Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Catzavelos sê hy is nou ’n beter mens ná k-woord-video

Adam Catzavelos sê hy het sedert hy die berugte video gemaak het waarin hy die k-woord gebruik, geleer om “reg asem te haal” en is “totaal hergebore”.

Adam Catzavelos glimlag saam met die gogos wat hy leer mediteer. Hulle het hom Donderdag in die hof kom ondersteun. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Catzavelos se vonnisverhoor het Donderdag in die landdroshof in Randburg begin nadat hy verlede jaar op ’n aanklag van crimen injuria skuld beken het.

Hy het aan Netwerk24 gesê hy het voor die verrigtinge ’n ysbad geneem waarvan die water se temperatuur -2 °C was, “want dit help my om voor te berei om my grootste vrese aan te durf, en dit was vandag se saak”.

Catzavelos is verlede jaar deur die gelykheidshof beveel om 160 uur gemeenskapsdiens te doen, ’n openbare verskoning maak en ’n boete van R150 000 betaal.

Tydens Donderdag se hofverrigtinge het Catzavelos gesê hy betaal dié bedrag af in paaiemente van R5 000 vir 30 maande.

Dié geld gaan na die Seth Mazibuko Legacy Foundation in Orlando, Soweto, waar Catzavelos nou sy gemeenskapsdiens doen, “en die gogos en makhulus leer om reg asem te haal en te mediteer”, sê Catzavelos.

Seth Mazibuko, die stigting se hoof, het ook Donderdag getuig en is deur Catzavelos se ma in die hof verwelkom met ’n stywe druk en “hierdie een is vir Suid-Afrika”.

Catzavelos het eerste die getuiebank betree en is deur die staat, verdediging en die landdros ondervra.

Adam Catzavelos het tydens ’n onderbreking in die hofsitting met belangstellendes buite die hof gesels. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Gedurende sy getuienis is hy deur staatsadvokaat Dinesh Nandkissor gevra wat die werklike bedoeling met sy video was.

“Ek kan nie vir jou sê wat deur my kop gegaan het nie, maar ek is ontsettend jammer. Ek was vasgevang in my eie ego, maar ek is glad nie meer daardie mens nie,” het Catzavelos geantwoord.

Landdros Hleziphi Mkhasibe het gevra of Catzavelos dink hy is beter as swart mense. Hierop het hy geantwoord dat hy wel in daardie stadium dalk so kon voel, maar dat dit alles iets van die verlede is.

“Ek is nie spyt oor dit wat gebeur het nie en sou niks daaraan verander nie, want dit het van my ’n beter mens gemaak,” sê Catzavelos.

Adam Catzavelos sê die tyd wat hy saam met die gogos en makhulus by die Seth Mazibuko Legacy Foundation deurbring, het sy lewe verander. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Mazibuko, ’n getuie vir die verdediging, het toe die bank betree. Op ’n vraag van Catzavelos se regsverteenwoordiger, Lawley Shain, oor of Catzavelos werklik gegroei het, het Mazibuko gesê “beslis”.

“Aan die begin was ek skrikkerig, maar ek het gesien Adam wil verander. Wanneer hy homself aan mense voorstel, vertel hy dadelik sy storie en vra dan vergifnis. Hy wil verantwoording doen vir sy dade en wil nie eers sy baard afskeer nie, sodat mense hom kan herken,” sê Mazibuko.

Nandkissor het aangevoer dat hy juis sy baard hou sodat mense nie moet weet wie hy is nie, want in die video was hy skoongeskeer.

Die staat het hul enigste getuie, Mandisa Mashego, die klaer en Gautengse leier van die EFF, geroep. Sy het geëis dat Catzavelos minstens tien jaar agter tralies deurbring.

“Ek het persoonlik verneder gevoel toe ek die video sien. Ek maak gereeld my stem dik oor rassisme wat ’n strafregtelike oortreding moet wees en as dit was, sou hy niks minder as tien jaar verdien het nie,” sê Mashego.

Die verdediging het in sy slotbetoë gesê dat Catzavelos werklik berou toon vir sy optrede en dat hy reeds deur die gelykheidshof gestraf is.

Shain het ook gesê die publisiteit wat die saak gekry het, het reeds se tol geëis en Catzavelos en sy vrou sit albei tans sonder werk.

Die geld wat gebruik word om die boete te betaal, kom van Catzavelos se aandele in die familiemaatskappy wat hy moes verkoop.

Die staat het egter aangevoer dat Catzavelos nie werklik berou toon nie omdat hy eers om verskoning gevra het nadat hy aangekla is en dat iemand hom boonop met hierdie verskoning moes help.

“Die vraag bly staan waarom hy nie dadelik ’n video geneem het waarin hy om verskoning vra nie. Wys hy dan berou of probeer hy net ’n ligter vonnis kry,” het Nandkissor gesê.

Volgens hom het Catzavelos ook nie besef hoe seer hy swart mense in Suid-Afrika werklik gemaak het nie tot hy sy gemeenskapsdiens begin doen het.

“Die vonnis is nie net ’n boodskap aan hom nie, maar aan elke Suid-Afrikaner om te sê die gebruik van enige neerhalende term sal nie geduld word nie,” het Nandkissor gesê.

Die saak is tot 28 Februarie vir vonnisoplegging uitgestel.

Mandisa Mashego, leier van die Gautengse EFF-tak en die klaer in die saak, word deur partylede vergesel. Foto: Arisa Janse van Rensburg
Seth Mazibuko het getuig dat Adam Catzavelos beslis berou toon. Foto: Arisa Janse van Rensburg
Adam Catzavelos in die gange van die landdroshof in Randburg. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Meer oor:  Adam Catzavelos  |  Randburg  |  K-Woord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.