Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Buthelezi ontken hy het gesê koningin is vergiftig

Prins Mangosuthu Buthelezi (92), premier van die Zoeloe-nasie, het Woensdag ontken hy het daarop gesinspeel dat koningin Mantfombi Dlamini-Zulu (65), die Zoeloes se tussentydse leier wat verlede week skielik gesterf het, vergiftig is.

Daar word in sekere kringe in KwaZulu-Natal bespiegel Dlamini-Zulu is moontlik vergiftig omdat die monarg enkele dae voor haar dood nog blakend gesond was.

Die koningin is verlede week onverwags in die Milpark-hospitaal in Johannesburg oorlede.

Zoeloes in tradisionele drag Woensdag voor die lykshuis in Hillbrow, Johannesburg, van waar die oorskot van koningin Mantfombi Dlamini-Zulu, die Zoeloes se tussentydse leier wat verlede week dood is, na KwaZulu-Natal teruggeneem is. Foto: Gautengse regering

Buthelezi sê al wat hy gedoen het, was om te sê wat die dokters gesê het. Dié het gesê daar is toksiese stowwe in haar bloed gevind, maar dit beteken nie sy is vergiftig nie. Dit is kwaadwillig om te sê hy het gesê sy is vergiftig.

“In hierdie stadium weet ons nie wat die oorsaak van haar dood is nie,” het Buthelezi by die koninklike paleis in Nongoma in die noorde van KwaZulu-Natal aan joernaliste gesê.

Dlamini-Zulu se oorskot is intussen op pad na Nongoma, waar sy Donderdagoggend voor dagbreek begrawe sal word.

’n Afvaardiging van die Zoeloe-koningshuis het Dlamini-Zulu se oorskot Woensdagoggend by die lykshuis in Hillbrow, Johannesburg, gaan haal.

Te midde van groot spanning in die koninklike familie ná die afsterwe van die koningin wat dood is voordat sy ’n opvolger vir koning Goodwill Zwelithini (wat op 12 Maart oorlede is) kon aanwys, het talle Zoeloes, geklee in tradisionele drag, buite die lykshuis byeengekom en liedere tot eer van die afgestorwe monarg gesing.

Die konvooi met die stoflike oorskot van koningin Mantfombi Dlamini-Zulu van die Zoeloes, Woensdag op die N17-hoofweg in Gauteng onderweg na KwaZulu-Natal. Foto: Gautengse regering

Baie van hulle was jong vroue.

Die groot konvooi voertuie het daarna via Ermelo in Mpumalanga en eMkhondo (Piet Retief) in KwaZulu-Natal naby die grens met eSwatini (Swaziland) – waar sy gebore is – na die koninklike paleis beweeg.

Dlamini-Zulu was die suster van koning Mswati III van die Swazi’s en dogter van koning Sobhuza II.

’n Roudiens vir die koningin sal Vrydag gehou word.

Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër ’n provinsiale staatsbegrafnis vir die koningin goedgekeur.

Koningin Mantfombi Dlamini-Zulu.

David Makhura, premier van Gauteng, en vyf lede van sy uitvoerende raad het die konvooi tot by die grens met Mpumalanga naby Emalahleni vergesel.

Provinsiale verkeersbeamptes van die drie provinsies waardeur die konvooi gereis het, verskaf begeleiding.

’n Afvaardiging van die KwaZulu-Natalse regering sal die konvooi op die grens tussen Mpumalanga en KwaZulu-Natal inwag. Die konvooi is vroegaand in Nongoma verwag.

Intussen het Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, vier lede van sy uitvoerende raad afgevaardig om as bemiddelaars op te tree in die geskil in die koningshuis. Die geskil het begin nadat die koningin – wat soos haar oorlede man gesien is as ’n verenigende faktor – oorlede is.

Zwelithini het voor sy dood opdrag gegee dat wanneer hy tot sterwe kom Dlamini-Zulu sy opvolger moes aanwys.

Die verwagting was dat sy haar seun prins Misuzulu as die nuwe koning sou aanwys.

Een van Zwelithini se ander vyf vroue, koningin Sibongile Dlamini, het haar vandeesweek tot die hooggeregshof in Pietermaritzburg gewend. Sy maak aanspraak op 50% van Zwelithini se boedel aangesien sy die koning se eerste wettige vrou was.

Meer oor:  Kwazulu-Natal  |  Johannesburg  |  Vergiftig  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.