Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Busdrywer hang homself aan boom ná 8 in ongeluk sterf

Inwoners van ’n plakkerskamp en motoriste het Maandagoggend in Welkom afgekom op die grutoneel waar ’n busbestuurder homself in ’n boom opgehang het ná ’n ongeluk waarin agt buspassasiers dood is.

Owerhede het Maandagoggend die toneel opgeruim waar ’n Intercape-bus in Welkom in ’n verkeersirkel omgeslaan het. Agt passasiers en die busbestuurder is dood. Die busbestuurder het homself in ’n boom opgehang. Foto: Marti Will

Van die lyke was vasgepen onder die bus wat op sy sy gelê het.

Die bestuurder van die Intercape-bus het omstreeks 04:45 in die Almaweg-sirkel aan die buitewyke van Welkom beheer oor die bus verloor, waarna dit omgeslaan het.

Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse provinsiale gesondheidsdienste, sê drie kinders en vier vroue asook die busbestuurder is op die toneel dood verklaar.

’n Kind is met kritieke beserings na ’n hospitaal gebring, maar was met sy aankoms by die hospitaal dood.

Mvambi sê nog drie mense is kritiek beseer, agt het matige beserings en 35 het ligte beserings opgedoen.

Die beseerdes is in nabygeleë hospitale in Welkom opgeneem.

Intercape het nie op navrae gereageer oor waarom die bus, wat Sondagaand uit Durban vertrek het, nie op die gewone roete tussen Senekal, Welkom en Bloemfontein was nie.

Die bus ry gewoonlik via Welkom na Bloemfontein en dan na Upington. Almaweg, waar die ongeluk plaasgevind het, is nie op dié roete nie.

Die bus wat omgeslaan het in Welkom is weer op sy wiele getel om van die mense wat onder gelê het te bevry. Foto: Marti Will
Ondersoekbeamptes het Maandagoggend die bus deursoek nadat dit vroeg die oggend omgeslaan het en agt passasiers dood is. Foto: Alet van der Walt

Intercape sê net in ’n mediaverklaring dat die bus met 53 passasiers en twee busbestuurders van Durban na Upington op pad was.

Die maatskappy betreur die voorval en sê dat die bus twee weke gelede ’n padwaardigheidstoets geslaag het en dat die busbestuurder opgelei was en die roete geken het.

Kol. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, sê die name van die oorledenes kan nie bekend gemaak word nie omdat van hul naasbestaandes nog opgespoor moet word.

Van die oorledenes kom van Durban af.

Makhele sê klagte van strafbare manslag en ’n geregtelike doodsondersoek sal volg.

Die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer, het in ’n mediaverklaring meegevoel met die nege oorledenes se naasbestaandes uitgespreek.

Klere, komberse en ander besittings van passasiers het Maandagoggend langs die bus gelê. Foto: Alet van der Walt
Die bus kort nadat dit op sy wiele getel is. Foto: Alet van der Walt

Meer oor:  Welkom  |  Busongeluk  |  Ongeluk  |  Selfdood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.