Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Busstaking: Vakbonde wil weer praat

Die vakbonde wat aan die nasionale busstaking deelneem, het ’n versoek aan die bedingingsraad gerig om vandeesweek weer met die werkgewers te vergader nadat onderhandelings verlede week ’n dooie punt bereik het.

Busdienste in die land se groot stede is vandeesweek steeds opgeskort. Die staking het op 18 April begin.

Die nasionale busstaking duur al sedert 18 April en busdienste bly vandeesweek opgeskort nadat onderhandelings verlede week ’n dooie punt bereik het. Foto: Adrian de Kock

Zanele Sabela, woordvoerder van die vervoervakbond Satawu, het Maandag gesê die betrokke vakbonde hoop om gesprekke met die werkgewersverenigings vandeesweek voort te sit en ’n skikking te bereik.

Intussen het die vakverbond Cosatu ’n beroep gedoen dat die staking dringend tot ’n einde kom sodat busdienste teen Woensdag kan hervat.

“Die staking benadeel dalk die gulsige eienaars van busmaatskappye, maar veroorsaak meer skade aan die pendelaars wat nou sonder vervoer sit,” lui ’n verklaring wat Cosatu Maandag uitgestuur het.

“Die regering en beleggingsmaatskappye van vakbonde wat aandele van die busmaatskappye besit, moet druk toepas op die bestuur om die verskil tussen wat aangebied word en wat geëis word, te deel.”

Busdienste in Suid-Afrika se stede bly opgeskort weens die voortgesette nasionale busstaking. Die betrokke vakbonde het Maandag aangedui dat hulle vandeesweek gesprekke wil voortsit om ’n ooreenkoms te bereik.Foto: Jaco Marais

Volgens Cosatu sal dit lei tot ’n ooreenkoms vir ’n jaarlikse verhoging van 8,5% vir die volgende drie jaar.

“Die ander uitstaande kwessies moet deur die regering en betrokke partye ingesluit word as deel van die algehele gesprek oor die subsidiestelsel vir busse.”

Vakbonde eis ’n verhoging van 9,5% vanjaar en 9% vir volgende jaar.

Dit sluit in Satawu, die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa), die Transport and Services Workers’ Union (Taswu, ook bekend as Tirisano), die Transport and Omnibus Workers’ Union (Towu), en die Transport and Allied Workers’ Union of South Africa (Tawusa).

Werkgewers bied ’n verhoging van 9% vir vanjaar en 8% vir volgende jaar aan.

Die Kaapse stadsraad het Maandag pendelaars herinner dat die MyCiTi-busdiens opgeskort bly tot verdere kennisgewing, terwyl alternatiewe vervoerreëlings getref moet word.

Die Suid-Afrikaanse padpassasiersbedingingsraad (Sarpbac) het die naweek in ’n verklaring gesê die werkgewers het ’n voorstel van ’n tweejaarooreenkoms, met ’n verhoging van 8% vanjaar en 8,5% in 2019, aanvaar.

Dit is deur ’n bemiddelaar van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) voorgestel.

“Hoewel die voorstel die ooreenkomste in die mynbou, metaalsektor en plaaslike regering van 6% tot 7,5% ver oorskry, het werkgewers hulle daartoe verbind om ’n skikking te bereik.”

Luidens die verklaring het Sarpbac-werknemers die afgelope tien jaar verhogings van 9% ontvang, wat “deurlopend die finansiering wat die tesourie toewys en inflasie oorskry”.

Tesame met dié koste het die prys van diesel verdriedubbel.

“Met beperkte steun deur subsidies sal pendelaars die swaarste dra aan die buitensporige salarisverhogings wat bestuurders eis. Ons passasiers kom uit lae-inkomste-gemeenskappe en verdien salarisse wat gemiddeld drie keer minder is as wat die bestuurders vra."

Meer oor:  Kvba  |  Cosatu  |  Towu  |  Myciti  |  Golden Arrow  |  Numsa  |  Vakbonde  |  Onderhandelinge  |  Busstaking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.