Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Cheverné se ouers ‘klou aan elke stukkie goeie nuus’
Cheverné Duvenhage (13) in haar skoolklere.Foto: Verskaf

Cheverné Duvenhage (13), een van die leerlinge wat ernstig beseer is in die brugtragedie by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark, se ouers hou aan “vasklou aan elke stukkie goeie nuus” rakende haar toestand.

Cheverné is Vrydag met gebreekte rugwerwels en heupe in die Netcare Unie-hospitaal in Alberton opgeneem. Haar linkervoet is ook sleg gebreek. Sedertdien het sy, terwyl sy onder verdowing gehou word, verbete geveg vir haar lewe.

“Die verpleegpersoneel by die hospitaal is baie tevrede met haar vordering en dat sy so hard baklei,” het haar pa, Elardus, Maandag gesê.

Cheverné kon nog haar ouers sien net voordat sy in die hospitaal opgeneem is. Sy het haar kop half geknik en haar oë geknip op ’n vraag of sy weet waar sy is en wat met haar gebeur.

Deur dit alles het Elardus sy oudste dogter moed ingepraat. “Ek het haar aan haar skouertjie gevat en vir haar gesê sy moet net aanhou fight.”

Hy en Cheverné se stiefma, Yolandi, het Vrydag naarstiglik na hul dogter gesoek nadat hulle gehoor het van die tragedie by die skool.

Groot betonblokke van ’n loopbrug het Vrydag meegegee en op leerlinge geval. Die loopbrug verbind twee geboue op die skoolterrein. Die voorval het die lewe van vier leerlinge geëis.

Elardus en Yolandi het na die skool gejaag waar hulle in die chaos na hul dogter gesoek het. Later het hulle gehoor van die kinders is reeds na ’n nabygeleë hospitaal geneem.

Cheverné Duvenhage (13)Foto: Verskaf

Cheverné het baie bloed verloor en is weens die ernstige aard van haar beserings onder verdowing geplaas.

Sy is vir die bloedverlies behandel en het ’n operasie ondergaan om van die skade aan haar ingewande te probeer herstel.

Sy was Maandag nog in die waakeenheid, gekoppel aan ’n asemhalingsmasjien.

“Haar dokters is eerlik met ons oor haar beserings en dat ons dit treetjie vir treetjie moet vat, maar ons klou aan elke stukkie goeie nuus en vordering en bly hoop vir die beste,” sê Elardus.

Cheverné het Sondagaand ’n rustige aand gehad en het Maandag gereageer toe haar ma met haar gepraat het.

Sy word nog onder verdowing gehou, maar sal in die loop van die week moontlik stelselmatig bygebring word.

Volgens Elardus is Cheverné se dokters tans meer bekommerd oor die bloedverlies en die interne beserings en wil hulle dit eers regkry.

Daar is ’n goeie kans dat die breuke wat sy opgedoen het self sal genees sonder dat verdere operasies nodig sal wees.

Cheverné se twee jonger boeties van ses en 12 jaar oud en ’n sussie van sewe, is saam met die res van die gesin oorweldig oor al die hulp, gebede en ondersteuning wat steeds bly instroom sê Elardus.

“Ek kan nie genoeg dankie sê vir almal wat hul harte so vir ons oopgemaak het nie.”

Haar dokters is eerlik met ons oor haar beserings en dat ons dit treetjie vir treetjie moet vat, maar ons klou aan elke stukkie goeie nuus en vordering en bly hoop vir die beste.

Meer oor:  Brugtragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.