Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Cele besoek familie van vermoorde beamptes

Bheki Cele, minister van polisie, besoek Donderdag die families van die twee Kaapse wetstoepassingsbeamptes wat Woensdag op die Kaapse Vlakte vermoor is.

Sithembile Nyangiwe en Jan Nieuwenhuys, onderskeidelik van Delft en Thornton, is Woensdag helder oordag in Sweet Home Farm in Philippi deur rowers geskiet. 

Jan Nieuwenhuys is een van die beamptes wat Woensdag in Philippi doodgeskiet is.

Vier mans en ’n jong vrou is in hegtenis geneem nadat die vermoorde beamptes se vuurwapens in hul besit gevind is.

Nyangiwe en Nieuwenhuys het in hul voertuig gesit en ’n kontrakteur en sy werkers opgepas wat besig was met bouwerk in die gebied.

Twee mans het hulle genader, op hulle losgebrand en die twee in die kop en bolyf geskiet. Nieuwenhuys is in die voertuig gekry en Nyangiwe het buite die voertuig op die grond gelê.

Hulle is albei in die kop geskiet en in ’n kritieke toestand per helikopter na ’n hospitaal gebring, waar hulle dood is.

Luidens ’n polisieverklaring sal Cele eers die huis van Nyangiwe besoek en daarna na Nieuwenhuys se familie gaan.

Die Wes-Kaapse polisie het Woensdagaand bevestig dat provinsiale speurders, ondersteun deur lede van Operasie Lockdown, in ’n multidissiplinêre operasie die vier mans tussen die ouderdomme van 19 en 33 jaar, asook ’n 23-jarige vrou in hegtenis geneem het.

“Die verdagtes is in besit gevind van vier vuurwapens - drie Glocks en ’n Norinco - vyf magasyne en 45 patrone in die informele nedersetting Ramaphosa in Nyanga,” sê lt.kol. Andrè Traut, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder.

Volgens Traut is twee van die Glocks as die vuurwapens geïdentifiseer wat by die vermoorde wetstoepassers gesteel is. Daar word na nog verdagtes gesoek.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het die aanval skerp veroordeel.

“Ek veroordeel hierdie hartelose daad en doen ’n beroep op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) om die skuldiges vas te trek en seker te maak dat hulle die volle mag van die gereg voel.”

Plato het sy medelye met die families, vriende en kollegas van die twee beamptes uitgespreek.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het die aanval beskryf as ’n sinlose daad van uiterste geweld teen beamptes wat die gemeenskap gedien het.

Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse DA-leier, het namens die DA die moorde ten sterkste veroordeel.

Madikizela het ’n beroep op die SAPD gedoen om vinnig op te tree en diegene aan te keer wat vir die moorde verantwoordelik is.

“Ons gedagtes gaan uit na die families en geliefdes van die beamptes.”

Hy sê gemeenskappe moet saamstaan om veiligheidspersoneel te help.

“Kom ons hou mekaar veilig in ’n poging om die Wes-Kaap ’n veiliger plek vir almal te maak.”

Meer oor:  Bheki Cele  |  Philippi  |  Kaapse Vlakte  |  Moord  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.