Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bybel behoue toe skoolbus brand

’n Groot terugslag het die Suid-Vrystaatse dorpie Bethulie se Pellissier- Gekombineerde Skool getref toe die skoolbus Donderdag onderweg na Colesberg skaars tien km buite die dorp aan die brand geslaan en heeltemal uitgebrand het.

’n Onderwyseres en ’n skoolmeisie is steeds in die hospitaal nadat hulle onder meer brandwonde opgedoen het.

Die bus was met 55 leerlinge en vyf onderwysers op pad na ’n sportdag in Colesberg.

Terwyl hulle gery het, het kinders agter in die bus skielik rook begin ruik.

“Die volgende oomblik het ons gesien hoe vlamme by die enjin net agter die bestuurder uitkom,” vertel Hettie Muller, ’n leerkrag by die skool.

Mev. Hettie Muller, onderwyseres aan die Pelllissier- Gekombineerde Skool in Bethulie met die Bybel wat behoue in die bus gevind is. Die sakrekenaar wat onder die Bybel gevind is, het gedeeltelik behoue gebly. Foto: Coreli Roos

“Toe hulle sê dat hulle rook ruik, het ek reeds baie stadig gery en dit reggekry om die bus vinnig in die rybaan tot stilstand te bring,” vertel haar man, Gerhard, wat die bus bestuur het.

“Die brandblusser was gou leeg gespuit, maar ek het dit gebruik om van die vensters uit te slaan.”

Sean du Randt, ’n gr. 11-seun, het die agterste venster uitgeslaan en ander leerlinge het van die syvensters gebreek.

“Almal het deur die vensters ontsnap en ’n paar by die voorste deur uit,” sê Muller.

’n Boer en sy werkers het met brandblustoerusting gehelp om die brand finaal te blus. Die bus is egter totaal uitgebrand.

In die puin agter in die bus is ’n Bybeltjie gevind wat grootliks behoue gebly het. Die Bybel het bo-op ’n sakrekenaartjie gelê en dit beskerm.

Die meeste kinders se skooltasse en sportklere asook skoolskoene is tot niet.

Een van die onderwysers, Mariëtte Smit, is beseer in haar poging om uit die bus te kom.

Sy is met ’n gebreekte elmboog en erge brandwonde aan haar bene in die MediClinic Bloemfontein se waakeenheid opgeneem.

Agnes van Wyk, ’n gr. 7-leerling wat ook brandwonde aan haar bene opgedoen het, is steeds in die Trompsburg-hospitaal.

Sewe ander kinders wat ook in dié hospitaal vir ligte brandwonde, rookinaseming en snywonde behandel is, is ontslaan.

Die Mullers sê hulle is baie dankbaar vir die Here se genade en dat almal gespaar is. “Dit kon baie anders verloop het.

“Ons is ’n baie arm skool wat geen skoolgeld hef nie en het die bus ook gebruik om die plaaskinders gedurende vakansietye en langnaweke te vervoer. Hoe gaan ons nou oor die weg kom?” vra Hettie.

Die skool het dringend hulp nodig om die bus te vervang, sê sy.

Die bus was sowat 44 jaar in diens en is soos goud opgepas en goed in stand gehou, sê die Mullers.

Die bus het nog pas sy halfjaarlikse toets by die verkeersdepartement met vlieënde vaandels geslaag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.