Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bye-aanval: Pa, ma en ousus ontslaan
Carl Pretorius (32) en sy dogter Rojandi (12) Donderdag by hul huis kort nadat hulle ontslaan is. Jorina (28), wat ook ontslaan is, sal egter nog by die egpaar se ander twee dogters in die hospitaal bly. Foto: Verskaf

Drie van die vyf gesinslede van Mbombela in Mpumalanga wat Sondag deur ’n swerm bye aangeval is, is Donderdagoggend uit die plaaslike Mediclinic ontslaan.

Carl Pretorius (32) en sy vrou, Jorina (28), en hul dogter Rojandi (12) kan nou by die huis aansterk.

“Ons voel maar nog pap en moeg, en het nog baie swelling. Die dokter sê ons het bedrus nodig en ons mag ook nie oefen of aktief wees nie,” het Jorina Donderdag aan Netwerk24 gesê.

Sy sê hul ander twee dogters, Juané (6) en Lienta (vier maande oud), moet nog in die hospitaal aansterk.

“Juané kry nog antibiotika en Lienta is nog baie gedehidreer. Ek gaan nog vanaand by my twee dogtertjies bly en as alles goed verloop, kan ons ook môre (Vrydag) huis toe gaan,” sê Jorina.

Pretorius het Donderdag gesê dit is ’n verligting om terug by die huis te wees. “Ons mis die res van ons gesin, maar is bly dat ons alles vir hulle gereed kan kry sodat ons almal die herstelproses by die huis kan begin.”

Die Pretorius-gesin was Sondag in hul motor toe ’n swerm bye hulle kort voor 18:00 aangeval het op die kleinhoewe waar hul woon.

Pretorius het sy vrou en kinders ná aandete na ’n uitkykpunt op die kleinhoewe geneem toe die aanval slegs 1,5 km van hul huis gebeur het.

“Die bye het deur die motor se venster gekom. Daar was eers net een en toe duisende,” het hy vroeër gesê.

Hulle het vermoedelik oor ’n byenes gery.

Die gesin het uit die motor gespring om van die bye weg te kom en hulle het na ’n waterpoel daar naby gevlug.

Vroeër is berig dat Lienta in die aanval twee keer opgehou asemhaal het en dat Pretorius mond-tot-mond-asemhaling op haar toegepas het.

“Die bye het net aangehou om ons te steek. Ek het op ’n punt my hemp uitgetrek en met modder bedek en Lienta daarin toegedraai in die hoop dat die bye haar sal uitlos. Sy het in ’n stadium opgehou skree en ophou asemhaal. Ek moes toe mond-tot-mond-asemhaling op haar toepas. Dit het 15 minute later weer gebeur,” het hy gesê.

Albei ouers het ook oor Lienta en Juané geleun om die bye van hul kinders te probeer wegkeer.

Rojandi het tydens die aanval na ’n ander huis op die kleinhoewe gehardloop waar sy hulp gekry het. Die gesin is daarna deur paramedici bygestaan en na die hospitaal geneem.

Die Pretorius-gesin van Mbombela is van links Jorina (28), met die vier maande oue Lienta op die arm, Juané (6) voor, Carl (32) en Rojandi (12). Foto: Verskaf

Meer oor:  Bye-Aanval  |  Carl Pretorius
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.