Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Buurtwag in Bellville zoem nou met hommeltuie

Die AfriForum-buurtwag in Bellville het twee hommeltuig-vlieëniers in Orania laat oplei om te help om misdaad in dié Kaapse woonbuurt vas te vat.

Dié vlieëniers, Johan Fritz en Eben Nel, gaan voortaan die Kaapse metropool met veiligheidsoptredes ondersteun.

AfriForum sê in ’n verklaring buurtwagte kan gebiede met hommeltuie verken sonder om mense in gevaar te stel.

Die hommeltuigvlieëniers, Johan Fritz en Eben Nel.

Die burgerregte-organisasie sê inligting wat tydens verkenningsoperasies ingewin word – soos brandpunte in die area, moontlike vuurwapens en die teenwoordigheid van verdagtes – kan die SAPD en ander veiligheidsdienste in hul werk ondersteun.

“Dié vlieëniers is opgelei in die regsaspekte van hommeltuigvlugte, hoe om die hommeltuig veilig te beman en ook om tydens operasies suksesvol met grond-tot-lug-radio’s te kommunikeer.”

Die vlieëniers werk tydens veiligheidsoperasies in spanne van twee, maar albei operateurs kan die tuig beheer.

“AfriForum sal voortgaan om mense te bemagtig om hulself en hul gemeenskappe te beveilig. Ons glo dié hommeltuig-opleiding gaan nog vele suksesse in die toekoms verseker,” sê Johardt van Heerden, AfriForum in die Boland se distrikskoördineerder.

Thomas van Dalen, AfriForum se nasionale opleidingsbestuurder, sê die vlieëniers se opleiding het die handleiding wat die Burgerlugvaartowerheid (BLO) voorskryf, ingesluit. Dit sluit alle wetgewing en regulasies oor die gebruik van die lugruim deur alle lugtuie in.

Hy sê die twee is formeel geassesseer en het elk ook minstens 20 uur se praktiese opleiding in die vlieg van hommeltuie gekry.

AfriForum sal voortgaan om mense te bemagtig om hulself en hul gemeenskappe te beveilig.

“Hulle doen ook ’n daglange geakkrediteerde kursus, en lê ’n formele eksamen af in die gebruik van grond-tot-lug-radiokommunikasie, waarvoor hulle ’n lisensie kry. Die vlieënierskursus is ’n voorloper tot die kommersiële lisensie.”

Van Dalen sê die teoretiese en praktiese vliegopleiding het oor vyf dae gestrek en een dag vir radio-opleiding.

Volgens Van Dalen het die vlieëniers ook hul afstandbeheer-sertifikate gekry.

Van Dalen sê die vlieëniers sal normaalweg op versoek van een van die wetstoepassingsagentskappe (SAPD, metropolisie of DAFF) optree, wat hulle dan die nodige magtiging sal gee.

Hulle dien ook voor elke vlug ’n formele vlugplan in.

Van Dalen sê alhoewel die BLO die handleiding goedgekeur het, is dit nie ’n kursus wat deur die BLO geakkrediteer is nie.

“Die BLO is terdeë bewus van die kursus wat ons aanbied; hulle akkrediteer slegs die kommersiële lisensie. Ons het reeds drie vlieëniers wat die kommersiële lisensie verwerf het,” het hy gesê.

Die BLO het teen druktyd nog nie op navrae geantwoord nie.

Meer oor:  Johan Fritz  |  Eben Nel  |  Bellville  |  Kaapstad  |  Misdaad  |  Afriforum-Buurtwag  |  Hommeltuie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.