars ook vertragings van MyCiTi se dienste kan verwag.

Taxistaanplekke in gebiede soos Bellville en Kraaifontein in die noordelike voorstede het Maandag ook leeg gestaan weens die staking.

Bronwen Dyke-Beyer, woordvoerder van Golden Arrow, het die oggend bevestig dat daar ’n poging was ’n derde bus in Delft aan die brand te steek.

Die busse wat uitgebrand is, was deel van hul vervoerdienste aan personeel en niemand is beseer nie, berig Andrea Küsel.

Lees ook hier.

Meer oor:  Kaapstad  |  Busse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.