Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Buurtwag kry woema met geborgde bakkie

Regina “Mammie” Power, direkteur van die Douglas-buurtwag, het nuwe woema gekry nadat dié misdaadbekampingsorganisasie ’n voertuig gekry het om misdadigers uit hul gate te jaag.

Regina “Mammie” Power van die Douglas-buurtwag ontvang die sleutels van ’n bakkie wat Johan van Rhyn met behulp van borge namens ander buurtwagte geskenk het. Foto: Lerina van der Linde

Johan van Rhyn, wat by ’n ander buurtwag in Douglas in die Noord-Kaap betrokke is, het die Nissan-bakkie die afgelope Saterdag aan Power oorhandig.

Power sê hulle is baie dankbaar oor die bakkie, wat hul werk gaan vergemaklik. Hul maandelikse brandstof word ook geborg.

“As deel van Operation Wanya Tsotsi van Kimberley het ons amptelik op 1 Desember verlede jaar begin met misdaadbekamping. Ons doen patrollies in Douglas, Breipaal, Bongani en Bucklands.

“Die hele gemeenskap van Douglas is siek en sat vir misdaad. Ons gee vir mekaar om, en moet daarom na mekaar omsien.

“Dit is veral dwelmmisbruik wat ons gemeenskappe teister. ’n Mens moet selfs jou wasgoed oppas, omdat dit van wasgoedlyne gesteel en vir dwelmgeld verkoop word.”

Sy sê inwoners het vertroue in die polisie verloor omdat hulle nie dadelik op klagte reageer nie.

“Mense ken ons reeds goed en bel ons eerste met hul klagte.”

Sy was jare lank by die polisie as ’n reservis betrokke.

Volgens haar het hulle 127 lede en daagliks wil nog mense aansluit.

“Ons kry geen vergoeding nie en werk in ons eie tyd. Ons het tot nou ons eie voertuie en brandstof gebruik om patrollies te doen. Dit is hoekom ons so dankbaar oor die bakkie is.

“Wanneer ons ’n klag ontvang, sal ons dadelik ondersoek instel en verdagtes soek, en indien hulle skuld beken, aandring dat hulle verskoning vra. Gesteelde goedere word dadelik aan die regmatige eienaars teruggegee.

Ons het al baie wapens en dwelms gekonfiskeer en goedere wat in huisinbrake gebuit is, teruggevind.
Regina “Mammie” Power

“Ons waarsku die boosdoeners om in hul spore te trap.”

Die geborgde motor en brandstof gaan ’n groot verskil maak.

“Dié ingryping bespaar baie tyd en moeite, omdat die polisie en howe nie altyd betrokke raak nie.

“Ons het al baie wapens en dwelms gekonfiskeer en goedere wat in huisinbrake gebuit is, teruggevind.”

Die buurtwag bekamp nie net misdaad nie.

Sy sê hulle het ’n sopkombuis begin om straatkinders en bejaarde mense kos te gee.

Van Rhyn meen die Douglas-buurtwag is ’n baie suksesvolle misdaadbekampingsgroep.

“Ons ondersteun mekaar onderling. Hulle is nou betrokke by die skole, snoepiewinkels, veediefstalvoorvalle, dwelmmisbruik en konfiskeer ongelisensieerde wapens. Daarom het ek groot boere en sakemanne vir die borgskap genader.”

Meer oor:  Douglas  |  Buurtwag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.