Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Chester kry Saterdag ’n amptelike begrafnis
Patricia de Lille, minister van openbare werke, langs Chester Williams se gesin – sy seun Matthew vrou Maria, dogter Chloe en ander seun Ryan. Foto: Jaco Marais

Die ontslape Springbok-vleuel Chester Williams (49) gaan Saterdag ’n amptelike provinsiale begrafnis in die Nuweland-stadion in Kaapstad kry.

Patricia de Lille, minister van openbare werke, het Woensdag dié aankondiging namens pres. Cyril Ramaphosa gedoen op ’n roerende gedenkdiens vir Williams by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK).

Ramaphosa het ook opdrag gegee dat die landsvlag Saterdag in die Wes-Kaap halfstok hang.

Williams is Vrydag omstreeks 18:00 aan ’n hartaanval dood nadat hy van erge borspyn gekla het. Hy was ten tyde van sy dood die hoofafrigter van die UWK se Varsitybeker-rugbyspan.

Maria Williams praat op die gedenkdiens. Agter haar staan Chloe, Ryan en Matthew. Foto: Jaco Marais

De Lille het Williams as ’n goeie vriend beskryf wat sy deur sy vrou, Maria, ontmoet het.

“Ons is goeie vriende. Hy was lief daarvoor om op dieselfde tyd potjiekos te maak en te braai,” sê sy.

Sy sê sy sou graag wou sien dat Williams die kans kon kry om ’n groter rol in Suid-Afrika te speel.

Volgens haar was hy mal oor die sangeres PJ Powers en wou heeltyd na haar luister.

De Lille sê sy sou altyd vra of hulle iets anders kan sing en dan sou hulle op die lied “Loslappie” besluit en lekker saamsing.

Powers self het by die diens opgetree en “World in union” en “Jabulani” gesing. Die UWK se koor het ook opgetree.

De Lille sê toe Williams in Roemenië, Uganda en Tunisië afgerig het, het sy vir hom gesê sy kinders word sonder hom groot en dat hy nie weer na Roemenië kon terugkeer nie.

Sy sê selfs oudpres. Nelson Mandela was lief vir Williams omdat hy ’n “visioenêr” was.

Die UWK en Suid-Afrika het ’n legende verloor.

Prof. Pamela Dube, waarnemende rektor en visekanselier van die UWK, het gesê Williams het as afrigter ’n verskil gemaak in die lewe van die sportmanne onder sy leiding. Hy het nie net sy vaardighede en kundigheid met die studente gedeel nie, maar ook sy liefde, sê Dube.

Patricia de Lille, LUR vir openbare werke, praat Woensdag by Chester Williams se gedenkdiens.Foto: Jaco Marais

Mandla Gagayi, direkteur van sport by die universiteit, het gesê Williams wou altyd hê mense moet suksesvol en gelukkig wees.

Gagayi sê die UWK het ’n goeie man, rolmodel en leier verloor en hy het ’n goeie vriend verloor.

Maria was met haar spreekbeurt omring deur hul kinders – die 15-jarige tweeling, Matthew en Chloe, en Ryan.

Sy het die UWK, en veral vir Gagayi, bedank vir die geleentheid wat Williams as afrigter gekry het.

“Vier jaar gelede het julle dit moontlik gemaak dat Chester sy loopbaan in Suid-Afrika kon begin. Sy hele lewe lank moes hy veg vir ’n posisie in Suid-Afrika. Ons as ’n familie het so baie jare verloor omdat hy nie met ons kon wees nie,” sê sy.

Sy sê dat alle deure vir Williams toe was.

“Mandla, jy het die deur vir hom oopgemaak en jy het dit moontlik gemaak dat hy die laaste paar jaar van sy lewe by ons kon wees.”

Onder die roubeklaers wat die diens bygewoon het, was die vleuel Breyton Paulse en Francois Pienaar, kaptein van die 1995-Springbokke wat die Wêreldbeker gewen het.

’n Gedenkdiens word Donderdag om 18:00 in die Boland-krieketstadion in die Paarl vir Williams gehou.

Sy begrafnisdiens begin Saterdag om 12:00.

Die voormalige Springbokke Breyton Paulse en Francois Pienaar skud hand voordat die diens Woensdag begin.Foto: Jaco Marais

Meer oor:  Chester Williams
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.