Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ceres-ongeluk wat 5 eis, op kamera vasgevang
Honderde mense het op die Ceres-sportgronde bymekaargekom om eer te betoon aan die vyf jong mense wat op Saterdag 8 Mei in ’n ongeluk dood is. Foto: Skermgreep

Die ongeluk wat op 8 Mei die lewe van vyf jong mense op die R303 buite Ceres geëis het, is deur ’n kringtelevisie-kamera afgeneem.

Dié kamera is deel van ’n gemeenskapsveiligheidstelsel en na verneem word is die beeldmateriaal reeds aan plaaslike speurders oorhandig.

Geraldo Wanza, Jaydene Hector, Cedric Fortuin, Keanno Africa en Sue Ann Rauss is Saterdag 8 Mei omstreeks 23:30 dood in ’n ongeluk in die rigting van Prince Alfred Hamlet. Vier voertuie was in die ongeluk betrokke, waarvan een ’n minibustaxi was.

Na verneem word was Africa, Hector, Fortuin en Rauss in ’n rooi Nissan Sentra en Wanza het die minibustaxi bestuur. Dié twee voertuie het glo reg van voor gebots.

Verdere inligting dui daarop dat ’n derde voertuig van agter in dié twee vasgery het. Dit is onbekend hoe die vierde voertuig by die ongeluk betrokke was.

Die polisie ondersoek volgens kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, ’n saak van strafbare manslag. Hy het nie gereageer op navrae oor die beeldmateriaal van die voorval nie.

Intussen was daar Donderdagmiddag 13 Mei weer ’n ongeluk op dieselfde pad, nie ver van Saterdag se ongelukstoneel nie.

Die tweede ongeluk binne ’n week het Donderdag 13 Mei op die R303 buite Ceres plaasgevind. Foto: Facebook

’n Vragmotor en ’n ligte motorvoertuig het gebots, maar niemand is ernstig beseer in dié ongeluk nie, sê Annelize Lamprecht-Vertue, bestuurder van die brandweer en rampbestuur in die Witzenberg-streek.

Volgens haar is een persoon wat in die ligte motorvoertuig was, hospitaal toe geneem.

Die ongeluk het daartoe gelei dat mense op sosiale media na dié roete as “die pad van die dood” verwys. Verskeie mense het egter opgemerk dis nie die pad wat gevaarlik is nie, maar die motoriste wat daarvan gebruik maak.

Sedert die gru-ongeluk die naweek is gedenkdienste en begrafnisse vir die oorledenes gehou, waarvan die grootste byeenkoms deur die Ceres-rugbyklub gehou is.

Honderde mense het op die dorp se sportgronde bymekaargekom en kerse aangesteek ter nagedagtenis aan die jong mense. Ds. Shaun Esterhuizen, voormalige predikant van die Verenigde Gereformeerde Kerk op Ceres, het die diens gelei.

Die vyf mense wat dood is. Bo is Geraldo Wanza en Keanno Africa. In die middel is Cedric Fortuin en Jaydene Hector. Onder is Sue Ann Rauss. Foto: Facebook

Daar is ook verbyry-dienste vir hulle gehou, vernaamlik een vir Africa, die pa van ’n driejarige seuntjie. Hy het die klerehandelsnaam Ceressiet in 2020 begin.

“Cedric en Keanno, dankie dat julle die varkblom met trots gedra het,” het die rugbyklub op Facebook gesê. “Dankie vir julle liefde. Ons salueer julle.”

Die Hoërskool Charlie Hofmeyr, waar Africa en Hector skoolgegaan het, het op Facebook geskryf: “Dit is met groot hartseer dat ons ons meegevoel betuig met die families van Keanno Africa (matriek 2014) en Jaydene Hector (matriek 2016).

“Baie sterkte ook aan die ander families wat geliefdes verloor het. Mag almal in hierdie tyd die Here se vrede en berusting ervaar.”

Meer oor:  Ceres-Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.