
Twee inwoners van Bethlehem het slaggate in dié straat opgevul toe ’n polisielid hulle glo dreig. Foto: Verskaf
Twee inwoners van Bethlehem in die Vrystaat het Vrydag byna in die tronk geslaap toe hulle uitgevind het dat geen goeie daad ongestraf bly nie.
Koos van Noordwyk, ’n inwoner van Bethlehem, sê hy en nog ’n man wat in dieselfde straat as hy bly, het Vrydag slaggate in die dorp reggemaak.
Van Noordwyk sê hulle het ’n hoop ongebruikte gruis, wat minstens al twee jaar lank op ’n verkeerseiland lê, gebruik om slaggate op te vul.
Hy sê die straat, Barry de Kok-rylaan, is so vol gate dit is onbegaanbaar.
“Mense ry al op die sypaadjie. As jy die gate aanmeld, maak die munisipaliteit miskien twee reg, maar los die ander tien of 12,” sê hy.
Van Noordwyk sê twee polisielede het in die straat opgedaag nadat hy en die ander man so ses of sewe gate opgevul het.
“Ek het die idee gekry hy wil net sy gewig rondgooi en ’n bietjie rang trek.”
Volgens Van Noordwyk het die twee polisielede gesê hulle sal toegesluit word, want hulle steel staatseiendom.
Hy sê die polisielede het hulle gedreig, waarna hy en sy helper besluit het om die projek liefs te laat vaar.
Omdat geen klagte deur die inwoners of die polisielid ingedien is nie, kan die polisie nie kommentaar lewer op die voorval nie.
Mense ry al op die sypaadjie. As jy die gate aanmeld, maak die munisipaliteit miskien twee reg, maar los die ander tien of 12.

Dié hoop gruis, wat glo minstens twee jaar lank hier lê, is deur inwoners gebruik om slaggate op te vul. Foto: Verskaf