Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Mall of Africa: Winkel-waansin
'n Chaos op paaie wat na die Mall of Africa lei het Donderdag geheers toe die sentrum in Midrand amptelik geopen is. Foto: Felix Dlangamandla

Chaos het Donderdag geheers toe derduisende mense na die opening van die Mall of Africa in Midrand gestroom het.

Die winkelsentrum is glo “die land se grootste winkelsentrum in ’n enkele bouprojek”.

Verkeer op die N1- en N3-hoofweë het weerskante van die Allandale-wisselaar vir kilometers stilgestaan.

’n Kenner het gesê die verkeer gaan nog vir ’n week of twee ontwrig wees. Selfs alternatiewe roetes wat ligter verkeer dra, sal in spitstyd onder druk wees, het Adrian Brislin van die verkeers- en vervoeringenieursfirma MPA Consulting Engineers gesê.

Marketing Concepts en Purple Plumm, woordvoerders vir die ontwikkeling, het gesê sowat 68 000 mense het teen 13:30 die sentrum besoek. Teen 16:00 het sowat 81 000 reeds ingestap.

Hoewel die sentrum met sy 300 winkels om 09:00 amptelik geopen het, was sekere ankerhuurders reeds om 07:00 oop. Teen openingstyd was daar toue mense by van die groot winkels met hul spesiale openingsaanbiedinge.

Teen 17:00 het meer as 81 000 mense die sentrum op openingsdag besoek. Foto: Felix Dlangamandla

Toue mense het later met veral elektroniese toestelle in winkeltrollies uitgestap gekom.

Daar is 6 500 parkeerplekke, maar ’n ekstra 1 500-oorvloeiparkeerplekke is ook beskikbaar gemaak. Al die parkeerplekke was vol.

Vanessa Fourie van Purple Plumm sê alle paaie na die sentrum is “ernstig geaffekteer”. 

“Dit was ons grootste probleem.”

'Ons was soos sardyne ingedruk'

Net voor 07:00 gisteroggend was ek al op pad na die nuwe Mall of Africa-winkelsentrum.

Omdat die Buccleuch-afrit nie ver van my huis af is nie en omdat ek die rit Midrand toe al hoeveel keer afgelê het, het ek verwag om binne 30 minute daar te wees. 

Min het ek geweet wat op my wag.

Net ná die Rivoniaweg-afrit op die M1 het die verkeer hoe al stadiger begin beweeg. Ná meer as twee uur se gekruip was ek op die N1, maar dit was nie die einde nie. Ná nog ’n uur het ek net gevorder tot 500 m van die Allandale-afrit af. 

Ek het besluit om eerder verby te ry en die New Road-afrit te gebruik en terug te ry na die sentrum toe, wat vinniger was. 

Omdat daar min of geen parkeerplek was nie, het mense op die sypaadjies buite die sentrum geparkeer. Ek het besef daar is groot fout toe ek amper 30 minute op een plek gestaan en wag het. 

Oral was mense wat die sentrum met bokse en plastieksakke verlaat. “Hoe laat het hulle hier aangekom?” het ek myself gevra. 

Om 10:30 het ek besluit om sommer agter iemand se motor te parkeer – ek was moeg, ek wou nie meer nie en het nie meer omgegee nie. 

Ek het myself belowe om vinnig te maak en binne toe gehardloop. 

Binne was daar nog ’n groot skok. Daar was nêrens om te gaan nie. 

Die winkels en die openbare ruimtes was gepak van mense, soos sardientjies in ’n blik. ’n Mens kon nie eens by ’n winkel instap om te sien wat die winskopies is nie. 

Ek het moed opgegee, die Krispy Kreme-winkel opgespoor, doughnuts gekoop en uitgestap. Daar was geen rede vir my om langer te bly nie. 

Ek dink ek sal die sentrum oor twee maande weer besoek. Miskien sal daar dan minder mense wees. Miskien sal ek dit dan geniet. - Bombi Mavundza

Die Bridal Veil-brug wat spesiaal oor die N1 (suid van die Allandale-wisselaar) gebou is, is egter nog nie aan klante bekend nie.

“Ons glo wanneer dié roete ten volle gebruik word, sal baie van die verkeersopeenhoping verlig word.”

’n Besig openingsnaweek word verwag. 

Die Johannesburgse metropolisie het die verkeersvloei buite die sentrum gereguleer.

Fourie sê anders as wat op Twitter beweer is, is geen motor op die perseel gesteel nie. Toegang word beheer en 42 polisiebeamptes is gekry om die perseel te patrolleer.

Die eiendomsbeleggingsfonds Attacq en die eiendomsontwikkelaars Atterbury het die sentrum ontwikkel.

Morné Wilken, uitvoerende hoof van Attacq, het gesê mense wat die naweek die sentrum wil besoek, moet dit sterk oorweeg om van Uber-taxi’s of die Gautrein gebruik te maak.

“Ons het verwag dat dit baie druk gaan wees, maar nie só druk nie. Ek dink nie mense het besef daar is ander maniere om by die sentrum uit te kom buiten om Allandaleweg te gebruik nie,” sê hy.

“Ons is die enigste winkelsentrum waar Gautrein-busse se roete loop en ons het spesiale parkering vir Uber-taxi’s.”

Brislin sê bouwerk aan ’n sentrum kan nie begin voordat die betrokke munisipaliteit ’n verkeersimpakstudie daarvoor goedgekeur het nie. Die toename in verkeer oor naweke na ’n winkelsentrum word bereken, maar nie vir ’n “spesiale gebeurtenis” soos ’n openingsdag nie. 

“Die verkeer gaan wel afplat ná ’n ruk,” sê Brislin.

“Ek voorsien nie ’n langtermyn-probleem nie.” 

Foto: Felix Dlangamandla
Foto: Felix Dlangamandla
Foto: Felix Dlangamandla

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.