Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Chaos in Pta-middestad ‘onaanvaarbaar’ sê burgemeester

Verskeie winkels in die Pretoriase middestad is Woensdag aan die brand gesteek en geplunder in ’n dag van gewelddadige betogings oor konflik tussen taxibestuurders en dwelmbase.

Die onrus het Dinsdag begin nadat ’n taxibestuurder, Jabu Baloi (45), in die middestad doodgeskiet is.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê die voorval het omstreeks 14:30 by die Bloedstraat-taxistaanplek gebeur.

Brandbestryders probeer Woensdag die brande blus wat deur betogers in die Pretoriase middestad gestig is. Foto: Morapedi Mashashe, Daily Sun

“Taxibestuurders het glo vermeende dwelmhandelaars gejaag. ’n Skoot is afgevuur en ’n taxibestuurder is in die bolyf getref. Hy is op die toneel dood.”

Woensdag omstreeks 09:00 het taxibestuurders begin om paaie in die middestad te versper. Daarna het betogers in die strate afgehardloop, winkels aan die brand gesteek en geplunder.

Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, sê die brandweer het teen Woensdagmiddag brande in sowat sewe winkels in Lillian Ngoyi-straat geblus.

Teen 14:00 was daar nog ’n gebou in Sisulu-straat wat gebrand het.

“Ons het vier mense na hospitale geneem wat ligte beserings opgedoen het. Die beserings was egter nie weens die brande nie, maar die gebeure wat in die strate plaasgevind het,” sê Mabaso.

Hy sê geen brandbestryders is beseer nie en dat die polisie hulle beskerm het sodat hulle hul werk kon doen.

Betogers het Woensdag die strate van die Pretoriase middestad ingevaar oor spanning tussen taxibestuurders en dwelmbase. Foto: Morapedi Mashashe, Daily Sun

Kapt. Augustinah Selepe, polisiewoordvoerder, het teen 14:15 bevestig dat die betogings bedaar het.

“Die polisie is steeds in die gebied om verdere plundery en brande te voorkom.”

Volgens Selepe is verskeie mense in hegtenis geneem.

Stevens Mokgalapa, burgemeester van Tshwane, sê in ’n verklaring hy veroordeel die geweld in die middestad ten sterkste. “Daar is geen besware wat moet lei tot die dood van iemand nie, ongeag die omstandighede tussen die individue wat betrokke is. Ek wil dus my innigste meegevoel teenoor Baloi se familie betuig.”

Hy sê die konfrontasie het tot verwoesting in die stad en sy sake-infrastruktuur gelei.

Brandbestryders het brande in minstens sewe winkels in die Pretoriase middestad geblus. Foto: Morapedi Mashashe, Daily Sun

Mokgalapa sê pendelaars is ook gestrand gelaat omdat die stad se busdienste ook gestaak is, insluitende die Gautrein-busse.

“Ek vra vir kalmte en vra dat Tshwane se inwoners, die taxibedryf, informele handelaars en alle ander rolspelers selfbeheersing uitoefen. Hierdie misdade wat in weerwraak gepleeg is, is onaanvaarbaar.”

Polisiebeamptes staan gereed teen die betogers wat Woensdag chaos in die Pretoriase middestad veroorsaak het. Foto: Morapedi Mashashe, Daily Sun

Mokgalapa sê hy vertrou dat die Tshwane-metropolisie asook die polisie die oortreders aan die pen sal laat ry. “Ek vra om verskoning aan die inwoners wat verontrief is as gevolg die gebeure.”

Hy sê die stad se wetstoepassingsowerhede sal voortdurend die gebied dophou en dwelmhandelaars vastrek wat “aas op kwesbare individue vir hul onwettige sake”.

Awie Erasmus, VF Plus-raadslid, sê in ’n verklaring die dood van Baloi word ten sterkste veroordeel.

“Sy moordenaars moet tot verantwoording geroep word. Dit is egter geen rede vir ander taxibestuurders om oor te gaan tot geweld uit protes oor sy dood nie.”

Erasmus sê die party sal saam met die metropolisie en die metro werk om die nodige bewyse in te samel om strafregtelike klagte aanhangig te maak teen dié wat hulle skuldig maak aan gewelddadige en onwettige optrede.

“Die protesoptog volg skaars ’n maand na ’n ander gewelddadige optog waarin etlike miljoene rand se skade deur stakende munisipale werkers aan eiendom aangerig is.”


Meer oor:  Pretoria  |  Betoging  |  Taxibestuurders  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.