“Ek het self ’n traan gestort toe hy Saterdag daardie drie druk.”
Dit was die Springbokke se regtervleuel, Cheslin Kolbe, (25) se pa, Andrew Kolbe, se reaksie ná Saterdag se Wêreldbeker-eindstryd in Japan.

Andrew Kolbe en sy seun, die Springbok-regtervleuel, Cheslin. Foto: Facebook/Cheslin Kolbe
Kolbe en sy vrou, Millicent, het die wedstryd op die televisie by hul huis in Scottsville, Kraaifontein, noukeurig gevolg.
Sowat ’n halfuur nadat die Bokke tot Wêreldkampioene bekroon is, het Cheslin sy pa gebel.
“Ek het hom gelukgewens, gesê dat ek baie trots op hom is en dat ek nie kan wag om hom te sien nie,” het Kolbe Dinsdag aan Netwerk24 gesê.
“Hy het net vir my gesê: ‘Dadda, ek is uit die veld geslaan. Dit voel nog vir my soos ’n droom.’ ”
Kolbe sê dit was altyd sy seun se begeerte om vir die Springbokke te speel.
“Ek het nie woorde om te beskryf hoe trots hy ons maak nie. Ek het skoon ’n knop in my keel,” sê die trotse pa.
“Dit is ’n groot prestasie vir ’n man op daardie ouderdom – en om nog die Wêreldbeker te wen, maak dit nog meer merkwaardig.”
Hy glo die negatiewe publisiteit dat Cheslin te kort is, het net sy seun sterker gemaak.
“Hy het nou die hoogste sport van rugby bereik deur in die Wêreldbeker te speel – en om dit ook nog te kroon, om as die rugbyspeler van die jaar benoem te word. Dit is ’n groot prestasie vir ’n outjie wat sy eerste jaar toetsrugby speel.”

Die Springbokke se regtervleuel Cheslin Kolbe by sy geliefdes: sy pa, Andrew, ma, Millicent, en sy vrou, Layla. Foto: Facebook/Cheslin Kolbe
Hy sê Cheslin het opgekyk na rugbyspelers soos die voormalige Springbokvleuel Bryan Habana, Schalk Burger, Saracens se voormalige Springbok-flank, en die gewese All Black-rugbykaptein, Richie McCaw, wat voorheen die titel behou het.
Die bure het Saterdag ná die wedstryd by hul deur ingeval en hulle gelukgewens, sê Kolbe.
“Daar het Saterdag mense aan ons deur kom klop en kom gesels wat ons net voorheen sien verbystap het. Die mense is ook trots. Dit is iemand uit ons gemeenskap wat op daardie vlak speel en die wedstryd is oor die wêreld heen uitgesaai. Jy kon die mense se blydskap sien.”
Nou wag hy, die res van die familie en vriende in afwagting totdat Cheslin uiteindelik in Kaapstad aankom.