Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Christo Wiese gesels met Willemien Brümmer: ‘Ek sou Jooste wou vra: Hoekom?’
Christo Wiese maak vir die eerste keer sy hart oop oor Steinhoff, die korporatiewe skandaal wat hom 70% van sy rykdom gekos het. Willemien Brümmer was by hom aan huis in Clifton, Kaapstad.
Christo Wiese oor wat hy vir die mense sê wat vra of hy regtig nie geweet het nie: “As daai persoon wat die vraag vra reg is, dan is ek mos kranksinnig! Ek is verbysterd dat mense daardie vraag vra!” Foto: Jaco Marais

Christo Wiese se stem is afgemete. Hy weeg elke woord, want hy weet net één sinsnede kan die land, die finansiële markte en aandeelprys in beroering bring.

Hy antwoord die vraag wat nou al sedert Desember op almal se lippe is: Wat sê hy as voormalige voorsitter van Steinhoff se direksie vir mense wat sê hy móés geweet het van die knoeiery by dié maatskappy?

“Ek sê vir hulle as iemand vir my daai vraag stel, dan is één van ons twee sertifiseerbaar. Die vraesteller weet daar is vals state, maar ek sit my lewe se werk daarin? As daai persoon wat die vraag vra reg is, dan is ek mos kranksinnig! Maar ek is verbysterd dat mense daardie vraag vra.”

Hy kyk my waterpas in die oë. Die sakemagnaat wat ’n jaar Steinhoff se voorsitter was en nog twee jaar gelede die rykste man in die land was. “Ek sit daar met ’n besigheid (Pepkor) wat ek oor 50 jaar opgebou het. Ek het baie ander opsies gehad, maar ek verkies om daai besigheid se opbrengs te loop belê in ’n plek waar die state nie ’n korrekte weerspieëling is nie? Méér as dit. ’n Jaar later sit ek nóg R25 miljard in. Ons moet mos gek wees! Hoe was al die ander mense dan nie daarvan bewus nie? Al die voorafgaande direkteure, my mededirekteure, al die oudkomitees, die banke, die analiste . . . Hoekom was húlle dan nie daarvan bewus nie?” 

Kyk, ons moet almal doodgaan. As jy nou dink as sy nie kon stap of eet nie, dís mos nou nie ’n lewe nie.

Waar hy in ’n sitkamer vol keurige kunsskatte en skilderye deur onder meer Alexis Preller, Pierneef, Christo Coetzee en William Kentridge sit, het hy ’n ideale uitsig oor Clifton se vierde strand. 

Dis grou buite en die see is onstuimig. Die vorige aand net ná ses is sy suster Martha Hugo op 80 oorlede weens ’n beroerte. Dit was ook die dag waarop hy aangekondig het sy Titan-groep van maatskappye het ’n eis van R59 miljard teen twee Steinhoff-maatskappye ingestel. Die dag waarop hy eindelik sy stilte verbreek het.

Hy’s in stemmige swart en wit geklee en glimlag min. Hy vertel sag hoe hy sy suster Woensdag ’n paar uur ná die beroerte gaan sien het. “Sy’t ons almal herken, sy’t met ons gepraat, maar ek kon sien sy’s bang. Sy’s 80 en sy’t aan die huil geraak en gesê ‘ek was nog nooit in my lewe so siek nie’.”

Hy’s effe hees. “Ek sien dit só: Kyk, ons moet almal doodgaan. As jy nou dink as sy nie kon stap of eet nie, dís mos nou nie ’n lewe nie.”

Toe, gebiedend: “Anyway, genoeg daarvan.”

Christo Wiese saam met sy eerste kleinkind, Storm, wat op 9 Desember gebore is, drie dae nadat die storm in die Suid-Afrikaanse media losgebars het oor Steinhoff. Foto: Jaco Marais

Donkerste tyd in sy lewe

Sedert Desember verlede jaar het hy ook vir die eerste keer in sy lewe neerslagtig geraak. Tussen 6 Desember, toe die Steinhoff-bom in die Suid-Afrikaanse media gebars het, en 11 Desember, het die prys van Steinhoff-aandele byvoorbeeld met byna 85% gedaal. Sedert daardie dag het hy twee derdes, of 70%, van sy rykdom verloor. In die parlement het hy gesê 30 jaar van sy lewenswerk is tot niet.

“Weet jy, ek het vir Caro (sy vrou) al dikwels gesê dank die liewe Vader dat ek duidelik ’n soort robuustheid het; dat stres my nog nooit in my lewe laat voel het dat ek regtig ’n probleem het nie – maar ek het sleg begin slaap en . . .”

Hy dink na. “Maar ek sal vir jou sê, en dit sê ek onbeskaamd, dat dit definitief die donkerste tyd is wat ek in my lewe deurgegaan het.”

