Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Cheetahs, ministers huldig Van Zyl

Dr. Johan van Zyl was “ ’n pragtige siel” en ’n patriotiese Suid-Afrikaner met ’n ongelooflike intellek wat die beginsel van respek vir ander mense absoluut uitgeleef het.

Dr. Johan van Zyl by ’n perskonferensie by die 88ste internasionale motorskou in Genève. Foto: Getty Images

Só is Saterdag vanuit sake-, politieke en sportkringe hulde gebring aan die 63-jarige voorsitter van die direksie van Toyota SA wat Vrydag aan Covid-19-verwante komplikasies oorlede is in ’n Pretoriase hospitaal.

Sy jarelange kollega en familievriend Harry Gazendam, wat ook as woordvoerder vir die familie optree, sê hy gaan op alle vlakke van die samelewing gemis word.

“Johan was een van die héél slimste mense met wie ek ooit paaie gekruis het. Ek ken hom al 30 jaar, waarvan ons vir 20 jaar lank elke dag by Toyota saamgewerk het.”

Gazendam sê Van Zyl het die “gawe gehad om met alle mense te kommunikeer”. “Hy het ten spyte van sy Afrikaanse aksent die vermoë gehad om inslag te vind by ander kultuurgroepe. En hiermee bedoel ek almal van die Zoeloes in ons fabrieke tot die Engelse sakesektor en die Euro­peërs met wie hy in die buiteland gewerk het.”

Die oudpolitikus Roelf Meyer sê Van Zyl het diep spore getrap.

Hy was ’n patriot, hy het omgegee vir alle mense van hierdie land.

“Ná pres. Ramaphosa se bekende ‘Thuma Mina’-toespraak in 2018 waarin hy gevra het die private sektor moet met idees en voorstelle kom, het Johan dadelik gereageer.”

Meyer sê hulle twee het mekaar in Brussel, België, ontmoet om Van Zyl se idee te bespreek. “Johan was die vader van die idee van die Openbare en Private Groei-inisiatief. Ons werk nou al drie jaar saam aan hoe om die owerheid en die private sektor bymekaar te kry. Johan het dit nie vir eer of vergoeding gedoen nie, net omdat hy ’n patriotiese Suid-Afrikaner is.”

Meyer sê hy is oorval met boodskappe deur leiersfigure ná Van Zyl se afsterwe. “Nkosazana Dlamini-Zuma (minister van samewerkende regering en tradisionele sake) het geskryf: ‘Dit is inderdaad só hartseer en tragies. Dit is só pynlik en hartseer. Hy was ’n patriot, hy het omgegee vir alle mense van hierdie land. Hy wou ’n beter lewe vir almal hê. Hy was só ’n plesier om mee saam te werk. Hy was ’n pragtige siel.’

“Ebrahim Patel (minister van handel en nywerheid) het geskryf: ‘Johan se afsterwe herinner ons dat die lewe broos is. Vriendskappe maak saak. Ordentlikheid is kosbaar en moet bewaar word.’

“Minister Pravin Gordhan (van openbare ondernemings) skryf: ‘Dit is verwoestend – en inderdaad só hartseer om ’n goeie patriot te verloor.’ ”

Brand Pretorius, Van Zyl se voorganger as besturende direkteur van Toyota SA, sê: “Sy dood is ’n tragedie. Hy laat ’n groot leemte in terme van sakevernuf en sy positiewe invloed in Suid-Afrika en veral by Toyota Japan. Ek het Johan in 1989 ontmoet toe hy nog ’n dosent by die Pukke was. Dit het baie oorreding geverg om hom te oortuig om by Toyota SA aan te sluit.”

Drie jaar daarna, in 1995, het Van Zyl die leisels by Pretorius oorgeneem. Hy was ses jaar lank, tot einde Maart, hoof van Toyota in Europa.

Sy voormalige vriend en kollega het ongekende hoogtes in die motorbedryf bereik, sê Pretorius.

“Hy het die departement van handel en nywerheid gehelp om die stelsels soortgelyk aan die suksesvolle motorontwikkelingsprogram in bedrywe soos die staal- en mynboubedrywe te vestig.”

Pretorius sê dié program se uitwerking op Suid-Afrikaanse uitvoere is ongelooflik. “Voor die ontwikkelingsprogram tot stand gebring is, het Suid-Afrika maar enkele voertuie ’n jaar uitgevoer. Nou voer ons in ’n normale jaar tussen 350 000 en 400 000 na meer as 130 lande uit.”

Pretorius sê Van Zyl het sy merk op mense ook gemaak.

“Hy was onpretensieus, maar het oor ’n ongelooflike intellek beskik – hy kon dinge gedoen kry, dit het nooit net by praatjies en plannetjies gebly nie.”

Pretorius sê sy oorlede vriend en kollega se invloed is oral sigbaar.

“Gaan kyk na hoeveel miljarde Toyota Japan die afgelope 20 of so jare in ons land belê het. Die laaste 15 jaar het Johan ’n pertinente rol daarin gespeel.”

Hy is steeds geskok.

“Ek en my vrou, Tillie, het nog op 16 Junie saam met hom en Santie uitgeëet. Hy het ’n plaas in die Vaalwater-omgewing (in Limpopo) en ’n versameling veteraanmotors. Johan was so opgewonde oor wat die lewe ná aftrede vir hulle inhou.”

Harold Verster, hoof- uitvoerende beampte van die Vrystaat Cheetahs, sê sy unie het ’n baie groot vriend en ondersteuner verloor.

“Sy leierskap, bydrae, aanmoediging en onwrikbare steun vir Vrystaat Rugby was vir ons oor baie jare goud werd,” Verster sê hulle eer dié sakereus se nagedagtenis.

“Ons salueer sy reusebydrae tot Toyota, ons naamborg, en die motorbedryf in geheel – in Suid-Afrika en internasionaal.”

Van Zyl word oorleef deur sy vrou, Santie, hul twee dogters, Nadia van Rooy en Karla Swart, asook twee kleinkinders, Juno van Rooy (4) en Kylo Swart (18 maande).

Meer oor:  Johan Van Zyl  |  Roelf Meyer  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.