
Dr. Pierre Botes Foto: Verskaf
Hy was ’n briljante ortopediese chirurg en ’n begaafde skilder.
So sê Jeanette du Plessis oor haar broer, dr. Pierre Botes (62) van Worcester, wat Saterdag in die vroeë oggendure in die Mediclinic Worcester dood is aan Covid-19. Botes sou Sondag verjaar het.
Volgens Du Plessis het sy en Botes nog in Oktober saam ’n kunsuitstalling by die Lindy van Niekerk-galery in Kaapstad gehou.
“Sy kuns het vir hom bevryding van emosies gebring,” sê sy. “Sy dood is ’n verskriklike skok vir ons familie.”
Botes is op 2 Januarie in die hospitaal opgeneem met longontsteking. “Sy toestand het versleg en hy is op Sondag 10 Januarie oorgeplaas na die waakeenheid waar hy aan ’n ventilator gekoppel is,” sê sy vrou, Arina Botes, met wie hy 34 jaar getroud was.
Botes het egter ná ’n bloedklont deur die long ’n groot terugslag beleef wat verdere herstel erg bemoeilik het.

Dr. Pierre Botes (regs) saam met sy vriend Jan Woest van Namibië wat einde April 2020 dood is. Foto: Verskaf
Botes het onlangs ’n digbundel, “Vertrek”, gepubliseer.
Hy word oorleef deur sy vrou, twee seuns, sy ma, Isabella (tannie Issie) Botes (88), Du Plessis en ’n broer, Stephan.
Dr. Gerrit de Villiers, kliniese hoof van Mediclinic, het by navraag bevestig dat Botes Saterdag dood is. Hy sê Botes is vir respiratoriese nood behandel. Botes was ’n ortopediese chirurg en lid van die Mediclinic Worcester-span.
De Villiers, ’n persoonlike vriend van die familie, sê dit is altyd met groot hartseer dat hulle die afsterwe van een van hul spanlede moet bevestig. Volgens hom was Botes nie aktief betrokke by die bestuur van Covid-19-pasiënte nie, maar ’n slagoffer van die siekte ondanks die beste pogings en kundigheid van die kliniese span by die Mediclinic Worcester.
Mediclinic betuig sy medelye aan Botes se gesin, vriende en kollegas, sê De Villiers.
Volgens Botes se vrou sal ’n private roudiens vir die naaste familielede gehou word as gevolg van Covid-19-regulasies.

Dr. Pierre Botes Foto: Verskaf