Hy knik. “Ek het vir die eerste keer in my lewe neerslagtig geraak.

Maar die lewe gaan sy gang, glimlag hy vir die eerste keer. “In daai donker tyd is my (eerste) kleindogtertjie gebore. Life goes on. Drie dae nadat die bom gebars het.”
Haar pa, Jakob, en sy vrou, Ty, het haar gepas Storm gedoop. 

In daai donker tyd is my (eerste) kleindogtertjie gebore. Life goes on. Drie dae nadat die bom gebars het.

Die glimlag word breër. “Dit laat al die ander goed na niks lyk nie. Dan sien jy goed in dáái perspektief.” 

Sy vrou en sy kinders (en sy banke en honderde mense regoor die wêreld) was dwarsdeur die krisis bankvas agter hom. Hul houding was doodeenvoudig: “Jy gaan net aan met jou lewe, jy’t ’n rekord, jy’t 53 jaar lank saam met honderde duisende mense groot besighede gebou waarby honderde duisende mense en eintlik miljoene klante gebaat het.”

Was dit die grootste krisis of teleurstelling van sy lewe? 

“Wel, dis sekerlik die mees openbare een en finansieel die skadelikste. Dít ongetwyfeld, maar iemand het my die vraag gevra: ‘Dink jy nou dit gaan jou legacy wees?’

“Jy weet, ek is nie veel gepla oor legacies nie, maar ek hoop maar mense sal kyk en ’n gebalanseerde siening hê. Luister, die ou het 53 jaar lank gewerk; hy het vir 200 000 mense werk gegee; hy het vooruitgang help skep en hy het hier en daar sy bydrae gemaak. Dís darem die hele prentjie.”

Amper die ergste van alles

Die minute tik voort. Wat is die een ding wat hom in staat gestel het om aan te gaan?

Wiese, wat nog nooit vantevore slaap verloor het oor enigiets nie, was vir die eerste keer in sy lewe neerslagtig nadat die Steinhoff-bom gebars het. Foto: Jaco Marais

“Wel, ek is ongelukkig nou nie ’n baie goeie Christen nie, maar ek is ’n gelowige mens en ek glo dat dinge gebeur soos (vooraf) bepaal. Iemand het vir my ’n interessante ding gesê en dis dat die Boeddhiste glo in jou lewe kry jy ’n sekere hoeveelheid ongeluk en in hierdie ding wat ek nou in die afgelope vier, vyf maande deurgaan en nog vir ’n hele ruk sál deurgaan, was die bemoedigende boodskap jy vreet elke dag ’n stukkie van daai ongeluk-periode weg soos ’n olifant.”

Maar op 76 het hy beslis nie meer dieselfde energie as wat hy 40 jaar gelede gehad het nie. “Destyds met die ineenstorting van die rand, die politieke onluste, al die goed wat gebeur het . . . dit sou vir my nie ’n minuut onrustige slaap gekos het nie. Jy’t energie, jy’t planne, jy’t kollegas, jy’t ondersteuners, maar jy’t hoofsaaklik energie. So dit is amper die ergste van alles dat dit op hiérdie stadium gebeur.”

’n Skop in die maag

Ons draai die horlosie terug na Maandag 4 Desember, twee dae voordat die Steinhoff-resultate vir die boekjaar tot einde September uitgereik sou word. Steinhoff kondig aan sy jaarstate sal steeds op 6 Desember uitgereik word, maar nie as geouditeerde state nie. Die toesighoudende direksie en die ouditeure het nog nie hul hersiening van “sekere aangeleenthede wat aan die lig gekom het ten opsigte van strafregtelike en belastingondersoeke in Duitsland” afgehandel nie. 

Dié aand stuur Markus Jooste, toe nog uitvoerende hoof van Steinhoff, ’n Duitse prokureur na hom (Wiese) met die nuus dat hy sy bedanking aanbied.

Wiese oor of hy besef mense is kwaad: “Natúúrlik, en met die volste reg gaan mense mos kwaad en bitter wees. Ek verstaan dit. Ek ook! Hoekom moet ek nou anders as ander mense wees?” Foto: Jaco Marais

Hy weeg sy woorde. “Wel, die aanloop van gebeure sal ek mettertyd vertel, maar dis een van die goed wat sensitief is. Maar ek sal jou sê dit was ’n skop in die maag toe daai man by my kom met daai boodskap. Hy was een van die Duitse prokureurs wat behulpsaam was met die forensiese ondersoek wat ingestel is deur die Steinhoff-raad na aanleiding van die Oldenburg prosecutors (wat nou al sedert 2015 moontlike ongerymdhede in die boekhouding en bedrog ondersoek).”

