Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Centurion-aanval: Vrou steeds in waakeenheid

Magda van Heerden se toestand het effens verbeter sedert sy en haar man op 10 Januarie na bewering deur hul seun en twee vriende aangeval is, hoewel sy steeds in die waakeenheid van die hospitaal behandel word.

Sy is daardie aand glo meer as 20 keer met ’n mes gesteek, terwyl haar man, Barnie, glo met ’n gholfstok geslaan en ook met ’n mes aangeval is.

Kort daarna is hul seun, Ruan van Heerden (18), Colson Phelps (20) en ’n 17-jarige meisie op klagte van onder meer poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en diefstal in hegtenis geneem.

Barnie (54) is kort ná die aanval ontslaan.

Magda (49), ’n lupuslyer, se toestand was egter in ’n stadium kritiek nadat daar vermoedelik septisemie ingetree het.

Ruan van Heerden en Colson Phelps vroeër in die hof waar hulle daarvan beskuldig word dat hulle Van Heerden se ouers probeer vermoor het.Foto: Deaan Vivier

Stiaan Bekker, familiewoordvoerder, sê dit gaan nou beter met haar.

“Magda eet al self en sit so nou en dan regop. Sy is steeds in die waaksaal en nog nie oorgeplaas na ’n gewone saal nie. Met Barnie gaan dit fisiek beter, dis net die emosionele wat nog altyd vir hom moeilik is,” sê Bekker.

Intussen het Van Heerden sy aansoek om borgtog in die landdroshof in Pretoria laat vaar, nadat hy besef het dat hy geen vaste adres het om aan die hof te gee nie, sou hy vrygelaat word.

Die minderjarige meisie is in haar ma se sorg vrygelaat.

Phelps het verlede maand met sy borgtogaansoek begin, maar dit is onderbreek toe die staat daarop aangedring het dat hy vir waarneming na die Weskoppies- psigiatriese hospitaal gestuur word.

Dit het gevolg nadat sy regsverteenwoordiger, adv. Louis Kok, aangevoer het dat Phelps ’n geskiedenis van geestesongesteldheid het.

Luidens Phelps se borgtogverklaring was hy in ’n stadium psigoties en is bipolêre gemoedsversteuring by hom gediagnoseer.

Hy benodig ook sy psigiatriese medikasie.

Die saak was uitgestel tot Vrydag, maar, het die hof gehoor, daar is steeds nie vir Phelps ’n bed by Weskoppies beskikbaar nie.

Die landdros wat die borgtogaansoek aanhoor, is ook siek.

Die saak moes noodgedwonge na later die maand uitgestel word en die twee jong mans bly in aanhouding.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.