Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Cheetah-ondersteuners ‘verf’ N1 oranje

Cheetah-ondersteuners in ’n verskeidenheid voertuie en met wapperende vlae het Maandagmiddag in ’n optog van sowat 10 km lank die N1 buite Bloemfontein oranje geverf.

Ondersteuners en Cheetah-spelers het op die vooraand van ’n belangrike vergadering van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) op dié wyse getoon hoe groot hul liefde en ondersteuning vir hul span is. Ironies genoeg het die Curriebeker, wat vanjaar in Bloemfontein staan, deel van die Oranje Maandag-optog gevorm.

Saru besluit Dinsdag of die Vrystaatse Rugbyunie (VRU) in 2021 steeds een van die Suid-Afrikaanse spanne sal wees wat aan die Pro14-toernooi deelneem.

’n Oranje golf, met “haak, Vrystaat!” wat opgeklink het, het die N1 oorspoel.

Lynné van Tonder (8) is ’n jong Cheetah-ondersteuner wat bankvas agter haar span staan. Foto: Mlungisi Louw
Cheetah-ondersteuners se vlae wapper op die N1 buite Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw
Die Harley’s het die oranje vloot gelei, net soos hulle met elke tuiswedstryd die Cheetahs op die veld begelei. Foto: Mlungisi Louw

Die atmosfeer het herinner aan wedstryddae in Bloemfontein, kompleet met Vrystaat-ondersteunersliedere wat oor luidsprekers blêr.

En soos met elke Cheetah-wedstryd op die Toyota-stadion het die groep Harley Davidson-motorfietse voor gery.

Hendre Kruger, koördineerder van die motorfietsgroep, sê wanneer hulle die stadion binnery, weet toeskouers dat die wedstryd amper begin en dat sake ernstig raak.

“Suid-Afrikaners moet besef hoe ernstig ons hieroor is. Dit is ons span en hulle verdien om staande te bly.

“Ons het al gehoor ons intimideer die ander spelers as ons so in die stadion ons Harley’s laat brul. Hopelik skrik Saru ook wakker.”

Ronel Pienaar, kommunikasiebestuurder van die VRU, sê die optog moenie bloot as ’n protesoptrede gesien word nie.

“Dit is ’n optog om roemryke oorwinnings van die Cheetahs te vier en te gedenk.”

Die Cheetahs is die verdedigende Curriebeker-kampioene en die beker was deel van die optog. Dit is vanjaar 44 jaar sedert die Cheetahs dié beker vir die eerste keer omhoog gelig het. Foto: Mlungisi Louw
Cheetahs-ondersteuners het die optog by die Toyota-stadion afgesluit. Foto: Mlungisi Louw
Elsa Ferreira en Justine Smit het ook hul ondersteuning vir hul geliefde span kom wys. Foto: Mlungisi Louw

Die afgelope naweek, op die presiese dag en datum, was dit 44 jaar gelede dat die Vrystaat vir die eerste keer die Curriebeker omhoog gelig het.

Justine Smith, assistent van die besturende direkteur van die VRU, sê die werknemers bly vol hoop en het groot vertroue in die rugbyleierskap in die Vrystaat.

’n Ma met ’n kleuter op haar heup en oranje pruik op die kop het haar gevoel só verwoord: “My kinders is nog te jonk; daar lê nog jare se Cheetah-rugbykyk vir hulle voor. Ons kan nie nou uitval nie!”

Dit was egter nie net in die Rosestad waar oranje vere gewys is nie. Op die Facebook-groep Free State Cheetah Supporters and Rugby het mense van sover as Namibië en die Kaap hul ondersteuning gewys.

Tom Ferreira skryf sy kleindogter in Alberton het Sondagaand in haar Cheetah-pakkie geslaap ter ondersteuning van haar gunstelingspan.

“Sy dra dié pakkie heeldag en aldag en kruip saans tussen haar Cheetah-lakens in!”

Meer oor:  Cheetah  |  Cheetah-Ondersteuners  |  Justine Smith  |  Hendre Kruger  |  Bloemfontein  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.