Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Chris sal op ‘sy eie tyd’ sê oor sy pa
Chris Chameleon
Chris Chameleon tydens ’n optrede Maandagmiddag op ’n plaas buite Stellenbosch. Foto: Jaco Marais

Chris Chameleon sal op sy “eie tyd” reageer op vrae of Bles Bridges sy biologiese pa is en na vore kom “wanneer die tyd reg is”.

Dié sanger, liedjieskrywer en akteur het Maandagmiddag ná ’n konsert buite Stellenbosch gesê hy wil nie verder uitbrei oor sy inskrywing op Facebook wat daarop sinspeel dat die minnesanger Bridges sy pa is nie.

Tydens die konsert het Chameleon oor sy grootwordjare met ’n enkelma gepraat en ’n paar verse van “Reik na die sterre” van Bridges gesing, voordat hy na ’n ander liedjie oorgeslaan het.

Hy het op ’n punt verduidelik dat sy ma, as ’n Kapenaar, nie van pap gehou het nie, maar dat hy elke dag pap kan eet as iemand wat in Johannesburg grootgeword het.

“Ons het toe ’n kompromie getref rondom Maltabella, maar daar is ’n wesenlike verskil. Maar dan eet ek nou maar dié pappie . . . ek wou so graag ’n pappie gehad het.”

Dié opmerking het die gehoor laat lag, waarna Chameleon “wat?” uitgeroep het.

Facebook-inskrywing

Dit volg nadat Chameleon Sondag die omslag van Bridges se plaat Vir een en almal op Facebook geplaas en gesê het dat hy “loop al jare met my eie donker geheim rond.

“Van al die ondeugde van glanspersoonlikhede en kunstenaars is die een wat my, persoonlik, die diepste raak mans wat kinders verwek en dan nie pa staan vir hulle dade nie. Die tyd is nou, die waarheid moet aan die lig gebring word.”

Chameleon het Maandag saam met sy vrou, Daniella Deysel, as Kat & Wolf opgetree by Sir Thomas Brewing Co op die plaas Summerhill. Hy is ná die konsert deur Netwerk24 om kommentaar genader, maar het toe gesê dat hy op sy “eie tyd” sal reageer.

By tye het Chameleon opgehou speel as iemand foto’s van hom probeer neem het en dan gewag totdat hulle klaar is voordat die vertoning voortgegaan het.

Bles se Reik na die sterre

Tydens die konsert het hy aan die gehoor van sowat 30 mense gesê hy speel nie gewoonlik ander mense se liedjies nie, maar begin toe om Bridges se liedjie “Reik na die sterre” te sing voordat hy na ’n ander liedjie oorgeslaan het.

“My pa het my ma bevrug en daar kom ek toe te voorskyn en toe ek drie weke oud was, is my ma ’n enkelouer,” het hy aan die gehoor vertel. “Toe besef sy dat sy heeltemal op haar eie in die wêreld is. Albei haar ouers is dood voordat ek gebore is. Daar was geen infrastruktuur nie. Sy het ’n suster van wie sy vervreem is, sy het nie eers genoeg geld gehad om terug te gaan Kaap toe nie.”

Chameleon sê sy ma is in Moorreesburg gebore en “was ’n jong meisie in die Strand en ’n jong dame in die Kaap.

“So, jy weet hoe dit is: Daar is die see, die Kaap en die berg en dan is daar die Kongo – net daar agter die berg. My ma was ook so en toe sy weer sien, sit sy heel ander kant die berg in Sodom en Gomorra, in Johannesburg. Maar met ’n kombinasie van werksvermoë en selfdissipline kon sy tog vir ons ’n beskeie heenkome vestig, in ’n klein woonstelletjie op ’n besige straat.”

Bridges is in Maart 2000 in die ouderdom van 53 jaar in ’n motorongeluk dood. Hy is vroeër vandeesmaand in die SA Heldesaal by Sun City ingesluit.

Sy weduwee, Leonie, het in ’n SMS ná Chameleon se Facebook-plasing gevra “hoe sal ons ooit weet?” en gevra wie hy daarmee wil bykom.

Sunette se reaksie

Sunette Bridges, Bles se dogter, het op Facebook geskryf dat haar familie geen boodskap van Chameleon ontvang het nie “net ’n Facebook-inskrywing wat nou soos ’n veldbrand versprei.

“Ek lees Chris Chameleon se ‘hartseer’ verhaal weer en weer. Probeer sin maak daaruit. Ek gaan lees oor hom. Waar is hy gebore en wanneer? Ek sien hy is 13 maande jonger as ek.

“Gebore in Johannesburg in 1971. Waar was ons in 1971? Ons het in Rothdene naby Meyerton gebly. Ons was arm. My pa, Lawrence John Gabriël Bridges, het in ’n blou oorpak in ’n fabriek gewerk.

“‘Bles Bridges’ het toe nog nie eens bestaan buiten in my pa se drome en die sterre in sy oë nie.”

Meer oor:  Leonie Bridges  |  Chris Chameleon  |  Bles Bridges
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.