Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Chaos toe verkeer by tolhek ophoop

Chaos het Maandag op die N1-suid buite Mokopane in Limpopo geheers toe die verkeer sowat 10 km voor die Nylplaza-tolhek opgehoop het soos vakansiegangers ná die Paasnaweek teruggekeer het huis toe.

Ongeduldige motoriste het in die aankomende bane ingery om vinniger by die tolhek te probeer uitkom. Daar was ook voertuie wat op die grond en in die veld langs die regterkantste baan verbygesteek het.

Verkeerschaos op die N1-suid buite Mokopane in Limpopo. Foto: Rudzani Tshikororo

Teen omstreeks 12:00 het motors en taxi’s in die chaos teen mekaar gebots.

Matome Moremi-Taueatsoala, woordvoerder van die departement van vervoer in Limpopo, sê hoewel niemand beseer is nie, het dit die verkeer net meer laat ophoop.

Daar is jaarliks swaar verkeer op Limpopo se paaie oor die Paasnaweek weens die Zion Christian Church (ZCC) se saamtrekke in Moria buite Polokwane.

Dié reusesaamtrekke waar honderdduisende mense van oor Afrika heen saamkom om Paasfees te vier is egter vanjaar ’n tweede keer weens Covid-19 afgestel.

Moremi-Taueatsoala sê hoewel daar etlike busse was wat mense vir die langnaweek Limpopo toe geneem het, was dit nie ZCC-pelgrims nie.

Motoriste wat Maandagoggend nie in die lang rye by die Nylplaza-tolhek wou wag nie en besluit het om met die R101 deur Mokopane te ry het verkeerschaos in die dorp veroorsaak. Dit is vererger deur ’n geskeduleerde kragonderbreking van Eskom van 06:00 tot 18:00.

Die verkeer het vir etlike kilometers op die N1-suid buite Mokopane in Limpopo opgehoop. Foto: Rudzani Tshikororo

Die verkeersligte wat nie werk nie, het verkeersopeenhopings veroorsaak.

Die verkeer op die R101-pad uit Mokopane op pad na Mookgophong het Maandagmiddag tot stilstand gekom.

Stemboodskappe is op verskeie WhatsApp-groepe van inwoners in Mokopane en Mookgophong versprei om te vra waar die verkeersbeamptes is.

Moremi-Taueatsoala sê bykomende verkeersbeamptes is gedurende die Paasnaweek op alle paaie in Limpopo ontplooi.

Volgens hom was daar ook baie swaar verkeer vanaf nedersettings in die Mahwelereng-gebied buite Mokopane.

Omstreeks 14:00 het 2 000 voertuie per uur op die R101 deur Mokopane beweeg vanaf Polokwane, Bakenberg, Mapela en Mokamole, het Moremi-Taueatsoala gesê.

Die verkeer was ook druk by die Kranskop-tolplaza buite Modimolle. Teen 14:00 het 1 859 voertuie per uur deur dié tolplaza beweeg.

Die verkeer het Maandag in Mokopane opgehoop soos vakansiegangers huis toe gery het.

Moremi-Taueatsoala het ’n beroep op motoriste gedoen om geduldig te wees en die verkeersreëls te gehoorsaam.

Daar was tot dusver geen ernstige ongelukke op die N1-hoofweg vanaf Polokwane in Limpopo tot met die grens na Gauteng nie.

Drie mense is Vrydagmiddag dood in ’n ongeluk op die R101 buite Bela-Bela toe twee voertuie reg van voor gebots het.

Volgens die departement van vervoer in Limpopo is daar sedert Vrydag tot Maandag 23 mense in ongelukke in die provinsie dood.

• Die departement van gesondheid in Limpopo het ’n veldtog voor die Paasnaweek begin waarin die publiek gewaarsku is om nie in groot groepe saam te drom nie omdat dit die verspreiding van Covid-19 skerp kan laat toeneem.

Meer oor:  Mokopane  |  Limpopo  |  Paasnaweek  |  Verkeer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.