Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Cele wil praat oor lede wat met landwye staking dreig

Bheki Cele, minister van polisie, hou Donderdag ’n mediakonferensie oor gerugte dat omgekrapte polisielede landwyd wil staak.

Sekere lede het reeds in Gauteng en KwaZulu-Natal met ’n sloerstaking begin omdat hulle oor “kitsbevorderings” van lede in sekere polisie-eenhede ongelukkig is.

Die “sweer kan enige tyd oopbars” en dit kan ontaard in ’n “volskaalse landwye staking”, waarsku polisiebeamptes.

Bheki Cele. Foto: Jaco Marais

In ’n memorandum wat versprei word, word polisielede aangemoedig om te “mobiliseer” omdat hul vakbonde hulle in die steek laat.

Hoewel die gerugte van ’n staking vroeër as “fopnuus” afgemaak is, is daar kommer oor die tydsberekening van die dreigemente kort voor die verkiesing.

Na verneem word, het sommige polisie-eenhede, soos die taktiese reaksie-eenheid en die presidensiële beskermingsdiens, die laer range van konstabel en sersant uitgefaseer.

Lede met daardie range is nou tot adjudant-offisier bevorder.

“Mense wat hul kollege-opleiding verlede jaar voltooi het, is nou skielik adjudant-offisiere, net oor die eenheid waarin hulle geplaas is. En in die polisie is jou salaris aan jou rang gekoppel,” sê lede.

Polisielede is sinies oor Cele se beoogde mediakonferensie.

“Ons vermoed die minister gaan ons probeer intimideer met waarskuwings dat die polisie ’n noodsaaklike diens is wat nie mag staak nie, en dat ons in die moeilikheid kan kom of wéér met bevorderings oor die hoof gesien gaan word indien ons staak.

“Dit lyk ook nie in dié stadium of ons op ons vakbonde kan staatmaak nie,” sê van die lede. Daarom is hul eerste stap om op Maandag 18 Maart na Sapu en Popcru se kantore te gaan.

“Die vakbonde eet ons geld, en dan stem hulle saam met nonsens soos dié kitsbevorderings. Ander noodsaaklike dienste staak. Ons is die enigstes wat nié staak nie, terwyl ons lewe in gevaar is en ons gesinne sukkel om te oorleef,” lui die memorandum.

Maygene de Wee het vroeër berig dat van die polisielede ook dreig om die polisiebestuur en die minister van polisie oor die bevorderings hof toe te vat.

’n Polisiebeampte het gesê hulle het in Januarie en Februarie skrywes met hul griewe aan Cele gestuur, waarvan dadels gekom het.

Hulle het op 13 Februarie aan die portefeuljekomitee oor polisie en die speaker van die Nasionale Vergadering geskryf. Die briewe is erken, maar daar was geen verdere terugvoering nie.

Ons ou manne, wat al jare in ’n rang is, is goed genoeg om kanonvoer te wees, om ons kundigheid en ervaring vir die publiek se veiligheid te gebruik.

Polisielede meen dat hulle net reaksie sal kry as hulle staak. Lede van alle rasse steun glo ’n moontlike staking.

“Dis nie net vakbondlede of ’n sekere groep wat geraak word nie. As jy nie in ’n spesiale eenheid is nie, is jy geskroef,” sê ’n adjudant-offisier wat al 22 jaar lank dié rang beklee.

’n Ander lid sê toe hy aangestel is, was daar ’n proeftydperk van twee jaar, waarná ’n lid nege jaar as konstabel en ses jaar as sersant moes diens doen voordat hy tot adjudant-offisier bevorder kon word.

“Nou spring groentjies drie range.”

Nog ’n polisielid sê in sy loopbaan van 19 jaar is hy onder meer opgelei om afgevylde reeksnommers op vuurwapens te herwin en landmyne op te spoor, maar hy “vrot” in dieselfde rang.

Ander lede het spesialis-kursusse, aangebied deur die FBI en Scotland Yard, voltooi. Verskeie het hulself verder bekwaam en het honneurs- en meestersgrade behaal.

“Tog word jy nie vir jou kwalifikasies betaal nie, maar vir die ‘elite’-eenheid waar jy werk – of saam met wie jy slaap,” sê van hulle.

Op die vraag hoe hulle ’n staking regverdig, was die antwoord: “Een van die publiek se grootste probleme met die polisie is ’n gebrek aan professionaliteit en kundigheid.

“Nou word iemand rou uit die kollege as ’n ao. aangestel en ondersoek ’n saak. Hoeveel sake word uit ’n hof gegooi en verdagtes stap vry weg omdat die verklaring wat die polisielid van die klaer afgeneem het, gebrekkig is?

“Hoe wil jy ’n professionele organisasie wees wat vertroue inboesem met onkundige en onervare mense in hoër range?”

Nog een verduidelik: “Ons ou manne, wat al jare in ’n rang is, is goed genoeg om kanonvoer te wees, om ons kundigheid en ervaring vir die publiek se veiligheid te gebruik.

“Maar ons is nie goed genoeg om bevorder te word nie”.

Sapu reageer:

Sapu het Woensdagmiddag ‘n beroep op die polisie se bestuur gedoen om die dreigende staking, veral op stasievlak, af te weer.

Die vakbond sê in ‘n verklaring hulle het “met kommer” kennis geneem van die gesprekke tussen ongelukkige polisiebeamptes oor “wat hulle voel is voorkeurbehandeling aan spesialiseenhede ten koste van beamptes by polisiekantore”.

Tumelo Mogodiseng, sekretaris van Sapu, sê hulle erken die feit dat die polisie ‘n noodsaaklike diens is wat nie mag staak nie.

“Ons ondersteun die lede waarvan sommige al meer as ‘n dekade in een rang is. Ons versoek die bestuur om hul trots te sluk en tot hul sinne te kom en die staking af te weer, wat die land duur te staan kan kom,” sê hy.

Luidens die verklaring is net die “blote praat” van ‘n staking al te veel omdat so iets dienslewering kan beïnvloed.

“Dit is duidelik dat ons reeds ‘n gedemoraliseerde werksmag het. ‘n Gedemotiveerde polisiediens is ‘n resep vir ‘n ramp. Soveel soos ons lede ook al wil waarsku teen die gevaar van betrokkenheid by ‘n staking, kan ons nie die moontlikheid van ‘n staking ontken nie omdat ons die frustarasie van ons lede verstaan,” sê die vakbond.

“Sapu doen ‘n beroep op genl. Khehla Sitole, nasionale kommissaris, om vinnig te reageer en leierskap toe te pas voordat dit te laat is.”

Hulle waarsku dat dit noodsaaklik is om “koelkop” te bly omdat “gegriefde lede ‘n gevaarlike bedreiging vir die stabiliteit van die land kan wees aan die vooraand van die verkiesing op 8 Mei”.

 

Meer oor:  Sapd  |  Bheki Cele  |  Polisielede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.