Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Chariska op verkeerde tyd op verkeerde plek’ in Menlo Park
Theo Kleynhans (60), Mario Pretorius (23) en Chari
Theo Kleynhans (60), Mario Pretorius (23) en Chariska Kloppers (30) Vrydag in ‘n kuierplek in Pretoria. Die foto is kort ná 19:30 geneem. Al drie is Saterdag dood in ‘n huis in Menlo Park gekry. Die naam van die vrou wat by die tafel langs Kleynhans sit, word op regsadvies weerhou. Sy is in ‘n hospitaal. Foto: Verskaf

“Sy was op die verkeerde plek op die verkeerde tyd en toe betaal sy met haar lewe daarvoor.”

Dít is wat Nollie Kloppers, ’n bestuurder by ’n motorbande-onderneming in Polokwane, in 'n Facebookplasing geskryf het oor die raaiselagtige dood van sy vrou, Chariska Kloppers (30).

Die egpaar was besig om te skei. Kloppers het saam met hul driejarige dogter en twee seuns (sewe en nege jaar oud) en haar ma in ’n huis in Pretoria Tuine gewoon.

Hul oudste seun sal later vandeesmaand sy tiende verjaardag sonder sy ma vier.

Sy is Saterdag saam met twee kollegas, Theo Kleynhans (60) en Mario Pretorius (23), dood in ’n huis in Menlo Park gekry.

Die 32-jarige kollega wat saam met hulle by Property Management South Africa, oftewel PropMan-eiendomsbestuursmaatskappy, gewerk het, word steeds in die Unitas-hospitaal in Centurion behandel.

Pretorius se familie het Mike Bolhuis, private ondersoeker, gevra om agter die kap van die byl te kom.

Volgens Bolhuis dui alles voorlopig daarop dat dwelms in die dubbelverdiepinghuis gebruik is. Daar is glo ook afgekom op baie drank.

Bolhuis sê Mario Pretorius “was ’n kliënt van my wat ek voorheen met ’n dwelmverwante saak gehelp het”.

’n Werker van Kleynhans het Saterdagoggend op Kloppers se lyk afgekom op ’n stoel buite op die stoep. Haar 32-jarige kollega het bewusteloos op die vloer naby haar gelê. Kleynhans en Pretorius is in die gang van die huis gekry.

Nollie sê sy “hart is seer dat soveel stories rondloop en mense hul eie afleidings maak”.

Hy sê Kloppers “sou nooit in haar lewe aan dwelms geraak het nie”.

Volgens hom het sy Vrydagaand ’n saamrygeleentheid saam met Pretorius gekry omdat hulle albei in Pretoria Tuine gewoon het.

“My hart is in stukke. Sy het dit nie verdien nie.”

Hy glo iemand het Kloppers en haar kollega vergiftig.

Chanie Paxton, ’n vriendin van Kloppers, sê dis hartverskeurend hoe die slagoffers se families in “absolute pyn gedompel” is, sonder antwoorde.

Sy ken Chariska al sowat 20 jaar, sedert laerskooldae.

Die stoel waarop Chariska Kloppers (30) dood gevind is op die stoep van ’n huis in Menlo Park in Pretoria. Foto: Verskaf

“Ons het saam netbal gespeel, naweke by mekaar gekuier. Sy was ’n wonderlike mens, ’n wonderlike ma. Sy was so bitter lief vir haar kindertjies. Ons is stomgeslaan.

“My hart is so seer. Ek wonder wat sy moes deurmaak in haar laaste oomblikke,” voeg Paxton by.

Sy verwys na ’n stemboodskap waarin ’n familielid aan ander moes bevestig dat die liggaam wat hy toe pas moes uitken, wel dié van Kloppers is.

“ ’n Mens kon die pyn hoor in sy stem.”

Net soos talle ander vriende, hou Paxton ook voet by stuk: Kloppers was glad nie die soort mens wat by dwelms en drank betrokke sou raak nie.

“Dis waar wat mense vra of jy ooit iemand 100% ken. Ek verstaan dit, maar nie die Chariska wat ons geken het nie. Ek glo – en ek glo al haar familie en ander vriende sal saamstem – dít wat gebeur het, maak glad nie sin nie. Ons kan nie glo of begryp dat sy ooit by so iets betrokke sou raak nie.

“Ek hoop en bid dat die ondersoekspanne vinnig vir ons ’n antwoord sal gee. En, as daar vuilspel (misdaad) betrokke is, dat die skuldiges vasgetrek sal word.

Chariska Kloppers (30) Foto: Facebook/ChariskaKloppers

“Ek hoop ons almal vind berusting.”

Kol. Nxolo Kweza, polisiewoordvoerder in Gauteng, gesê die polisie sal drie geregtelike doodsondersoeke na die mense se dood doen. Sy het gesê sy kan nie bekend maak of die polisie op dwelms in die huis afgekom het of nie.

• ’n Roudiens word Donderdag 18:30 vir Kloppers gehou. Dit kan via Zoom gevolg word.

Theo le Roux van Pretorius Le Roux-prokureurs wat as familiewoordvoerder optree, sê die besonderhede vir ’n afskeid vir Kleynhans en Pretorius is nog nie bekend nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.