Op 6 Desember bel hy Jooste met die goedkeuring van die raad om te vra hy kom help om die chaos te beredder.  

“So dit was die laaste dat ek met hom gepraat het en ek het nooit daarna weer van hom gehoor nie.”

Het hy régtig nooit weer van hom gehoor nie?

Hy knik beslis. “Of gesien nie.”

En indien hy Jooste wél sou sien, wat sou hy hom vra?

“Nou moet ek versigtig wees, want onthou, daar is nog niks konkreet wat bewys wat hy gedoen het nie. Maar as die verslag nou uitkom soos wat almal nou verwag, sal ek net één vraag wil vra: Waarom? Wáárom? Dis al. Dan vra ek dit nie net namens myself nie. Daar is mos nou duisende mense wat slagoffers is. So vir wie ook al die skuldiges is, sal ek nét daai vraag wil vra: Waarom?”

Natúúrlik, en met die volste reg gaan mense mos kwaad en bitter wees. Ek verstaan dit. Ek ook!

En ja, dis maklik vir hom om homself te verwyt oor sy 2014-besluit om Pepkor, die maatskappy wat hy oor 53 jaar opgebou het, te verkoop en aandele in Steinhoff te kry. 

“Maar ek het dit gedoen op die beste advies, die beste inligting wat ek gehad het . . . Ek het dit oor ’n lang tydperk met al die mense wie se raad nodig is, wat daardeur geraak is, bespreek. As ek nou vandag die klok kon terugdraai, sal dit mos nou ’n wonderwerk wees as ek net daai ding uit my lewe kon haal en sê ek is terug waar ek in 2014 was.”

Tog dink hy, ten spyte van die eis wat as die grootste in die korporatiewe geskiedenis van Suid-Afrika beskryf word, nie Steinhoff is ’n maatskappy wat verdien om verwoes te word nie. “Dis nie ’n Enron waar daar net smoke en mirrors is nie. Dis nie ’n Bernie Madoff waar daar niks is nie. Daar is uitstekende besighede in daai groep en die meeste kom uit die Pepkor-stal uit.”

En ja, hy verstáán mense is kwaad. “Natúúrlik, en met die volste reg gaan mense mos kwaad en bitter wees. Ek verstaan dit. Ek ook! Hoekom moet ek nou anders as ander mense wees?”

‘Ek is altyd in die moeilikheid’

Hy wil nie antwoord oor hoeveel bates hy oorhet en of hy nou in die moeilikheid is nie. 

“Die antwoord is ek is altyd in die moeilikheid. Ek is in niks meer of minder moeilikheid nie. Ek is altyd aan die woeker.”

Moes hy en sy gesin hul lewenstyl ingrypend aanpas?

Christo Wiese in sy huis in Clifton. Foto: Jaco Marais

’n Wenkbrou skiet hemelwaarts. “Ons het nooit soos stralejakkers gelewe nie. Ek gebruik my vliegtuie vir my besighede, onder meer,” sê hy na aanleiding van berigte dat hy besig is om twee van sy luukse privaat stralers te verkoop en ’n ander een te koop.

“Ek het ’n Kalahari-wildreservaat en ek moet gereeld soontoe gaan en ek moet gereeld rondvlieg om by goed uit te kom. Mense praat van ’n stralejakkerlewe. Ons bly nou al 43 jaar hier. Ons het oor die 30 jaar in ’n bungalowtjie so groot soos hierdie vertrek gebly. In die Noordwes-Kaap (waar hy vandaan kom) is ons wars van vertoon, en my vrou veral. Sy wou haar lewe lank in ’n bungalow bly en nie ’n mansion nie.”

Ons sit in die middelste van drie argitekontwerpte houteenhede wat verbind word deur ’n swembad wat soos ’n Middeleeuse grag om die eiendom loop. Hy loer na sy goue Rolex. 
Die een ding wat hy geleer het uit die Steinhoff-debakel?

“Niemand is verseker van enigiets nie. Jy kan in die geskiedenis teruggaan. Hierdie en erger dinge het met beter mense as met my gebeur. Al wat jy moet doen, is jy moet besluit of jy op die negatiewe dinge in die lewe fokus waarvan daar baie is, en of jy op die positiewe wil fokus en wil probeer om dinge beter te maak.”

Daar’s ’n sweem van ’n glimlag om daardie bloubloed mond. “Wie sou nou ooit kon dink? Ek meen, ek kom uit die Kalahari uit en ek het vir my familie gesê as die waterkrisis nou so erg word dat ons nie drinkwater het nie, dan moet ons op die Kalahari-plaas gaan woon.”

Nou kan jy dínk iemand wat in die Kalahari in die droogte grootgeword het, wat altyd gesmag het na reën, kan tot op dáái punt kom?”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier