Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Busstaking in Pta ‘gaan Dinsdag voort’
busbestuurders
Busbestuurders van Tshwane Busdienste het Maandag die middestad van Pretoria om die hooggeregshof versper. Foto: Isabel Venter

Die staking deur lede van die munisipale vakbond Samwu sal na verwagting Dinsdag weer chaos in die Pretoriase middestad veroorsaak.

Mpho Tladinyane, streeksekretaris van Samwu in die Groter Tshwane-streek, het Maandagaand gesê die staking, waaraan ongeveer 3 000 lede deelneem, gaan voort.

Hoewel hulle geen amptelike aanduiding aan die owerhede hieroor gegee het nie, het snr.supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, gesê hulle het gebeurlikheidsplanne gereed “asof die staking wel voortgaan”.

Verkeer en sake-ondernemings is Maandag erg ontwrig toe betogende busbestuurders van Tshwane se munisipale busdiens paaie en strate met onder meer busse versper het.

busstaking, staking, tshwane
Stakende werkers betoog in die strate van die Pretoriase middestad. Foto: Isabel Venter

Ook buspendelaars is gestrand gelaat.

Die verkeer op roetes na en van die middestad het eers teen donker begin normaliseer.

So erg was die ontwrigting dat Fikile Mbalula, minister van vervoer, sy kommer oor die “erge verkeersopeenhoping” in ’n verklaring geopper het.

“Verkeer in die stad is vir ure tot stilstand gedwing nadat busbestuurders die stad se busse gebruik het om sleutelkruisings te versper,” het die minister gesê.

Hy het die stakers gemaan om die regte van ander padgebruikers te respekteer en eerder hul griewe met die munisipaliteit te bespreek.

“Die stad is nie net die administratiewe hoofstad van die land nie, maar ook ’n deurslaggewende sakekern. ’n Volkome ontwrigting van dié aard ondermyn nie net die regte van ander padgebruikers om by hul werksplekke of sentrums van ekonomiese aktiwiteite uit te kom nie, maar het die gevaar van ’n ernstige terugslag vir ’n ekonomie wat nie ontwrigtings kan bekostig nie.

“Dit kan nie toegelaat word nie,” het Mbalula gesê.

Daar is vroeër berig dat die busbestuurders moontlik van diefstal aangekla kan word omdat hulle die busse onregmatig uit die busdepot verwyder het.

staking, busse, busstaking, Tshwane
Busse staan dwars oor die pad voor die hooggeregshof in Pretoria. Foto: Isabel Venter

Sheila-Lynn Senkubuge, burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer in Tshwane, het gesê die metro weet reeds sedert verlede week dat Samwu-lede Maandag om beter lone sou betoog, maar die betogers het ’n “stappie te ver gegaan deur busse sonder toestemming van die stad te neem om die sakekern te ontwrig en honderde motoriste te verontrief”.

Die busse wat op hoofroetes geparkeer was, moes weggesleep word, het sy gesê.

Tladinyane het gesê hul optrede is die gevolg van loononderhandelings wat “op niks uitgeloop het nie”.

Munisipale werkers wil ’n 18%-loonverhoging hê en hy voel dat die verbreking van die dooiepunt “doelbewus” deur die Tshwane-metro vertraag word.

Volgens Tladinyane is munisipale busbestuurders ontevrede oor die salarisverhogings wat sommige van hul afdelingshoofde gekry het. “Werknemers op laer vlakke se salarisse is nie verhoog nie. Al wat Samwu eis, is die billike behandeling van dié groep. Die metro gebruik ’n vertragingstaktiek aangesien daar nie op werkers se eise gereageer is nie en daar voortgegaan is met die herstrukturing van vergoedingspakkette. Dié reaksie van die metro beskou ons as ’n verwerping van ons 18%-eis,” sê Tladinyane.

“Dit is jammer dat ons tot hierdie uiterstes moet gaan om die metro se aandag te kry,” sê hy.

Meer oor:  Tshwane-Staking  |  Busstaking  |  Fikile Mbalula
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.